Ek wil hierdie getuienis oor my 10 kilometer Comrades midde in die grendeltyd geskiedenis van die wêreld so begin:
Ek het in 1983, na ‘n geweldige traumatiese gebeurtenis in 1981 in my lewe, wat plaas gevind het in die selfde tyd terwyl ek begin het om ál my sig te verloor, besluit dat daar eintlik vir my, as jy dit afsny tot op die been, net een van twee keuses is waaroor ek moet besluit;
Of ek gooi handdoek in en gaan maar net voort om te bestaan, óf ek begin aste ware met ‘n nuwe lewe.
Ek was toe reeds deur die liefdevolle genade van ons Here ‘n volgeling van Jesus Christus en het die gedeelte uit die Woord onthou wat ons Here my kort na my bekering gegee het:
ROM 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.
Toe besluit ek om iets aan te pak wat ek nog nooit gedoen het nie.
Op 36 jarige ouderdom besluit ek, dat ek gaan begin langafstand hardloop aanpak.
Dit het natuurlik sy eie uitdagings gehad in die sin dat ek nie in die pad alleen kon hardloop nie omdat ek nou heeltemal blind was.
Ek het dit opgelos met my gidshond en soms selfs met my wit kierie en as ek werklik langafstande wou hardloop, het ek die motor aan die passasierskant se veiligheidsgordel vasgehou en in die aand wanneer die myn se pad stil was, het my vrou dan bestuur en het ek langs die motor gehardloop en so my langafstande geoefen.
So het ek toe later baie maraton en ultra maratons gehardloop met ‘n paar gidse wat bereid was om saam met my die wedlope aan te pak.
Toe kwalifiseer ek in die laat 90tigs vir die Comrades en pak dit ook aan en val op 75 kilometer uit vanweë geweldige krampe en pyne in my bobene maar dit was altyd my begeerte om ‘n medalje van die Comrades te mag besit.
Ek was egter in Desember 1997 gediagnoseer met Melanoom kanker en na 15 maande se behandeling het ek nooit weer daarby uitgekom nie.
In 2017 op my 70ste verjaarsdag terwyl ek so aan my omstandighede dink met my nou oorlede vrou se demensie wat toe al so ver gevorderd was dat sy nie met my kon kommunikeer nie, het ek weer op die plek gekom waar ek gevoel het nou moet ek besluit, gaan ek van hier af net bestaan of gaan ek lewe en as ek besluit ek gaan lewe, moes ek iets daadwerklik doen om aan myself te bewys ek kies om aan te gaan met werklik lewe.
Toe besluit ek om my passie, naas my passie om vir ons Here te werk, naamlik om te hardloop weer te begin doen.
Ek het al êrens die volgende met my lesers gedeel maar ek moet dit net weer hier ook met jou deel.
Ek soek toe ‘n maraton klub om by aan te sluit en bel die Agapé klub en ‘n baie vriendelike man Hennie Venter antwoord.
Ek verduidelik aan hom dat ek blind is en graag wil aansluit maar dat ek ook net saam met ‘n gids sal kan hardloop.
Hy sê hy sal my ook altyd kom haal as hulle groep oefen en dan kyk ons of daar nie iemand is wat my pas hardloop en wat bereid sal wees om saam met my te hardloop nie.
Die eerste keer dat hy my kom haal is sy vrou ook in die motor en oppad na die groep praat ons so oor ons tye oor sekere afstande en Marix, Hennie se vrou, sê ons hardloop omtrent dieselfde pas en as ek wil sal sy probeer om my gids te wees en daardie dag ontdek ek ook ons Here het vir my een van die wonderlikste gidse gegee wat ek al gehad het.
Tussen Hennie en Marix het ek nou nie net ‘n wonderlike gids en vriend en vriendin nie maar ook is Marix die beste organiseerder vir wedlope waar ek aan deelneem.
Terug by die Comrades.
As gevolg van Marix en Lindie Strydom van Groot FM, dit is ook ‘n groot getuienis wat jy in die ‘Nuus’ afdeling van hierdie webtuiste kan lees, reël ons Here dat daar ongeveer twee weke voor die grendel staat vlak 5 status maar ons het dit toe nog nie geweet nie maar ons Here het dit natuurlik geweet, lewer hulle ‘n baie goeie treadmill by my en my vrou Lynette met wie ek nou getroud is, se woonstel af en ek kon nog steeds my tweede grootste passie naamlik langafstand hardloop uitlewe.
Marix my wonderlike gids kontak my by geleentheid en vertel my dat ons nou, om dit so te stel, wedlope deur die internet kan hardloop.
Jy hardloop met ‘n horlosie wat deur die internet met die organiseerders van die wedloop verbind is en as jy die wedloop voltooi het in die pad of om jou huis ens, sien die organiseerders dadelik hoeveelste jy gekom het.
Omdat ek blind is en ook nie met ‘n gids kan hardloop nie, omdat ons mos die sosiale afstand moet handhaaf as ons hardloop, gee die organiseerders vir my en ander blindes die wonderlike opsie om dit op ‘n treadmill te doen en as ek die afstand gehardloop het, neem my vrou net ‘n foto van die treadmill se skerm en Marix stuur dit aan die organiseerders met wie sy klaar alles gereël het en hoe heerlik, ek kry my medalje.
So kom dit toe dat die organiseerders van die Comrades weens die pandemie in die wêreld ook nie die Comrades soos altyd kon aanbied nie maar ook ons die geleentheid gee om deur die internet deel te neem en een van die opsies is om ‘n 10 kilometer te doen.
So, toe kon ek die volgende groot heerlike wonder in my eie lewe belewe.
Ons Here het deur Marix wat my in geskryf het en haar man – want Hennie het my treadmill vir my kom opstel en gekyk dat hy mooi reg werk – dit so bewerk, dat ek naas ‘n hele paar wedlope toe tog ook by al my medaljes uit die verlede, ‘n medalje met die Comrades embleem op in my versameling mag hê.
My vrou Lynette het daardie dag kort-kort by my treadmill kom staan en my al die inligting op die skerm gegee en ook as sy besig was met iets anders elke keer dadelik gekom as ek haar gevra het om iets op die skerm vir my te kom lees. Sy het ook sommer lank voor die tyd gereed gestaan om die foto te neem as ek by die 10 kilometer afstand uitkom en met haar aanmoediging hardloop ek toe sommer daardie dag in my 73ste jaar op 4Jullie 2020 my vinnigste 10 kilometer wedloop vandat ek weer begin hardloop het en ek kon so ook ‘n medalje met die Comrades embleem kry.
Ek deel nog net die volgende met jou.
Ek het altyd in wedlope vir van my gidse in die verlede gesê, my huidige gids is heeltemal te fiks, dat ek dit vir haar kan sê:
“Ons stap as jy wil stap maar moet net nie gaan staan nie, want dan word jy vinnig styf.”
Net so gaan dit in die lewe:
“Stap as jy nie meer kan hardloop of draf nie maar moet net nie gaan staan nie, want dan word jy lewens-styf.”
As jy in jou lewe geestelik styf word, is dit baie moeilik om weer aan die gang te kom en soms vir baie mense nie meer moontlik om weer te begin beweeg nie.
Kom jy en ek jubel dit uit met my groot Held Paulus se woorde:
1KOR 9:26 Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ’n bokser wat met elke hou tref. 27Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees.
Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie.
Om dan ook eendag soos my groot held Paulus aan die einde van ons lewe hier op aarde dit uit te jubel:
2TIM 4:7 Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.
2TIM 4:8 Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.