Hierdie lied het ‘n hele paar jaar gelede ontstaan.
Ek was destyds Jeugleier in Rustenburg by die gemeente waar ek aanbid het.
Daar word toe ‘n Christelike talente kompetisie gereël op ‘n konferensie waar ‘n hele aantal gemeentes saamgetrek het. In die spesifieke gemeente waar ek aanbid het, was daar nie aan die begin ‘n groot belangstelling onder die jeug om aan aktiwiteite soos die Christelike talente kompetisie deel te neem nie.
Terwyl ek eendag so met my kitaar sit en tokkel en dink aan die opdrag wat ek gekry het oor die program wat ek namens ons gemeente moes organiseer, begin my gedagtes wandel oor hoe moeilik is dit om vandag se jeug betrokke te kry. Ek het so bietjie moedeloos begin raak, want die tyd het begin min raak voor die kompetisie en my moedeloosheid kom duidelik na vore as jy na die begin van die liedjie kyk, maar dit was die begin van die ontstaan van die lied. So het my dogter toe ook die lied op die konferensie gesing.
Wat veral op my ‘n indruk gemaak het van die lied se woorde, soos ek dit by ons Vader gekry het, was die laaste lyn van die laaste vers. Ons moet uit ons gemaklike, beskermde Christen kring uitbeweeg en vir Jesus gaan werk. Een van die kenmerke van ‘n wáre Christen, is dat hy of sy ‘n siele las het. ‘n Groot behoefte om mense vir Jesus te wen.