Ek het ‘n man geken wat baie selfvoldaan was. Hy was ook baie wreed met ‘n baie kort humeur en het gesukkel om in God te glo. Hierdie man was ook ryk en het in weelde geleef. Dit het ook goed gegaan in sy besighede. Direk teenstellend met die man se persoonlikheid was sy vrou saggeaard, barmhartig en het God gedien.
Op ‘n dag het die vrou vir my en my gesin genooi om by hulle te kom kuier. Die aand terwyl ons langs die nuwe swembad staan en gesels het ek met hom oor God begin gesels, waarop hy vir my gesê: “…as jy vir my jou God kan wys sal ek in God glo.”
Ek was natuurlik skoon oorbluf en stomgeslaan oor die man se arrogansie . Nog voordat ek aan iets kon dink om te sê het hy klaar weer begin vertel hoe groot die erf is en watter verbeteringe nog aan die huis gedoen gaan word en dat die boom langs die swembad uitgehaal moet word as gevolg van die blare wat die boom in sy swembad mors. Terwyl hy nog so gesels en my aandag vestig op die boom hoor ek hoe die wind saggies deur die blare ritsel en God die woorde in my hart kom sit. Ons Vader sê mos dat Hy vir ons die regte woorde sal gee wanneer dit nodig is.
Omdat die man nog lewe, gee ek hom die fiktiewe naam; Ben.
Die eerste vraag wat ek toe aan Ben stel is, wat laat die blare van die boom ritsel? Waarop hy antwoord, “..die wind natuurlik.”
Ek vra hom toe, hoe weet hy dat dit die wind is en kan hy dan die wind sien? Hy antwoord toe hy kan nie die wind sien nie maar hy kan sien hoe die wind die blare laat beweeg. Waarop ek toe kon reageer en hom daarop wys, dat hy nie eers vir my die wind kan wys nie maar hy wil hê ek moet vir hom God wys, wat hom gemaak het en die wind gemaak het. Ons kan nie die wind sien nie maar ons kan sien wat die wind doen en ons kan die wind voel. Ons kan nie eers in die son in kyk wat God gemaak het nie.
Net so kan ek ook God se werk in en om my lewe sien, net so kan ek God in en om my voel.
Die gesprek wat ek en Ben gehad het, het by my gespook en hierdie lied was die eindresultaat.