Jare gelede het ek ‘n vriend gehad. Ons was na my mening baie na aan mekaar. Op daardie stadium was ek Jeugleier en ook Diaken. Ek het hom toe gevra, omdat ek geweet het dat dit sy begeerte gewees het en omdat ek kon sien dat ons twee goed sou saamwerk, om lid van die Jeugraad te word. Dit was toe ook so en ons het net nog nader aan mekaar beweeg. Nog meer so, omdat hy net skuins oorkant my kom woon het. Toe kom hy eendag na my toe en sê vir my dat hy gaan trek en toe ek hom vra hoekom, sê hy vir my, dat hy gehoor het, dat daar swart mense langs hom gaan intrek en hy gaan nie langs swart mense woon nie. Ek vra hom toe, hoekom hy nou wil optree soos iemand wat dink hy is beter as God. Hy vra my toe om te verduidelik wat ek bedoel en ek gee toe vir hom die volgende antwoord.
God is bereid om in daardie mense wat langs hom kom woon te woon en hy is nie eens as kind van God bereid om langs hulle te woon nie.
Hy is toe uit die gemeente en weg van Rustenburg af. Terwyl ek eendag so op my kitaar sit en tokkel, dink ek aan hom en so baie mense wat met die soort probleem in een of ander variasie in hul harte rondloop en toe gee ons Here vir my hierdie lied.