Ek deel graag hier met jou ‘n paar foto’s wat die fotograaf by die Gidshond-vereniging geneem het van ons wie die 14 dae opleiding met ons nuwe gidshonde gehad het.
Vir diegene wat onlangs aangesluit het, ons Here voorsien in Sy goedheid vir baie jare al vir my ‘n gidshond wat deur die Gidshond-vereniging opgelei word, waarvoor ek innig dankbaar is. Elke 10de jaar egter, tree ‘n gidshond af.
My vorige, so getroue gidshond ‘Pedro’ het amptelik by my afgetree op Maandag 10 Maart 2025.
Vir meer as 10 jaar het hy my oor baie paaie en deur baie situasies gelei.
Hy het vir 7 van die 10 jaar wat hy by my gewees het, met ons Here se liefdevolle genade, my gehelp om deur daardie 7 mees skrikwekkende jare van my lewe te kom, nadat my vrou vanweë dementia so agteruit gegaan het, dat sy my later nie meer herken het nie, totdat sy op 27 April 2019 na Jesus verhuis het.

Vir daardie 7 jaar het Pedro my onder elke weersomstandighede na Cornelia geneem en vir 5 van daardie 7 jare het ons elke dag 5.9 na die Tehuis waar sy versorg is, gestap – en dan weer 5.9 kilometer terug gestap.
Nou is daardie seisoen in my lewe verby en begin ek ‘n nuwe seisoen in my lewe met my nuwe gidshond, ‘Wilson’.
Ek het die 14de Maart 2025 met my opleiding saam met Wilson begin en het die kursus die 29ste Maart voltooi.
Wilson sal die 10de April 2 jaar oud wees en ek glo ons gaan sommer heerlike tye saam hê.
In my 14 dae opleiding saam met hom, het ek soms taamlik drooggemaak, maar hy het dit hanteer in die gees van:
“Toemaar, ek weet jy is nog vreemd langs my maar jy gaan nog regkom en my ten volle vertrou.”
Dan, met dié dat ek weet, dat ek en my nuwe gidshond Wilson, baie op die pad gaan wees, het die volgende – wat ‘die pad’ aanbetref – in my hart opgekom wat ek dan ook nou met jou wil deel:
Kom jy en ek maak elke dag in ons lewe seker, dat ons op ons pad na ons ewige tuiste al die tyd op die ‘nou weg’ bly:
MAT 7:13 Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
MAT 7:14 Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.
Laat ons onthou, dat Jesus al die pad met, en ín ons is – en laat die tragedie van die vyeboom nie ook deel van ons lewe word nie.
Onthou jy?
Ek deel dit net weer gou met jou:
MAT 21:18 En vroeg in die môre toe Hy teruggaan na die stad, het Hy honger gehad;
MAT 21:19 en Hy sien ‘n vyeboom langs die pad en gaan daarnatoe; maar Hy het niks daaraan gevind nie as net blare alleen; en Hy sê vir hom: Laat daar uit jou tot in ewigheid nooit weer ‘n vrug kom nie! En onmiddellik het die vyeboom verdroog. (en so vir ewig tot niet gegaan)
Iemand kan nou vra:
Is dit darem nie so ‘n bietjie onregverdig van Jesus, om die vyeboom, om dit so te stel, te vervloek nie?
Want ons lees dan in Markus van hierdie gebeurtenis:
MRK 11:12 En die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad;
MRK 11:13 en toe Hy op ‘n afstand ‘n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.
Maar weet jy – dit was juis die verskriklikheid in daardie vyeboom se lewe. Hy het aste ware aan die wêreld verkondig:
“Kyk na my, dit is nog nie eens vyetyd nie en ek dra al vye. Dit is hoe goed ek is.”
So baie Christen-mense praat sulke, om dit so te stel, Christen-wees-blare-praatjies.
Ja, hulle is so vol Christen-wees-blare – maar as Jesus soek, dan kry Hy net Christen-wees- blare maar geen Christen-wees vrugte nie.
Daar is natuurlik een groot verskil tussen jou en my as Christen, en die vyeboom wat verewig vervloek was:
Jesus het vir ons op Golgota aan die kruis gaan hang en Sy kosbare bloed vir ons gestort.
So, miskien is jy vandag en in jou hart sê ons Here dit ook vir jou, dat jy op die oomblik in jou lewe aste ware, net in naam ‘n Christen is.
Vol Christen-blare maar Jesus en ook nie die mense om jou, kan werklik Christen vrugte sien nie.
Anders as die vyeboom, sê die Woord – en nou spesiaal vir jou wie met daardie wete hier lees:
1JHN 1:6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.
1JHN 1:7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; (want ons het nie net blare nie maar Jesus en die mense om ons sien ook die vrugte van die Heilige Gees aan ons) en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.
EFE 1:7In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,
KOL 1:14in wie (dit is Jesus) ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.
So, al wat jy sommer nou kan doen net hier waar jy hierdie ‘Gedagte uit die Woord’ lees, is om in alle opregtheid vir ons Here te vra, om jou te vergewe dat jy net blare van bekering gedra het – maar dat jy van nou af nie net blare van Christen-wees wil dra nie, maar dat Jesus en die mense om jou ook die vrugte van die Heilige Gees by jou sal vind en dan noem jy ook gereeld van vandag af aan jouself hierdie vrugte:
GAL 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Groete,
Sakkie



