DIE ENIGSTE GODSDIENS WAT NA GOD LEI

DIE ENIGSTE GODSDIENS WAT NA GOD LEI

Sakkie Parsons

Iemand maak nou die anderdag die stelling dat die Christelike godsdiens ‘n onlogiese godsdiens is en hy motiveer dit onder andere so:

“Julle sê dat God julle Vader is. Hoe is dit dan dat HY so baie tragedies oor julle toelaat, soos siektes, ongelukke en ander tragedies?”

My antwoord is dan dat ons nooit met menslike logika, God se logika kan probeer verstaan nie.

Ek wil egter tog op dit wat die persoon gesê het, reageer. Nie om God se logika te verduidelik nie, so verwaand, dwaas, sal ek darem nie wees nie, maar, soos ek dit sien, die persoon se dwase stelling ten toon te stel.

‘n Ma neem haar kind die eerste dag na die groot skool en toe sy mammie hom daar wil los, gaan hy bitterlik aan die huil, maar nadat sy mammie hom probeer troos het en dit nie wou werk nie, soen sy hom nog eenkeer en klim in haar motor en ry weg.

Kan ‘n mens nou sê dat haar logika verkeerd is, of dat sy haar kind nie liefhet nie?
Dit sou mos nie logies wees om so te redeneer nie? ‘n Mens sou selfs kon sê dat iemand wat wil beweer dat sy byvoorbeeld nie haar kind lief het nie, heeltemal sonder logika is.

Ek wil jou nou op twee gebeurtenisse in die Woord van God wys. Van Johannes die Doper word die volgende in die Ou Testament geprofeteer:

JES 40:3  “‘n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! “

Toe kom dit in vervulling in die Nuwe Testament:

MAT 3:3-6 
3 “Want dit is hy van wie deur die profeet Jesaja gespreek is toe hy gesê het: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak Sy paaie reguit!
4  En hy, Johannes, het ‘n kleed gedra van kameelhare en ‘n leergord om sy heupe, en sy voedsel was sprinkane en wilde heuning.
5  En Jerusalem en die hele Judéa en die hele omtrek van die Jordaan het uitgegaan na hom toe.
6  En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes.”

Toe beland Johannes in die tronk, maar nie net beland hy in die tronk nie, maar op die ou end word sy kop afgekap. Onthou nou ook sy kop was afgekap omdat hy vir God teen sonde gepraat het.

Sê nou dit was moontlik vir iemand om kort nadat sy kop afgekap was, met hom te kon praat en vir hom kon vra dat as hy sy lewe kon oorhê, of hy nie maar sou stilgebly het oor die sonde waarteen hy gepreek het en so lekker langer kon gelewe het nie.

Logika sê vir my dat Johannes iets soos die volgende sou geantwoord het: “Ek sou presies dieselfde gedoen het, want nou het ek korter op die aarde gelewe maar ek is gouer in die Hemel en dit is die beste wat met my kon gebeur het.”

Ek kon nog baie voorbeelde genoem het, maar ek volstaan met nog net hierdie een.
Ek praat nou nie in hierdie voorbeeld van die man wat lelik met Jesus was nie. ‘n Man lewe ‘n rowwe en sondige lewe en word gevang en gekruisig en nadat hy ‘n ruk aan die kruis gehang het, sterf hy.

Sê nou dit sou moontlik wees en iemand sou hom kort na sy sterwe gevra het: “As jy nou jou lewe kon oorhê, sou jy wou gehad het dat jy nie so ‘n wrede dood moes sterf nie maar ‘n lekker lang lewe gehad het en ‘n mooi natuurlike dood gesterf het?”

LUK 23:40-43 
40 “Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? —
41  ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.
42  En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.
43  En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.

Logika sê vir my, dat sy antwoord iets soos die volgende sou wees: “Wat! En my kruisiging langs Jesus gemis het!  Jy is seker nie reg wys nie!”

Ek weet ook nie hoekom ek met ‘n oog probleem gebore is nie.
Ek weet ook nie hoekom my sig al hoe swakker en swakker geword het nie.

Tot soveel dat ek vandag heeltemal blind is.

Ek weet ook nie hoekom God toegelaat het dat ek in 1997 kanker kry en my toe volmaak genees het nadat die dokter vir my en my vrou gesê het dat as hulle dit nie kan keer nie, ek 3 tot 6 maande het om te lewe nie

Ek weet egter dat my wonderlike Vader vir my in Sy Woord sê:

JAK 5:11  “Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.”

Ook sê Hy in Sy Woord:

ROM 8:28  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na Sy voorneme geroep is.”

As ek so kyk met die kennis wat ek het en na die getuienis tot my beskikking, is die Christelike godsdiens die mees logiese godsdiens wat daar is, maar hoe kan dit ook anders?  Dit is die enigste godsdiens wat na God en jou en my redding lei:

JHN 14:6  “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”                 

Hier is nog ‘n groot waarheid wat jy maar in jou hart kan bewaar:
Alle godsdienste, soos ook elke ander soort leefwyse eindig uiteindelik by, of dan voor God – want ons gaan almal voor God verskyn – dit maak nie saak aan watter godsdiens jy of ek behoort nie, of wat jou lewenswyse is nie.

ROM 14:11  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.
ROM 14:12  So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.

Ja, soos ek genoem het – alle godsdienste en leefwyses lei uiteindelik na, of dan tot by, of voor God – omdat elke mens wie Hy ooit geskape het voor Hom gaan verskyn.  Maar – net Jesus Christus deur Sy kruisdood offer gee ons die ewige lewe en lei ons die hemel in saam met God.  Om so vir ewig saam met Hom te wees.

Want jy sien:

Wie is hierdie God voor wie elke mens gaan verskyn en sal buig?
Wie is hierdie God voor wie elke mens sal rekenskap gee?
Wie is hierdie God teenoor wie elke mens wat ooit gelewe het en nog gaan lewe, sal bely dat Hy die Here is?

FIL 2:9-11 
9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,
10  sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
11  en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Hier is die heel belangrikste van hierdie groot heerlikheid wat ek nou met jou deel:

*Alle godsdienste lei uiteindelik tot voor God omdat alle mense voor Hom gaan verskyn – maar net deur Jesus Christus aan te neem as Verlosser en Saligmaker, kry jy en ek toegang toe die ewige lewe en die Hemel.

JOH 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

HAN 4:12 Daar is geen redding by iemand anders nie.  Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie. (Jesus Christus alleenlik!)

Groete,
Sakkie