
GETUIENIS OOR DIE 10 KM WALLY HAYWARD OP 1 MEI 2025
Ek deel graag met jou hierdie foto’s en getuienis oor my Wally Hayward 10 kilometer wedloop op 1 Mei 2025, waarmee ek my 78ste verjaarsdag van die vorige dag, naamlik 30 April gevier het.
My gereelde baie goeie gids Marix Venter en haar man, wou graag die Wally Hayward 21 kilometer wedloop hierdie jaar doen en ek moes toe ‘n ander gids kry om saam met my die 10 kilometer wedloop te doen.
Ons Here reël dit toe so, dat ek die wedloop saam met Kylie van der Merwe kon doen.
Haar ma, Lanti, en ek is al vir baie jare vriende en toe Lanti hoor ek het ‘n probleem, noem sy vir my van haar dogter wat ook padwedlope doen en so kom Kylie en ek toe by mekaar uit.
Kylie was ‘n wonderlike gids. Meer nog so, as jy onthou, dat ons mekaar vir die eerste keer op die oggend van die wedloop, met duisende mense om ons ontmoet het, en dit die eerste keer is wat Kylie vir ‘n blinde ‘n gids op ‘n wedloop is.
Noudat ek daar aan dink –
Ek wonder of sy al ooit in haar lewe voor daardie oggend ‘n blinde êrens heen moes lei en hier moes sy dit toe vir 10 kilometer doen, terwyl ons al die tyd tussen mense deur moes beweeg, wat almal ook net een doel voor oë het en dit is om die wenstreep te bereik en die meeste mense net dit in gedagte het.
Sy het werklik my so mooi gelei, dat ek by een geleentheid vir myself gesê het, dat sy – as ‘n mens nou nie anders geweet het nie – sou kon dink, sy is ‘n ou hand in die gids-wees van ‘n blinde pad-atleet.
Nou terwyl ek hier skryf, dink ek nou ook weer aan daardie gedeelte in die Woord, waarin Kylie op 1 Mei absoluut uitgestaan het naamlik:
GAL 6:2 Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.
Veral aan die einde op die gras na die einde toe, het sy my nie net baie mooi gelei nie maar my deurentyd op hoogte gehou van ons tyd en al die tyd ook onthou om vir my te noem wanneer ons moet draai en na watter kant toe:
EFE 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; …
Al hierdie dinge deel ek met jou net om weer te demonstreer hoe wonderlik ons Here vir ons, Sy kinders is.
So, volgende keer as jy in die een of ander moeilike situasie is. vra in die geloof in alle opregtheid vir ons Here en as jy werklik vra volgens Sy wil, glo vir my, dan sal Hy in daardie situasie vir jou net die beste gee. Want Hy sê mos in Sy Woord:
1JHN 5:14 En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.
1JHN 5:15 En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.
Groete met Jesus liefde mooi loop en baie dankie, dat ek hierdie met jou kon deel.
Sakkie Parsons



