MOET EK OPHOU BID VIR IEMAND WAT NIE IN JESUS WIL GLO NIE?
Sakkie Parsons
Iemand skryf aan my en vertel my van ‘n ateïs vir wie sy al vir jare bid en die evangelie deel, maar die persoon bly maar glo soos wat hy glo en nou wil sy weet of sy maar moet ophou bid en die evangelie met hom deel.
Ek het ook so tussen die lyne gelees, dat sy graag hulle vriendskap meer as net ‘n platoniese vriendskap sou wou hê en ek deel met jou my antwoord aan haar. Want miskien ken jy iemand wat dalk in dieselfde soort vriendskap verhouding is.
My antwoord is natuurlik presies dieselfde, sou dit ‘n man gewees het wat aan my geskryf het.
Hier dan volg my antwoord aan die persoon:
Eers voor ek enigsins verder gaan –
NEE, natuurlik behoort ons nie op te hou bid vir mense wie ons sien se eindbestemming op die oomblik die hel is nie. Die plek waar hulle soos dinge nou in hulle lewe staan, die ewigheid gaan deurbring is net te verskriklik om eens aan te dink, om hulle net so toe te laat om ongewaarsku op daardie verskriklike afgrond af te storm.
Dink net –
Om vir ewig die verskriklikste dood te sterf en tog nooit, tot in aller ewigheid te sterf nie en jy weet dit ook, al die tyd wat jy hierdie verskriklike omstandigheid besig is om te sterf, dat jy nooit gaan sterf nie.
Ek deel dan nou graag met jou wat in my gedagtes opgekom het nadat ek jou skrywe aan my gelees het.
Soos ek genoem het –
Natuurlik moet ons nie ophou om vir hulle te bid nie en ons hoef ook nie op te hou om aan hulle die evangelie van Jesus te bring nie – maar ons moet in hoofsaak ons wyse van die evangelie aan hulle bring net so effe verander.
Jy het vir die persoon nou al oor ‘n lang tyd alles meegedeel oor die evangelie van Jesus. So die persoon is wat dit aanbetref nie onkundig nie.
Jy het ook al die tyd dat jy dit gedoen het vir die persoon laat verstaan, dat jy ‘n Christen is. Wel dan nou, laat hy of sy dan nou baie duidelik in en deur jou lewe die familie-ooreenkoms tussen jou en Jesus sien.
Met ander woorde baie, baie meer van “walk the walk” en baie, baie minder van “talk the talk.”
Dan sal die persoon in en deur jou die evangelie sigbaar sien – en saam daarmee word die volgende uit ons Here se Woord dan waar in sy of haar lewe:
ROM 10:20 En Jesaja durf selfs sê: Ek het My laat vind (as gevolg van jou optrede)deur die wat My nie gesoek het nie; Ek het verskyn (deur jou en wat hy/sy deur en in jou optrede gesien het)aan die wat na My nie gevra het nie.
Nou eers weer terug by jou, wat as jy dalk emosioneel betrokke is, in geestelike doodsgevaar verkeer as gevolg van satan wat net wag vir ‘n opening om jou geestelik te verskeur en te verorber.
Ek weet nie hoe jy in jou hart oor die vriend van jou dink nie maar ek kan verseker met jou die volgende uit ons Here se kosbare Woord deel:
Die eerste wat ek altyd vir mense sê – en ek sê nou nie dit is wat jy wil weet nie, maar dan het jy dit vir as jy dalk van iemand weet wat dit behoort te hoor en dit is:
Moet nooit jou hart vir iemand gee, as jy nie reeds met sekerheid weet dat daardie persoon sy of haar hart aan Jesus gegee het nie.
Dit is ‘n resep vir die afgryslikste tragedie.
Daarom sê ons Here ook vir ons baie duidelik deur Sy Woord:
2KOR 6:14-16
14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
15 En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?
16 Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
Ek verkondig die evangelie van Jesus al so ver ek kan onthou vir 53 jaar en persoonlik weet ek nie van een so ‘n – en kom ons noem dit nou maar – ‘n kruisbestuiwing wat gewerk het nie.
Die enigste gevalle wat ek beleef het wat op die oog af gewerk het, omdat die huwelik oënskynlik gelukkig was, is waar die gelowige maar aste ware oor tyd, sy of haar geloof prysgegee het – en persoonlik kan ek my nie aan ‘n groter tragedie indink as dít nie; dat iemand vir ‘n oogknip, as jy dit met die ewigheid vergelyk, jou verbind het aan iets wat jou vir ewig in die verskriklikste skrikwekkende omstandighede gaan laat beland nie.
Ek het dit al gekry, dat iemand vir my sê, en gewoonlik in my ondervinding was dit ‘n dame wat dit gesê het:
“Ek sal hom deur met hom te trou na ons Here lei.”
My antwoord daarop is dan:
Daar is baie bedieninge in die Woord wat vir ons gegee word om te help om mens na Jesus te lei – maar die huwelik is nie een so ‘n bediening wat vir ons gegee word om mense na Jesus te lei nie.
Net ‘n laaste gedagte.
Daar kom natuurlik ook ‘n tyd, dat ‘n mens moet sê:
Nou het ek werklik alles gedoen wat ek van my kant af kan doen en dit is tyd om aan te beweeg in my verkondiging van die evangelie.
Jesus stel dit by geleentheid so:
MAT 10:11-15
11 En in watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is, (of dan wie na julle sal luister) en bly dáár totdat julle vertrek. (Dit is, deur die Heilige Gees gelei word, om aan te beweeg)
12 En as julle die huis ingaan, groet dit;
13 en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer.
14 En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af.
15 Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.
Hoekom sal dit uiteindelik vir byvoorbeeld Sodom beter wees as daardie mense wat nie na julle wou luister en hulle bekeer nie?
Wel dit is eintlik ooglopend –
Sodom byvoorbeeld, se smart het menslik gesproke gekom maar ook gegaan.
Terwyl hulle wie nie hulle harte vir Jesus wou oopmaak nie se skrikwekkende smart vir ewig gaan aanhou en aanhou en aanhou.
Wat jy en ek ook moet onthou, wanneer ons met mense oor Jesus se liefdevolle evangelie van reddende genade deel, is hoe Jesus ons sien terwyl ons namens Hom Sy evangelie met mense deel – en ons onsself ook so moet sien en daarvolgens moet handel:
MAT 10:16 Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.
Groete,
Sakkie