DIE DRIE-EENHEID

DIE DRIE-EENHEID

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra, of ek nie die Drie-eenheid sal verduidelik nie.

Hier is hoe ek ons Here se Drie-eenheid in my hart sien en dan nou verduidelik. Dit is ook presies wat dit van my is. ‘n Baie klein en ontoereikende poging. Want – om ons Here soos Hy werklik is, te probeer beskrywe is vir my verstand heeltemal te veel. Ek het in my lewe ook nog nooit ‘n werklik ingeligte Christen ontmoet wat gemeen het dat sy/hy ons Here se eenheid of Drie-Eenheid aan die hand van die Woord presies kon verduidelik nie, maar dit is ook natuurlik nie vreemd nie. Die mens se verstand is daarvoor heeltemal te klein.

Na my mening is een van die beste maniere wat mense gebruik om die Drie-Eenheid te verduidelik, wat ek sommer die water-voorbeeld noem  –  Jy kry water en jy kry ys en jy kry stoom maar uiteindelik is dit water in die een of in die ander vorm. Soos ek gesê het, is dit na my mening een van die beste maniere om die Drie-Eenheid te beskrywe maar ook hierdie voorbeeld is geheel en al ontoereikend. Want, ons Here werk nie in die een of die ander vorm nie, Hy Is.

Ons sal nooit hierdie kant van die graf, die Drie-Eenheid van ons Here heeltemal met ons klein verstandjies verstaan nie, maar dan – ons Here sê self:

JES 55:8  “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.
JES 55:9  Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.”
 

Daarom jubel ek dit saam met my groot held Paulus uit:

ROM 11:33-36 
33 “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele en onnaspeurlik Sy weë!
34  Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was Sy raadsman gewees?
35  Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?
36  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

Persoonlik is dit vir my heerlik wanneer ek met ons Here gesels, om te onthou dat ek die een en enigste Almagtige God aanbid.

1KOR 8:4  “Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat ‘n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een.

GAL 3:20  En die middelaar is nie net vir een nie; maar God is een.“

Persoonlik in my hart en uit my menslike perspektief, sien ek ons Here so: Kom ons neem my seun Martiens as ‘n voorbeeld. Hy is een mens maar hy is my skoondogter se man. Hy is ook my kleinkind se Pa. Dan is hy ook nog ‘n adjudant offisier in die polisie as hy in sy werksituasie. Tog is Martiens net een mens. Ons Here is, soos ek dit sien, die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die een Almagtige, die groot EK IS.

EXO 3:14  “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.”

JHN 8:57  “Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien?
JHN 8:58  Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek “

Uiteindelik juig ek dit in heerlike dankbaarheid in my hart uit. Hoe wonderlik is dit nie dat ons die genade ontvang het, om te weet en verstaan:

HEB 11:6  “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van dié wat Hom soek.”

Ek glo, dat ons Here is die Een en enigste God Almagtig en ek is so ontsettend baie, baie dankbaar dat Hy Homself aan my bekend gestel het en my toe die groot genade gegee het om Hom aan te neem as my Verlosser en Saligmaker.

Ek los jou dan nou met hierdie gedagte uit die Woord:

JAK 2:19  “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.”
    

Groete,
Sakkie