GETUIENIS VAN 10KM WEDLOOP –  IRENE FARM RACE OP 26 OKTOBER 2024

Ek het die wonderlike liefdevolle genade van ons Here gehad om op die 26de November ‘n 10 kilometer wedloop saam met my gids Marix Venter te doen.

Sy en Hennie haar man, het my die Saterdagoggend by my woonstel kom haal en weer na die wedloop by my woonstel besorg.

Ek is nou nie meer ‘n drawwer nie, maar amptelik ‘n stapper en so skryf ons ook nou altyd my in.

My gids Marix is eintlik ‘n drawwer maar sy, met haar mooi gesindheid, doen eenmaal ‘n maand ‘n wedloop saam met my waar sy maar ‘n bietjie stadiger die 10 kilometer moet aflê en dit met so ‘n mooi gesindheid saam met my doen.

Ek deel met jou die volgende uit ons Here se Woord terwyl ek onthou, hoe heerlik dit vir my gewees het om so saam met baie ander mense aan die wedloop kon deelgeneem het.

Dit was so ‘n heerlik wonderlike oggend en ek het weer die grootsheid, eintlik in my mensheid net ‘n baie, baie klein ietsie van ons Here se grootsheid ervaar – maar vir my was dit in my hart oorweldigend en toe herinner ons Here se Heilige Gees my weer, terwyl ek so aan alles van die oggend dink,  in my hart aan die volgende en ek wil dit sommer vir die groot heerlike vreugde in my hart ook met jou deel:

PSALM 19:2-4 

2 Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.

3  Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan:

4  daar is geen spraak en daar is geen woorde nie—onhoorbaar is hulle stem. (wat dit uit jubel: “kyk net om jou en sien die grootse grootheid van jou God!”)

Lees net hoe raak my groot held Paulus in vervoering as hy oor ons Here dink en ons Here se grootsheid in sy binneste ervaar:

ROM 11:33-36 

33 o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!

34  Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?

35  Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?

36  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.  Amen.

Ek dink so aan al hierdie dinge en dan wil ek ook saam met Koning Dawid dit uitjubel:

PSM 9:2 Ek wil die HERE loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel.

PSM 9:3  In U wil ek bly wees en juig; ek wil psalmsing tot eer van u Naam, o Allerhoogste,

Groete,
Sakkie