AAN ELKEEN WAT HET SAL GEGEE WORD

AAN ELKEEN WAT HET SAL GEGEE WORD.

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra.
“Die vers in die Bybel wat sê diegene wat het sal ontvang, en die wat nie het nie sal nie ontvang nie. Kan jy dalk net vir my duidelikheid gee oor die vers .”

Hier is dan hoe ek hierdie gedeelte verstaan:
Lees net eers hier die gedeelte wat ek gaan gebruik om my siening te verduidelik.

LUK 19:26  want ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het.

Ons moet hierdie vers sien teen die voorafgaande gelykenis wat Jesus vertel het.
Jy kan hierdie gelykenis gaan lees daar vanaf Luk 19:12.

In baie kort, gaan ‘n gesiene man op ‘n reis om ‘n koningskap te ontvang.
Hy vertrou sy slawe elk met ‘n goue muntstuk en toe hy terugkom, roep hy hulle om rekenskap te gee van wat hulle met hulle muntstuk gedoen het.
Die een se muntstuk het tien muntstukke wins gemaak.
Die volgende een sin het vyf muntstukke wins gemaak.
Die derde een het die muntstuk wat aan hom toevertrou was weggebêre en vir die koning sy een goue munt terug gegee.
Die koning vergoed toe die eerste twee mildelik oor dit wat hulle gedoen het maar hy was baie ongelukkig met die een wat niks met sy munt gedoen het nie en het hom toe niks vergoed nie en dit wat hy gehad het ook van hom weggeneem.

Nou goed hier dan is hoe ek die gedeelte verstaan:
Ek glo, ons Here het vir al Sy kinders talente/goue munte gegee om mee in Sy Koninkryk, om dit so te stel, te woeker.
Een kan byvoorbeeld preek, sing en leer.
Een kan net sing en leer.
Een kan net sing en so kan ek aan en aan gaan maar ons almal kan iets met ons talente, of dan geestelike munte doen.
Ek het al mense teëgekom wat sulke introverte is, dat hulle op die oog af niks in die gemeente kan bydra nie.  Dan gesels jy met hulle en deur hulle vriendelikheid en liefdevolle gesindheid, is hulle die pragtigste advertensie van dissipelskap van Christus.
Soos ek die Woord verstaan, sal alle mense eendag voor ons Here verskyn.

ROM 14:11  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.

Paulus verduidelik na my mening wat hy hier sê, nog beter op ‘n ander plek as hy skryf.

FIL 2:9-11
9  Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,
10  sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
11  en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God.

Ek glo op daardie dag, sal die wat Jesus Christus nié wou aanneem as Verlosser en Saligmaker nie, met ander woorde die wat Sy offer op Golgota aste ware in Sy gesig teruggegooi het, veroordeel word en hulle vonnis sal ‘n ewige lewe in die hel wees.

JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Ons Christene gaan natuurlik ook daar wees maar nie om veroordeel te word nie maar om beoordeel te word.
Buiten dat jy nou net gelees het:

JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; …

Skryf my groot held Paulus onder leiding van die Heilige Gees byvoorbeeld:

ROM 8:1  Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

So, wat is die doel van ons verskyning voor Jesus op Sy groot wit troon?

Dit is dan hier waar byvoorbeeld die gelykenis van die muntstukke, om dit so te stel, in werking tree.
Ons word nie veroordeel nie maar ons word verseker deur ons liefdevolle maar ook regverdige Here beoordeel.
Ek weet daar is mense wat hier met my verskil maar soos ek die Woord verstaan, gaan ons verseker nie almal dieselfde loon in die Hemel ontvang nie.
As jy met jou talente/gouemuntstuk hier op aarde vir ons Here hard gewerk het, gaan jy verseker meer loon ontvang, as hy wat min of selfs niks met sy talent/gouemunt gedoen het nie.
My groot held Paulus verduidelik dit by geleentheid so:

1KOR 3:10-15 
10 Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou.
11  Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
12  En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Soos die slaaf met die een goue munt die toets gefaal het, so is daar baie Christene wie
deur die manier wat hulle, hulle talente / gouemunte / genadegawes nie gebruik het
nie, ook die toets gaan faal.

Een ding kan jy en ek verseker weet, ook ons, Sy kinders, sal voor Jesus se troon verskyn.  Soos ek gesê het, nie om veroordeel te word nie maar verseker om beoordeel te word.

OPG 20:11  En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.
OPG 20:12  En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.

Het jy gesien?  In OPG 20:12 word daar van twee boeke gepraat en dit is na my mening daardie tweede boek wat in hierdie skrywe, ter sprake is:

OPG 20:12  … ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.

Jy kan, om dit so te stel, sê, dat in daardie boek is jou en my absolute finale en
volmaakte curriculum vitae, of dan CV van ons werk hier op aarde.
Vanaf die persoon wat baie talente/gouemuntstukke/genadegawes ontvang het, tot by
die persoon wat baie min ontvang het.  Volgens wat in daardie boek geskryf staan, sal
jy en ek beoordeel word.
So, as ek dan maar weer my groot held Paulus vir oulaas in hierdie verband kan aanhaal:

1KOR 3:14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
1KOR 3:15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Groete,
Sakkie