MY ANTWOORD OP DIE LEUEN – DEEL 1

MY ANTWOORD OP DIE LEUEN – DEEL 1

Sakkie Parsons

Hier volg my antwoord op die leuen wat verkondig word dat die Evangelie van Jesus Christus ‘n leuen is.

Sover my kennis strek, het al die mense wat deel gehad het aan die skrywe en eerste verkondiging van  hierdie Evangelie, geweldige ontberings gely en het feitlik almal op die ou end met hulle lewens betaal vir dit wat hulle verkondig het.
Dit, terwyl hulle net stil-stil na die kruisiging met hul omgewing kon saamgesmelt het.
Een van die enigste persoon wat sover my kennis strek, ‘n natuurlike dood gesterf het, was Johannes en hy het ook maar ‘n harde tyd gehad.  Veral toe hy ‘n gevangene op Patmos was, waar ons Here ook vir hom die boek Openbaring gegee het.

Dink ‘n bietjie hieroor –
Sal jy of enige ander mens na jou mening as volg optree:
Sal jy na die vernedering, mishandeling en kruisiging van jou leier, aste ware uit jou pad gaan om raakgesien te word terwyl jy vir almal wat wil luister ‘n leuen vertel, wat jy weet jou dood kan kos?
Sal jy help om ‘n leuen te verkondig, wat jou niks as net ontbering in die sak bring nie?
Sal jy volhou met daardie leuen al sê hulle, dat hulle jou wreed gaan doodmaak omdat jy hierdie leuen glo en verkondig?
Sal jy aanhou met daardie leuen, totdat hulle dan ook doen wat hulle gesê het dat hulle gaan doen, al is daar ‘n wesenlike gevaar dat een van die ander samesweerders tog gaan knak onder die druk en met die hele sak patats gaan uitkom en sodoende jou gaan uitwys as ‘n valse getuie en jou wrede dood heeltemal nutteloos gaan maak?

Wel, dit is presies die belaglike onsinnigheid wat diegene wat beweer dat die Evangelie van Jesus Christus vals is, wil hê dat iemand soos jy en ek wat ‘n gesonde verstand het, moet glo.

Want as die Evangelie van Jesus Christus vals is, is dit presies wat moes gebeur het. Maar hoe onsinnig en belaglik dit ook al is wat jy nou gelees het en wat hulle wil hê dat ons moet glo is dit nog nie die einde nie!

Dink ‘n bietjie hieroor:
Onthou nou, daar word van ons verwag om te glo dat ‘n hele klomp mans en vroue, die meeste tot die dood toe sonder uitsondering, so opgetree het soos wat ek jou nou vra:
Sou jy nog by dit alles, wat jy nou gelees het, verder dit dwarsdeur die leuen laat uitstaan het, dat jy en jou mede samesweerders, feitlik deurentyd die vark in die verhaal was?  In die sin, Toe julle by julle Leier moes staan, julle die vlugtende lafhartige swakkelinge, wat julleself van hom gedistansieer geword het.
Ja, sal jy waaragtig werklik tot daar waar hulle jou wreed doodmaak, staan by die egtheid van die leuen, wat insluit hoe lafhartig, kleingelowig en treurige volgelinge jy en al jou mede samesweerders van jou Leier gewees het?
Wat my aanbetref, kan net iemand wat geen kennis van die mens se natuur het nie, so ‘n belaglike storie glo maar omdat dit nie ‘n leuen is nie maar letterlik die Goddelike waarheid is, is dit presies wat Sy volgelinge verkondig en gedoen het.

Nie net het dit net so gebeur nie maar sonder die luuksheid van e-pos en selfone, sodat hulle mekaar kon ondersteun, het hulle, nadat hulle oor die hele wêreld verjaag was en sommige van hulle mekaar waarskynlik nooit weer gesien het nie, tog almal tot die dood, ja, tot van die wreedste vermoordings wat jy aan kan dink, die selfde verhaal vertel en dit sonder die minste vrees dat een van die ander volgelinge met ‘n ander storie vorendag gaan kom.

Want, jy sien die dood eenvoudige feit was, daar was geen ander storie nie!
Ek wil jou nou met my kennis van die mens vertel hoekom mense waarvan hulle self getuig, dat van hulle in die verhaal hoogmoedig gewees het.  Iets waarteen hul Leier gepreek het.
Dat van hulle, ten spyte van wat hulle gesien en beleef het, volgens hulle eie getuienis  kleingelowig gebly het.
Hulle vertel die verhaal met ‘n kinderlik eerlikheid en nêrens probeer hulle, hulle optrede verdoesel nie.
Soveel so, dat hulle selfs vir ons vertel, dat een van hulle hom skoon uit sy klere uit gehardloop het.

Wat het hierdie gewone mense soos ek en jy soos handomkeer laat verander?
Ek sien dit so:
Hulle wedergeboorte kan jy amper sê, begin soos uiteindelik ook myne by die Kruis.
Daar hang hul Leier vas gespyker en Hy sê:

JHN 19:30  En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.

Daar staan hulle en omdat hulle nie op daardie oomblik geweet het wat ek en jy vandag weet nie, kyk hulle verslae en radeloos na ‘n lyk.
Toe twee dae later kom ‘n paar van hulle by Sy graf en wat hoor en beleef hulle?

LUK 24:2-7
2  En hulle het die steen van die graf afgerol gevind.
3  En toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie.
4  En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by hulle in blink klere.
5  En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies?
6  Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was:
7  Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan.

Toe nog ‘n tyd later klim hulle uit hulle skuite uit en sien, Hy wat aan die Kruis vas gespyker was, het ‘n vuur gemaak en ontbyt vir hulle voorberei.

JHN 21:9  En toe hulle geland het, sien hulle ‘n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood.
JHN 21:10  Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het.

Toe nog later, staan Hy voor hulle en Hy sê vir hulle:

HAN 1:8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Toe belewe hulle ook nog Sy hemelvaart.  Hulle staan en kyk, hoe die Vader aste
ware Sy arm om Sy Seun sit en Hom in die Hemel opneem.

HAN 1:9  En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.

Natuurlik! daarna kon niks hulle keer nie!
Daaroor, omdat hierdie skrywe anders baie lank sou wees, deel ek egter met jou in ‘n volgende skrywe, (deel 2) asook oor wat ek as een van die grootste leuens maar wat terselfdertyd ook een van die swakste leuens is wat ooit vertel was, beskou.

Groete,
Sakkie