DIE DOOP VAN JESUS IS VIR ONS ‘N VOORBEELD OM NA TE VOLG
As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.
Sakkie Parsons
Iemand skryf aan my die volgende:
“Ek worstel met ‘n vraag oor die doop van Jesus .
My vraag is hoe is Jesus regtig gedoop? Hoekom ek vra, ek het na ‘n film gekyk oor die kruisiging van Jesus en daar het hulle uitgebeeld dat Jesus in die water gesit het en net nat gegooi is. Kan jy my help om die onsekerheid op te klaar. Wat se die Woord?“
Na my mening sê die Woord nêrens presies hoe Jesus gedoop is nie maar daar is tog volgens wat ek die Woord verstaan, ‘n duidelike indikasie van hoe Jesus gedoop is.
Kom ons begin eers by die begin.
Hoekom is Jesus gedoop?
Anders gestel – Waarom het Jesus daarop aangedring om gedoop te word?
Die een gee hierdie verklaring en die ander daardie verklaring maar as iemand my, my opinie vra, dan is die antwoord wat my aanbetref heerlik eenvoudig:
Jesus het áltyd en ook in hierdie geval, álles gedoen soos wat Sy Vader dit wou hê.
In hierdie geval byvoorbeeld, wou Johannes volstrek eers nie vir Jesus doop nie.
Onthou jy?
Mat 3:13 Op ‘n dag het Jesus van Galilea af by die Jordaanrivier aangekom om deur Johannes gedoop te word.
Mat 3:14 Maar Johannes wou Hom keer. “Ú behoort mý tog veel eerder te doop,” het hy gesê. “Dit is ongehoord dat U nou na my toe kom!”
Toe, wat was Jesus se antwoord?
Mat 3:15 Maar Jesus het hom geantwoord: “Wag nou! Ons moet God se wil juis op hierdie manier gehoorsaam” Daarop het Johannes Hom tot die doop toegelaat.
Die 1953 Vertaling stel dit so:
Mat 3:15 Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat.
Jesus het deur Sy doop vir ons die voorbeeld gestel en terselfdertyd vir ons duidelik laat verstaan, dat ons Here van Sy kinders verwag om in gehoorsaamheid net soos Jesus dit laat doen het, ons in die openbaar moet laat doop, sodat die hele wêreld, ook die geesteswêreld kan sien en verstaan, dat ons nou ‘n belydende dissipel van Jesus is.
Mat 3:15 Maar Jesus het hom geantwoord: “Wag nou! Ons moet God se wil juis op hierdie manier gehoorsaam” …
‘n Belangrike aanwysing van hoe belangrik die doop is, is as jy ook onthou, dat God, in hierdie geval Jesus, nóóit iets doen, sommer net om iets te doen nie.
Jesus het in alles ook deur Sy doop vir ons die voorbeeld gestel en Hy sê van ons:
JHN 10:27 My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
Vir my is natgooi net so onbybels, soos besprinkeling, om nie eens te praat van besprinkeling van babas nie.
Kom ons kyk na ‘n paar gedeeltes uit die Woord en dan besluit jy maar self of daar meriete in my stelling is van:
Natgooi, besprinkeling en by name die besprinkeling van babas, as jy na die Woord kyk, is geheel en al onbybels.
Na my mening, as jy bogenoemde doop noem, is jy op die minste, heeltemal onkundig, van wat die woord “doop” in die Woord beteken en op die ergste ‘n bewustelike leuenaar, iemand wat willens en wetens, ‘n valse manier van doop verkondig.
Niemand sal ‘n beskuit met koffie of tee besprinkel, of sê nou maar met ‘n lepel natgooi en dit doop noem nie.
Nee!
Jy sê, ek doop my beskuit in die koffie/tee voordat ek dit eet en jy doen dit deur die beskuit in die koffie/tee te druk.
As jy iemand volgens Bybelse se voorskrifte kon besprinkel of natgooi, het jy mos nie baie water nodig nie.
Jy neem ‘n lekker groot kruik, of twee of selfs meer en maak dit vol water en besprinkel elke dopeling.
Reg?
Hoeveel mense dink jy sal jy uit so ‘n lekker groot kruik of twee of selfs drie kan besprinkel, of selfs bietjie natgooi.
Ek dink sommer ‘n hele klomp.
Een ding is seker. Vir daardie soort doop het jy nie “baie” water nodig nie.
Nou lees ek in die Woord, as dit by die Bybelse manier van doop kom, het jy baie water nodig.
JHN 3:23 Johannes was ook besig om by Enon, in die omgewing van Salim, te doop omdat daar genoeg (baie) water was. Die mense het daarheen gestroom en is gedoop.
As jy iemand op die Bybelse manier wil doop, het jy nie net byvoorbeeld ‘n bakkie water nodig nie.
Nee o nee!
Jy het ‘n plek nodig waar daar baie water is. Want, jy het baie water nodig.
JHN 3:23 Johannes was ook nog besig om mense te doop by Enon naby Salim waar daar baie water was. (OV)
Nou gaan ek ‘n paar gedeeltes uit die Woord kwoteer en dan besluit jy maar self, of daar iets in hierdie gedeeltes is, wat selfs net amper herinner aan besprinkeling of selfs natgooi.
Onthou ook as jy nou lees en verstaan, dat die doop ‘n begrafnis van die ou mens en ‘n opstanding van die nuwe mens voorstel, dat jy nie iemand begrawe, deur ‘n paar korreltjies sand oor die lyk te strooi, of ‘n graaf of wat vol grond op die lyk te gooi nie.
Rom 6:4 Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ‘n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ‘n totaal nuwe lewe leef.
Rom 6:5 Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons ook saam met Hom opgewek word tot ‘n nuwe lewe.
GAL 3:27 Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal. (Grondteks: het julle met Christus beklee).
KOL 2:12 Toe julle gedoop is, is julle saam met Christus begrawe. Omdat julle één is met Hom is julle ook saam met Hom opgewek. Julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak. En dit is hierdie selfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het!
Nou wat dan as ek my wil laat doop en daar is nie “baie water nie?” Soos mense wat in ‘n woestyn of ander plek woon waar daar nie baie water is nie.
Gaan ek nou hel toe as ek dan nie onderdompel is nie en ek sterf?
Eerstens moet ons besef, dat die doop nie die sleutel na die hemel is nie. Jy gaan ook nie hel toe omdat jy nie gedoop is, of omdat jy verkeerd gedoop is nie.
Die bepalende faktor, om dit so te stel, oor wat jou eindbestemming gaan wees, is of jy aan die anderkant van die graf, om dit so te stel, met Jesus arriveer.
Met ander woorde, of jy in hierdie lewe wérklik Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker. Met ander woorde, is Jesus werklik Here in jou lewe?
Ek gee een voorbeeld uit die Woord:
JHN 3:16 God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JHN 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.
JHN 3:18 Die persoon wat aanhou om in Hom te glo, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.”
Ons Here is ons liefdevolle Vader.
Hy verstaan ons omstandighede en Hy sal ons, soos in alle ander sake in ons lewens, ook in ons doop, wanneer ons nie gedoop kan word soos wat Hy dit in sy Woord wys dat dit gedoen moet word nie, lei om te doen soos wat dit reg sal wees in Sy oë, as ons Hom toelaat.
Wat ons nié behoort te doen nie, is om iets te verkondig wat nie in die Woord geskryf staan nie en dit dan doop noem.
Ten slotte dan –
Ekself is as baba besprinkel. Ek het gekatkiseer en is aangeneem en voorgestel maar toe ek my bekeer het, het ek gevoel, dat ek groot gedoop behoort te word. Want, volgens wat ek die Woord verstaan het, wil ons Here, dat dit ‘n besluit moet wees wat ék neem.
Dan ook –
Al die mense wat Jesus na Hom geroep het in Sy wandel hier op aarde, het Hy in die openbaar na Hom geroep en hulle moes in die openbaar die stap neem om Hom te volg of nie.
Verder sê Jesus van Sy volgelinge die volgende:
HAN 1:8 “Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.”
Het jy gesien?
Jesus sê nie dat ek dalk, of miskien Sy getuie sal wees nie. Hy sê al Sy kinders sal Sy getuies wees.
Vir my was my doop die eerste stap van gehoorsaamheid en die begin van die uitlewing van my getuienis vir Hom.
Met my doop, op die Bybelse manier, deur onderdompeling, getuig ek in die openbaar aan alle mense, geeste en magte.
In hierdie voorstelling van die begrafnis van my ou mens en die opstanding van die nuwe mens, getuig ek:
Ek glo, dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het.
Ek glo dat Hy begrawe is.
Ek glo, dat Hy uit die dood opgestaan het.
Ek het hierdie Jesus, God wat mens geword het, aangeneem as my Verlosser en Saligmaker. Die ou Sakkie is nou dood. Ek is nou ‘n nuwe bloedgewaste kind van God, ‘n dissipel van Jesus.”
Ek het genoem dat ek nie net teenoor die mens nie maar ook teenoor alle geeste en magte hierdie getuienis bring.
Dat ek Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker en dat ek nou Sy dissipel is.
Luk 15:7 Net so sal die hemel blyer wees oor een sondaar wat tot inkeer kom as oor 99 ander wat regverdig is en nie afgedwaal het nie!”
As ek by ‘n doopdiens is en ek hoor hoe die persoon onderdompel word, want ek kan dit mos nie sien nie, omdat ek blind is en ek hoor weer die water as die persoon uit die water kom, is een van die groot gedagtes altyd in my hart, van die weer galmende juigkrete wat daar deur die heelal in die geesteswêreld trek, as die persoon, of dan nuwe skepsel, uit die doopbad klim.
2KOR 5:17 Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!
Wanneer mag iemand gedoop word?
Na my mening, wanneer die persoon Jesus aangeneem het as haar/sy Verlosser en Saligmaker en dan duidelik verstaan wat die simboliek van die doop behels.
HAN 2:37-39
37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
38 En Petrus sê vir hulle: (eerstens) Bekeer julle, (dan) en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
Na jou bekering, mag ‘n persoon verseker gedoop word.
Eintlik moet ek sê:
“Dan móét ‘n persoon gedoop word.”
Ek herhaal weer.
Vir my is die doop ‘n mededeling/verklaring/stelling in die openbaar aan alle mense en geeste en magte:
“In hierdie voorstelling van die begrafnis van my ou mens en die opstanding van die nuwe mens, getuig ek:
Ek glo, dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het.
Ek glo dat Hy begrawe is.
Ek glo, dat Hy uit die dood opgestaan het.
Ek het hierdie Jesus, God wat mens geword het, aangeneem as my Verlosser en Saligmaker. Die ou Sakkie is nou dood. Ek is nou ‘n nuwe bloedgewaste kind van God, ‘n dissipel van Jesus.”
Rom 6:4-8
4 Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ‘n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ‘n totaal nuwe lewe leef.
5 Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons ook saam met Hom opgewek word tot ‘n nuwe lewe.
6 Ons weet dat, ons ou sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.
7 Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde.
8 Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan Sy lewe.
Oor die jare het die kerk oral, al hoe meer dinge uit die Woord geneem, of vir die mens se gerief verander en gesê, dat dit nie meer vandag van toepassing is nie en na my mening haar getuienis en haarself verswak.
Een van die geweldig onbybelse verkeerdhede waarmee ‘n groot gedeelte van die kerk na my mening te voorskyn gekom het en in hierdie besondere geval sommer ‘n dubbele onbybelse leer, is die besprinkeling en dan nog baba besprinkeling en dit dan nog doop ook noem.
Ek kyk so na die verstommende handelinge van mense wat hierdie dinge doen en terwyl ek weet, dat die meeste van hulle wat hierdie onbybelse gebruik verkondig verder geleerd is as ek en daarom verseker daarvan bewus moet wees, dat die Griekse woord vir doop in die Oorspronklike manuskripte van die Nuwe Testament, omtrent sovêr weg verwyderd is van besprinkel en natgooi af, as wat die ooste van die weste af is.
Wel dan skud ek maar net my kop terwyl ek onthou dat Jesus by geleentheid in soortgelyke omstandighede vir Jesaja gekwoteer het:
Mat 13:14 En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.
Sommer so vir die interessantheid daarvan:
As ek dit nou nog reg onthou, het besprinkeling eers in die jaar 401 deel van die destydse kerk se kerkleer geword.
So, vir meer as 400 jaar na Christus, het Christene mense deur onderdompeling gedoop.
Groete,
Sakkie