ALLES IS MY GEOORLOOF, MAAR EK SAL MY NIE DEUR IETS LAAT OORHEERS NIE

ALLES IS MY GEOORLOOF, MAAR EK SAL MY NIE DEUR IETS LAAT OORHEERS NIE.

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en gevra, wat daarop neergekom het, of om alkohol te gebruik sonde is.  Hy skryf onder andere:

“In vandag se dae weet die hedendaagse mens nie eers meer of drank reg of verkeerd is nie.
Kan jy dalk vir my meer inligting gee hieroor?”

Ek deel graag met jou hoe ek na hierdie saak kyk en na die beste van my vermoë, so glo ek, onder leiding van die Heilige Gees probeer lewe.
Ons Here is die Skepper van almal en alles.

JHN 1:1  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
JHN 1:2  Hy was in die begin by God.
JHN 1:3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

Die satan het egter omtrent als wat ons Here so mooi en wonderlik geskape het besoedel en dit nogal met die hulp van die kroon van ons Here se skepping, naamlik die mens.
Ek gee twee voorbeelde.
Die een het ek reeds genoem, naamlik die mens.
Ons Here het die mense na Sy beeld geskape.

GEN 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Vandag hoef jy net na die nuus te luister of jou koerant oop te maak om te sien en hoor, hoe satan die kroon van ons Here se skepping besoedel het.  Soms, so lyk dit vir my wil sommige mense meer na satan lyk as satan self.

Dan, ek sê altyd dat seks is die enigste ontspanning/spel of wat jy dit ook al wil noem waar ons Here al die reëls en speelveld, naamlik ‘n man en ‘n vrou se liggame binne ‘n huwelik vir ons gegee het maar kyk nou:
Verkragting, kindermolestering, prostitusie, egbreuk ens.  Dan praat ek nie eens van wat sommige mense selfs van hulle lewensmaats in die huwelik verwag nie, en so baie ander verkeerde, selfs walglike leefwyses  wat in die naam van ‘n huwelik terwille van seks uitgelewe word en seks lyk op die minste na ‘n daad wat liewer vermy moet word en op die ergste, sommer net boos is.

Dit sommer net om te wys hoe die mens iets mooi of aangenaam wat ons Here ons gegee het tot iets boos kan verwring.

Dieselfde kan van alkohol gesê word.
Nou moet mense tog nie vir my sê dat die wyn wat die mense in die Bybelse tyd gedrink het, nie alkohol bevat het nie.  Soos hulle in Engels sê:
“I just do not buy that.”
Soos ek die Woord verstaan word ‘n Christen nêrens verbied en ek stres verbied om alkohol te gebruik nie.

Ek noem eers twee positiewe dinge wat ons Here in sy Woord vir ons laat skryf het oor wyn, want dit is maar wat die mense destyds normaalweg gedrink het.  Ek kon egter meer voorbeelde gebruik het.

PSM 104:14  Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom,
PSM 104:15  en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk.

Dan was daar natuurlik die geval waar Jesus wyn op ‘n bruilof gemaak het en vir
diegene wat nou weer kom met die storie dat die wyn nie alkohol in gehad het nie, wil ek maar net sê –
Daar is iets soos sap en daar is iets soos wyn en as die Woord sê wyn, dan is dit nie sap nie maar wyn.  As jy dalk nog steeds dink ek redeneer verkeerd, net die volgende:
Enige iemand wat iets van wyn af weet, sal vir jou kan sê, dat jy nie sap met wyn kan verwar nie.
Nou kom die hoofdienaar, duidelik iemand wat weet waarvan hy praat, na die bruidegom en dan lees ons:

JHN 2:9  En toe die hoofdienaar die water proe wat wyn geword het—en hy het nie geweet waarvandaan dit was nie, maar die dienaars wat die water geskep het, het geweet—roep die hoofdienaar die bruidegom
JHN 2:10  en sê vir hom: Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar.

Voordat iemand nou dink dat ek alkoholisme probeer bevorder, wil ek dadelik sê dat dit natuurlik nie die geval is nie maar ek wil ook nie soos sommige mense ‘n leuen
gebruik om mense van drank af weg te hou, deur te sê dat die gebruik van sterk drank
sonde is nie.
Die gebruik van sterk drank is nie sonde nie, die misbruik van sterk drank soos ‘n
legio ander dinge kan verseker sonde wees.
Daar is baie meer gedeeltes in die Woord wat ons waarsku teen die misbruik van
drank, as wat daar is, wat positief oor drank is.
Ek gee twee voorbeelde maar ek kon baie meer gegee het:

SPR 23:29-35
29 By wie is "Ag!"; by wie is "Wee my!"; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë?
30  By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe.
31  Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie:
32  op die end byt dit soos ‘n slang en spuug gif uit soos ‘n basilisk.
33  Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek;
34  en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê.
35  Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie!

EFE 5:18  Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

As iemand my vra:
“As ek alkohol drink, wanneer moet ek ophou?”
My antwoord –
As jou persoonlikheid begin verander is die drank klaar in beheer van jou.  Jy moes dan lankal opgehou het.
Die satan gebruik drank om mense se lewens te vernietig.  Ek weet waarvan ek praat.
My ouers het hulle uit hulle huwelik uit gedrink.  Hulle het hulle kinders in die
weeshuis in gedrink en van hulle kinders loop nog vandag met van die nagevolge van
hulle ouers se gedrinkery.

Om dan op te som:
As jy dink dat jy dalk ‘n probleem met sterk drank kan hê – bly weg daarvan.
Soos die gesegde sê:
“Moet nie krap, waar dit nie jeuk nie.”
Al word jy en ek nie verbied om sterk drank te gebruik nie, sê die Woord ook vir ons:

1KOR 6:12  Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.

Veral as jy weet dat alkohol vir jou ‘n probleem is, moet jy om dit so te stel, nie eens
toelaat dat dit binne sig afstand van jou kom nie.

Groete,
Sakkie