Ek het deur die liefdevolle genade van ons Here die groot voorreg gehad om op Saterdag 25 Mei die 11de 10 kilometer Cosmo Run saam met Marix Venter, volgens my die beste gids in die wêreld, gedoen.
Ek het besluit om van nou af net in wedlope as ‘n stapper in te skryf en Marix met haar so mooi gesindheid, wat eintlik nie ‘n stapper is nie, het gesê sy sal ook my stapgids wees.
Toe ek haar Woensdagaand 22 Mei skakel om te hoor hoe laat sy en Hennie, haar man, my Saterdagoggend sal kom optel vir die wedloop, want hulle kom haal my voor elke wedloop en neem my weer na die wedloop huis toe, vertel Hennie my dat Marix na werk ‘n 10 kilometer gaan stap het, om te sien hoe dit voel.
Ek het mos gesê ek het die beste gids in die wêreld.
Dit was ‘n baie moeilike begin van ‘n wedloop vir ons en ook ‘n moeilike einde as gevolg van die volgende redes:
Die wedloop het in die botaniese tuine begin.
Die botaniese tuine is natuurlik nie eerstens ingerig vir wedlope nie en verseker nie, ingerig vir iemand om ‘n persoon met gesigsgestremdheid te akkommodeer nie maar Marix het haar uitstekend van haar taak gekwyt en ons het nou wel aan die begin nie te vinnig kon stap nie en aan die einde ook weer stadiger as gewoonlik moes stap maar met die liefdevolle genade van ons Here en Marix wie Hy as gids my pad langs gestuur het, het dit, om dit so te stel, sonder slag of skoot klopdisselboom gegaan..
Baie dankie dat jy my webtuiste besoek het en terwyl ek hierdie getuienis geskryf het, het die volgende twee gedeeltes uit ons Here se Woord in my hart opgekom, waarmee ek dan hierdie skrywe aan jou wie hier gelees het wil afsluit.
Dit is ‘n kragtige boodskap in 3 verse, aan jou en my vir hierdie tyd waar ons in lewe:
1KOR 15:57 Aan God kom ons dank toe – Hy wat aan ons die oorwinning oor die sonde en die dood gee deur Jesus Christus ons Here!
1KOR 15:58 Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, (al kan jy dit net deur die voorbeeld van jou lewe doen) want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd.
HEB 2:1 Ons moet dus baie styf vashou aan die boodskap (dit is die evangelie van Jesus Christus uit Sy kosbare Woord) wat ons gehoor het sodat ons tog nie dalk wegdryf nie.
Groete,
Sakkie