ALLES BEGIN BY LIEFDE

ALLES BEGIN BY LIEFDE

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en vertel hoe die persoon vir ‘n geliefde probeer wys het hoe verkeerd die geliefde se wyse van lewe is maar niks kon regkry nie.

Toe ek die persoon se skrywe aan my klaar gelees het, het ek so ‘n bietjie, om dit lig uit te druk, terneergedruk gevoel.  Want ek het daaraan gedink hoe baie van ons Jesus se evangelie aan die mense verkeerd begin verkondig, deur vir hulle te wys,  gewoonlik darem op ‘n baie mooi wyse natuurlik, hoe verkeerd hulle leefwyse is.

Dit is die soort wyse om die Evangelie van Jesus vir die eerste keer aan iemand te verkondig, wat sommer van meet af verseker gedoem is om te faal.

Nie net is hierdie wyse van die evangelie gewoonlik gedoem om te faal nie maar dit los gewoonlik ‘n letsel op die persoon met wie die evangelie van Jesus gedeel is, wat dit baie moeilik maak vir iemand anders wat op die regte manier die evangelie met daardie selfde persoon wil deel.

Ek moet eintlik eers sorg, dat die persoon met wie ek deel sien en ervaar, dat ek iemand van integriteit is, veral as dit kom, dat ek met die persoon deel oor dit wat deel is van die evangelie van Jesus Christus.

Hoe doen ek dit?

Alles begin by liefde en in die geval waar ek die evangelie van Christus in iemand se hart wil laat ontkiem, begin dit by naasteliefde en dan ware naasteliefde wat, om dit so te stel,  op die regte manier ingespan word.

My groot held Paulus stel dit so:
 

1KOR 9:19-23  

19 Alhoewel ek dus teenoor niemand ‘n verpligting het nie – omdat hulle my nie vergoed nie – het ek myself aan almal diensbaar gemaak sodat ek soveel mense moontlik vir Christus kan wen.
20  Onder die Jode het ek soos ‘n Jood geword om hulle vir Christus te wen.  Alhoewel ek nie meer onder die wet staan nie, het ek vir hulle wat onder die wet staan, geword soos iemand onder die wet om hulle wat nog onder die wet staan, vir Christus te wen.
21  Onder die heidene wat God se wet nie ken nie, het ek geword soos iemand sonder die wet – alhoewel ek in werklikheid nie sonder God se wet is nie, maar onder die wet van Christus staan.  Dit het ek gedoen om die heidene vir Christus te wen.
22  Wanneer ek onder die geringes gewerk het, het ek met hulle een geword om hulle vir Christus te wen.  Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot redding te bring.
23  Al hierdie dinge het ek ter wille van die Goeie Nuus gedoen sodat ek ook aandeel aan sy seëninge kan verkry.

Met ander woorde:
Begin om die persoon werklike opregte naaste liefde te gee.  Met ander woorde die soort liefde wat Jesus wil dat ek aan daardie persoon moet gee.

Hoe lyk die naasteliefde wat Jesus wil dat ek aan my naaste moet gee?

Ek noem daardie soort liefde altyd graag “Compassion” liefde.

Ek gebruik die Engelse word “compassion” omdat dit vir my ‘n woord is, wat so heerlik alles saamvat waaruit die liefde bestaan waarmee ek my naaste, in hierdie geval, die persoon met wie ek die evangelie van Jesus Christus wil deel, bevat.

Lees net hier wat sê die Engels/Afrikaanse woordeboek onder andere van die woord “compassion.”
compassion, medelye, simpatie, empatie, erbarming en barmhartigheid.

Met ander woorde vriendin/ vriend,

Moet nie veroordelend of bevooroordeeld na die persoon met wie jy die Evangelie wil deel kyk nie.

Kyk na die persoon, soos wat Jesus ook na joú gekyk het, toe Hy sy Evangelie by jou uitgebring en so jou gehelp het om Hom aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker.

Kyk en behandel daardie persoon met Jesus liefde vol medelye, simpatie, empatie, erbarming en barmhartigheid, met ander woorde met “compassion” liefde.

So sal jy die egtheid van die Evangelie in die praktyk demonstreer, nog voordat jy die evangelie begin verkondig en so sal jy wie die boodskapper van Christus is, se boodskap geloofwaardig vir die ongelowige wees.

Soos ek altyd graag sê, sê ek nou ook weer:

As ons sê dat ons kinders van God is, laat ons dan só leef, dat die mense die familie ooreenkoms van ons Verlosser in ons lewe sien.

2TIM 2:23-26

23 Ek sê weer, moenie betrokke raak in dwase, onsinnige argumente wat net twis veroorsaak nie.
24 Die Here se diensknegte moenie twis nie, maar moet goedgesind teenoor almal wees.  Hulle moet bekwaam wees om mense doeltreffend te onderrig en geduldig wees met moeilike mense.
25 Hulle moet dié wat die waarheid teenstaan, sagmoedig onderrig.  Miskien sal God daardie mense se harte verander, en sal hulle die waarheid leer ken.
26 Dan sal hulle tot hulle sinne kom en uit die duiwel se strik ontsnap.  Want hulle word deur hom gevange gehou om net te doen wat hy wil hê.

Vir iemand wat wél vir Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker en sonde in jou lewe vertroetel en jy kwaad word as jy deur ‘n kind van ons Here aangespreek word, wil ek maar net die volgende uit die Woord kwoteer:

SPR 12:1  Iemand wat bereid is om reggehelp te word, leer graag.  Dit is dom as iemand hom nie wil laat teregwys nie.

Asook:
SPR 27:5  ‘n Openlike bestraffing is beter as liefde wat onsigbaar bly.
SPR 27:6  Die wonde van iemand wat lief is vir jou is baie beter as die baie soene wat jou vyande jou wil gee.

Groete,

Sakkie