‘n Paar jaar gelede het ek ‘n Christelike konsert bygewoon. So in die helfte van die konsert het die seremonie meester op die verhoog gestap en die volgende aangekondig: “Nou gaan klein Daphne vir ons sing en julle weet Daphne is net vyf jaar oud.”
Die vyf jarige Daphne het op die verhoog gestaan en gesing van die mooi berge en die mooi blomme en terwyl sy so sing, stamp iemand aan my en fluister: “Die dogtertjie is blind.”
Terwyl ek so na haar luister, dink ek daaraan, dat sy sing met soveel gevoel asof sy reeds die berge en die blomme gesien het, asof sy ‘n studie van die mooi berge en blomme gemaak het. Die klein blinde vyfjarige dogtertjie het ‘n reuse indruk op my gemaak.
Na die byeenkoms, terwyl ons na buite stap, loop ons verby ‘n paar mans wat staan en kla oor die brood en brandstof prys wat weereens gestyg het. Ek hoor hoe die een kla oor hoe brood ‘n basiese voedsel is en waarvan moet ‘n mens dan lewe. Die ander man kla weer oor hoe gaan ‘n mens oor die weg kom as jy nie eens meer met jou motor bietjie kan rondry nie, as gevolg van die styging in die petrol prys.
Die gesprek het my ontstel, want ‘n paar minute gelede het ‘n blinde dogtertjie vir hulle gesing van mooi blou berge en blomme wat sy nog nooit gesien het nie, maar sy sing met soveel lof asof sy elke dag kan sien en waardeer.
Jy sien ek het oor twee redes ontsteld geword. Eerstens omdat hulle nou net al die mooi dinge gesien en gehoor het in die Christelike konsert en tweedens omdat hulle belydende Christene is en die vermetelheid het om te kla. Hier staan hierdie groot Christene met hul mooi pakke klere en netnou gaan hulle in hul blink motors klim en na hulle huise terugkeer en almal het gesonde liggame en hulle staan en kla.
As ek dus sou kla, sê ek mos: “ My God en Verlosser kyk nie mooi na my nie.” Jy sien, as jy sê dat jy ‘n Christen is, dan bely jy dat jy ‘n kind van God is en daarom sal God ook na sy kinders omsien. Hierdie mans wat bely dat hulle kinders van God is, getuig nou aan die wêreld, dat God nie mooi na hulle kyk nie.
Hulle kan in die lug op kyk en die wolke en die reënboog bewonder. Daphne weet nie eens hoe lyk die huis wat sy in woon se dak nie.
Hulle kan in hul blink motors klim en ry waarheen hulle wil maar as Daphne op ‘n vreemde plek iewers heen wil gaan moet sy iemand vra om haar te neem.
Hulle kan met die vinger wys na iets mooi wat hulle in die verte sien maar Daphne se horison strek net tot by die punte van haar vingers.
Tog sing Daphne van die mooi berge en blomme wat God ons gegee het om te geniet en hierdie mans kla vir almal om te hoor, hoe sleg God na hulle kyk. Ons as Christene kan so maklik die verkeerde boodskap aan die wêreld verkondig deur wat ons sê en doen.
My God het my gemoedstoestand gesien en toe kom Hy in sy groot liefde en gee my die lied se woorde en wysie:
“Sy staan op die verhoog en sy is vyf jaar oud, net ‘n bondeltjie kind,
maar sy sing met opregtheid van die mooiheid in die lewe en jy weet, – sy is blind.
Maar sy dwing jou na die spieël toe en sy dwing jou om te kyk
en jy sien hoe dat ondankbaarheid van naby af lyk.”