In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars

Iemand het aan my ‘n skrywe oor die rookgewoonte gestuur en die volgende vir my gesê:

“Ek is ‘n Christen wat rook, maar so baie mense het al vir my gesê dat ek rookoffers aan satan stuur.”

Toe ek dit lees, dink ek so by myself:
“Wat ‘n absolute belaglike, dom en onchristelike manier om met iemand te deel wat aan rook verslaaf is.”

As ek so tussen die lyne lees, lyk dit vir my die Christene wat die uitlating van ‘rook wat vir satan opgaan’ gemaak het, se gedagtes is meer met satan besig as die persoon wat rook, dit is nou as hierdie persoon wat rook hoegenaamd aan satan dink.

Voordat ek met jou deel oor wat ek uit die Woord kan sien wat rook aanbetref, wil ek net sê, dat ek ook gerook het.  As ek nou reg onthou, tussen 15 en 25 sigarette per dag.  So ek weet hoe dit is, ek was daar.

Natuurlik is rook sonde maar so is ook ooreet, dwelms, drankmisbruik ens ens.
Hier is dan nou wat ek uit die Woord oor hierdie saak sien maar die Christen kan dit wat ek nou gaan skryf eintlik op enige ander verslawing van toepassing maak.

Na my mening is daar net een uitsondering in die stelling wat ek nou gaan maak.
Die stelling wat ek maak is dit:

Enige iets waaraan ek myself aan verslaaf is sonde.

Daar is net één verslawing om dit so te stel, waaraan ek my mag skuldig maak.  Nee
waaraan ek my behóórt skuldig te maak.  Nee waaraan ek my heerlik skuldig aan móét maak en dit is om, hoe wonderlik, – ‘n slaaf van Jesus te wees.

1KOR 7:22  En onthou, alhoewel jy ‘n slaaf was toe die Here jou geroep het, het jy ‘n vrygemaakte van die Here geword;  en omgekeerd, as jy vry was toe jy geroep is, het jy ‘n slaaf van Christus geword.

Ek deel in hierdie skrywe net met die rookverslawing maar soos ek genoem het, dit wat ek nou gaan sê kan jy van toepassing maak op enige ander verslawing.

So kom ons kyk hoe en of ek my stelling dat dit sonde is uit die Woord kan motiveer.
Ek wil dan met die volgende begin en ek haal die Nuwe Lewende Vertaling ook aan omdat dit so ‘n pragtige Vertaling is:

1KOR 6:12  Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.

In die Nuwe Lewende Vertaling lees 1KOR 6:12 as volg:

1KOR 6:12  Jy kan dalk sê:  “Ek mag nou enigiets doen.”  Maar ek sal daarop antwoord:  “Nie alles is vir jou goed nie.  Selfs al sê jy “ek mag enigiets doen, ”mag ek my nie deur enigiets laat verslaaf nie”

As ons Here in Sy Woord laat skryf dat ek iets nie mag doen nie en ek doen dit, dan is ek ongehoorsaam en dit is sonde.

1KOR 6:12  … Selfs al sê jy “ek mag enigiets doen, ”mag ek my nie deur enigiets laat verslaaf nie”

Dan, hoe is dit moontlik, dat ek ‘n wedergebore kind van ons Here, ‘n woonplek van die Heilige Gees so kan beskadig en as jy dalk dink dat jy nie jou liggaam beskadig nie, gaan vra jou dokter hierna.

1KOR 6:19  Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?

Hoe is dit moontlik om jou liggaam wat, omdat jy ‘n wedergebore kind van ons Here is, jou liggaam wat nou die woonplek van die Heilige Gees is, hierdie liggaam wat nie eens meer aan jou behoort nie maar aan ons Here, so te beskadig sonder om diep in jou hart te weet dat dit verkeerd is?

1KOR 6:19  Of verstaan julle nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie?  Julle behoort nie aan julleself nie, (NLV)

Hoe is dit moontlik, dat ek as kind van ons Here weet dat ek duur gekoop is en nie
meer aan myself behoort nie, myself dan so kan besoedel en beskadig en nie diep in my hart weet, dat dit baie verkeerd is nie?

1KOR 6:20  want julle is teen ‘n duur prys gekoop.  Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik. (NLV)

Hoe is dit moontlik, dat ek as kind van ons Here, presies die teenoorgestelde met my liggaam doen as wat ons Here van my verwag, sonder om diep in my hart te weet, dat dit baie verkeerd is?

1KOR 6:20   … Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

Die antwoord op al hierdie ‘hoe is dit moontlik’ is natuurlik, dat dit net nie vir ‘n
wedergebore kind van ons Here moontlik is, sonder dat dit jou sal bly pla nie.  Omdat die Heilige Gees jou bly vertel dat dit baie verkeerd is wat jy doen.

Toe ek byvoorbeeld tot bekering gekom het, het my gewete my bly pla totdat ek dit
gelos het.

Om vir jou ‘n voorbeeld van motivering te gee:
Sê nou daar is ‘n “chip” wat hulle in jou kop geplant het en jy weet die “chip” sal
ontplof en jou kop laat oopbars as jy weer ‘n sigaret rook en jy het op TV gesien dat
dit werklik gebeur.
Ek sê nou vir jou, jy sal nooit weer rook nie.
Jy sien, dit is ‘n kwessie van motivering.  As die motivering groot genoeg is, sal jy
ophou met rook. 

Ek sê ook vir jou, want ek het dit eerstehands beleef:

Hoe meer jou liefdesverhouding met ons Here verdiep, hoe moeiliker sal dit wees om die volgende sigaret op te steek.  Tot die dag kom waar die motivering van jou liefde vir ons Here so groot is, dat dit net eenvoudig onmoontlik vir jou sal wees om nog ‘n sigaret op te steek.

My raad vir Christene wat rook is die volgende en ek praat van wat vir my gewerk het:

Werk aan jou liefdesverhouding met ons Here en as jy weer sien, rook jy nie meer nie.

Ten slotte nog net dit:

As jy as Christen wil beweer dat “as jy nie kan ophou rook nie dit nie beteken dat jy ‘n slaaf van tabak is nie”, laat ek jou met die volgende uit ons Here se Woord.

2PET 2:19  Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword.

In die Nuwe Lewende Vertaling lees 2PET 2:19 as volg:

2PET 2:19  Hulle belowe vryheid, maar is self slawe in die diens van korrupsie.  As iets jou in sy mag het, is jy mos sy slaaf.

Ek wil jou aanmoedig om daaraan te werk dat die wêreld jou nie met ‘n sigaret in die hand sien, ‘n teken van ‘n verslaafde, met ander woorde ‘n teken van iemand wat oorwin is nie – maar dat die wêreld jou sal sien vir dit wat jy kan wees en ook eintlik is: ‘n Oorwinnaar!

ROM 8:37  Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.

ROM 8:37 Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus wat Sy liefde so duidelik aan ons bewys het. (NLV)

Groete,
Sakkie