AAN DIE VOETE VAN JESUS ONTVANG EK VREDE IN MY HART

AAN DIE VOETE VAN JESUS ONTVANG EK VREDE IN MY HART

Skrywer:  Sakkie Parsons

Jare gelede stuur iemand vir my vrou, wie nou reeds by Jesus is, ‘n koor van ‘n lied na haar selfoon.
Dit was vir ons albei ‘n baie mooi lied maar ons kon die volledige lied nie opspoor nie.

Toe later toe my vrou met dimensie gediagnoseer is en toe nog later in ‘n ouetehuis se afdeling vir verswakte bejaardes beland het, omdat ek nie haar meer self kon versorg nie, het ek baie keer as ek na haar toe stap met Pedro, my gidshond, of van haar af teruggestap het en ek het so diep hartseer gevoel, saggies by myself die koorgedeelte van daardie lied geloop en sing.  Dan alhoewel die hartseer baie keer nie weggegaan het nie het ek ‘n vredevolle rustigheid ervaar want ek ken ons Jesus en ek weet ook wat Hyself asook die Woord wat Hom aanbetref vir ons sê.

Voor ek met jou deel wat ons Here my toe ook gewys het, deel ek eers gou met jou die woorde van die lied se koorgedeelte wat my altyd so kalmeer en rustig maak in my groot hartseer oor die uiters moeilike omstandighede waarin ek my bevind, as ek dit in my hart loop en sing:

“Aan die voete van Jesus is daar verlossing.
Aan die voete van Jesus is daar genesing.
Aan die voete van Jesus is God se genade.
Aan die voete van Jesus is vrede vir jou.”

Kom ek noem net gou vir jou hoekom jy en ek ten spyte van satan se aanvalle op ons heerlik vrede – Goddelike vrede, nie hierdie wêreld se vrede nie, kan ervaar.  Ons wie vir Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker –
Want Hy het dit vir ons gegee, ons moet dit net in geloof neem en ons eie maak:

JOH 14:27  “Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.

Die koortjie wat ek van praat, sê drie keer “Aan die voete van Jesus.”
Ek wil nou met jou deel oor ‘n vrou wat volgens die Woord by drie verskillende geleenthede by Jesus se voete gekniel het en ons Here het soveel waarde geheg aan dit wat sy gedoen het, dat Hy al drie keer vir ons in Sy heilige Woord as voorbeeld vir ons laat opteken het.

Die eerste geval kry ons in LUK 10:38-42:

LUK 10:38-42

Maria se prioriteite reg

38 Toe Jesus en sy dissipels hulle reis na Jerusalem voortsit, het hulle in ’n dorpie gekom waar ’n vrou, Marta, hulle in haar huis verwelkom het.
39 Haar suster, Maria, het aan die Here se voete gesit en luister na wat Hy hulle leer.
40 Maar Marta was bekommerd oor die groot ete wat sy besig was om voor te berei. Sy kom toe na Jesus en sê: “Here, lyk dit darem nie vir U onregverdig dat my suster net hier sit terwyl ek al die werk doen nie? Sê sy moet my kom help.”
41 Maar die Here het geantwoord: “Marta, Marta, jy kwel jou tog oor so baie dinge!
42 Daar is regtig net een ding wat nodig is om oor besorg te wees. Maria het dit ontdek – en Ek gaan dit nie van haar af wegneem nie.”

Nou deel ek met jou die tweede geval:

JOH 12:1-8

’n Halfliter duur aromatiese olie vir Jesus se begrafnis

1 Ses dae voor die Paasfees sou begin, het Jesus na Betanië toe gekom waar Lasarus, wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het.
2 Daar het hulle vir Jesus ’n aandete voorberei. Marta het dit voorgesit en Lasarus was een van dié wat saam met Hom vir die ete aangelê het.
3 Maria het toe ’n halfliter baie duur aromatiese olie geneem en dit op Jesus se voete uitgegooi en sy voete met haar hare afgedroog. Die huis was gevul met die reuk van die olie.
4 Judas Iskariot, een van sy dissipels, wat Hom nog sou uitlewer, sê toe:
5 “Waarom is hierdie olie nie eerder vir ’n yslike bedrag verkoop en die opbrengs aan die armes gegee nie?”
6 Dit het hy gesê, nie omdat hy so danig besorgd was oor die armes nie, maar omdat hy ’n dief was. Hy het die geldbeurs gedra en het van die bates verduister.
7 Toe het Jesus gesê: “Laat haar met rus. Sy het dit gekoop om te bêre vir die geleentheid van my begrafnis.
8 Die armes het julle altyd by julle, maar Mý het julle nie altyd nie.”

Vervolgens deel ek met jou die derde keer:

JOH 11:31-33

31 Die Jode wat saam met Maria in die huis was om met haar te simpatiseer, het gesien dat sy so vinnig opstaan en uitgaan. Hulle het haar gevolg omdat hulle gedink het sy is op pad graf toe om daar te gaan treur.
32 Toe Maria aankom waar Jesus nog was, en sy Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie!”
33 Toe Jesus sien dat sy huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het Hy bewoë geraak en was diep ontsteld.

Voor ek verder gaan moet ek my eers haas om jou hier op iets aangrypend te wys.
Ons lees:

JOH 11:33  Toe Jesus sien dat sy huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het Hy bewoë geraak en was diep ontsteld.

Soms, omdat ons in ‘n sondige gebroke wêreld lewe, laat ons Here dinge in ons lewe toe, omdat dit uiteindelik, die enigste is wat vir ons reg gaan uitwerk, soos ook in hierdie geval.
Moet tog nie dink, dat wanneer jy, ware kind van ons Here ontsteld of bewoë is, jy is alleen nie.
Jesus wat jou só lief gehad het, dat Hy aan die kruis gaan hang het sodat jy eendag by Hóm kan wees, is verseker saam met jou bewoë en al loop jy die pad wat jy loop in hierdie sondige wêreld, vanweë sy sondige toestand, en jy vanweë die trane in jou geestelike oë, skaars kan sien waar jy loop.  Glo my en roep in jou gees uit:
“Prys die Naam van ons Here!”
Want, Jesus stap vol medelye reg langs jou en Hy ken ook jou pyn.
Soos ook hier waar jy gelees het:

JOH 11:33  Toe Jesus sien dat sy huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het Hy bewoë geraak en was diep ontsteld.

Drie keer in ons Here se Woord, wys Hy vir ons deur dieselfde vrou waar die beste plek in die hele heelal is om te wees, ook met jou hartseer en pyn en dit is aan die voete van Jesus.

Ek was al so hartseer, dat my keel toe trek en ek voel ek kan nie meer asem kry nie.  Dan val ek net in my gees by die voete van Jesus neer en Hy herinner my weer aan Sy belofte en dan neem ek Sy vrede wat Hy beloof het:

JOH 14:27  “Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.

Hoekom is dit vir my so heerlik maklik om vol van Sy vrede rustig te raak, as ek hierdie belofte van my Jesus onthou?

Omdat ek juis deur hierdie woorde van my Jesus onthou en met groot sekerheid weet:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Daarom kan ons dit in die gees op ons knieë aan die voete van Jesus dit uitjubel:

1PET 1:3-9
Alle eer aan God vir die nuwe lewe en die wonderlike vooruitsig wat Hy aan ons gee.

3 Alle eer aan die God en Vader van ons Here Jesus Christus, want sonder dat ons dit verdien, het Hy sy ontferming aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons weergeboorte uitgeloop het. Nou het ons regtig hoop omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het.
4 God het inderdaad ’n kosbare erfporsie vir sy kinders. Hierdie erfporsie kan nie tot niet gaan of besmet word of verwelk nie; God hou dit veilig by Hom.
5 En God sal ook júlle deur sy krag veilig bewaar sodat julle die verlossing sál ontvang deurdat julle op Hom vertrou. Julle verlossing sal in die eindtyd vir almal sigbaar word.
6 Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ’n rukkie laat swaarkry.

Beproewings wys die egtheid van ons geloof uit

7 Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word; en onthou: Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud wat vergaan. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word.
8 Hóm het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie. Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom; julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde bring nie.
9 Julle ervaar hierdie blydskap, want julle is reeds besig om julle finale verlossing, wat die doelwit van julle geloof is, te verkry.

Ek sluit dan hierdie skrywe aan jou af om sommer vir die heerlike groot lekker daarvan ook met jou die “link” te deel waar jy na die volledige lied kan gaan luister:

http://www.youtube.com/watch?v=YcumedCUvBg&sns=em

Groete,
Sakkie