BEDEL EN BEDELAARS

BEDEL EN BEDELAARS

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my, my opinie oor bedel en bedelaars.

Ek deel graag met jou wat ek aan die persoon geskryf het.

Om mee te begin natuurlik kyk ek altyd eers wat sien ek in die hoogste gesag wat ons Here vir my gegee het om te bestudeer, naamlik die Woord van ons Here.

Dan sien ek, soos ek die Woord verstaan, dat ons Here het altyd deernis vir bedelaars maar dan vir bedelaars wat ‘n, om dit so te stel, ‘n wettige, in Engels praat ons van “A legitimate reason” het om te bedel.

Ek kon die woord ‘grondige’  in die plek van ‘wettige’ gebruik het maar ek glo, as ek die Woord reg verstaan, is ‘wettige’ in sekere gevalle, wat ‘n Christen aanbetref, ‘n beter keuse.
Ek gee ‘n paar voorbeelde.
Eers die man wat aan die een of ander verskriklike siekte toestand gely het:

LUK 16:20-22 
20  En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het.
21  En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.
22  En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.

Dan is daar die blinde Bartiméüs:

MRK 10:46-52 
46 En hulle het in Jérigo gekom. En toe Hy en sy dissipels en ‘n aansienlike skare uit Jérigo uitgaan, sit die blinde man, Bartiméüs, die seun van Timéüs, langs die pad en bedel.
47  En toe hy hoor dat dit Jesus die Nasaréner was, begin hy om uit te roep en te sê: Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!
48  En baie het hom bestraf, dat hy moet stilbly; maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig!
49  Toe gaan Jesus staan en sê dat hy geroep moes word; en hulle roep die blinde man en sê vir hom: Hou goeie moed, staan op! Hy roep jou.
50  En hy gooi sy oorkleed af, staan op en kom na Jesus toe.
51  En Jesus antwoord en sê vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: Rabbóni, dat ek mag sien.
52  En Jesus sê vir hom: Gaan, jou geloof het jou gered. En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg.

Nog een voorbeeld, naamlik die kreupel man by die tempelpoort:

HAN 3:1-8 
1 En Petrus en Johannes het saam na die tempel opgegaan op die uur van die gebed, die negende uur.
2 En daar is ‘n sekere man aangedra wat van sy geboorte af kreupel was; hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort wat die Skone genoem word, om ‘n aalmoes te vra van die wat in die tempel ingaan.
3  Toe hy sien dat Petrus en Johannes die tempel wou binnegaan, het hy om ‘n aalmoes gevra.
4  En Petrus saam met Johannes het hom stip aangekyk en gesê: Kyk na ons.
5  En hy het sy oë op hulle gehou in die verwagting dat hy iets van hulle sou ontvang.
6  Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!
7  Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword.
8  En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys.

Terwyl in hierdie laaste voorbeeld dit wat aan ‘n bedelaar gegee word, ‘aalmoese’
genoem word, wil ek graag wys hoe ons Here na mense kyk wat aalmoese uitdeel.

Eers net die volgende oor die woord ‘aalmoes’.
Die woordeboek wat ek gebruik, naamlik die HAT, sê onder andere van die woord
‘aalmoes’ die volgende:
aalmoes, -e. Liefdegawe aan ’n behoeftige; van aalmoese lewe, uiters arm wees en net van geskenke lewe; …

Kyk net hoe voel ons Here oor mense wat met ‘n lekker gevoel in hulle harte aalmoese gee waar dit werklik nodig is

HAN 9:36-40 
36 En in Joppe was daar ‘n sekere dissipel in met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal word, beteken Dorkas. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het.
37  En in dié dae het sy siek geword en gesterwe, en hulle het haar gewas en in ‘n bovertrek neergelê.
38  En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom.
39  En Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan. En toe hy daar kom, bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder— en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was.
40  En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit.

In hierdie volgende voorbeeld, as jy self die hele gedeelte in die Woord gaan lees, sal jy sien watter, uit ‘n menslike oogpunt gesien, moeite ons Here gedoen het vir hierdie man:

HAN 10:1-5 
1 En daar was in Cesaréa ‘n man met die naam van Cornelius, ‘n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling.
2  Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God.
3  Hy het duidelik in ‘n gesig omtrent die negende uur van die dag ‘n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius!
4  En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom.
5  Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word.

Ek en my vrou doen feitlik al ons aankope met ‘n kaart maar ek het altyd gesorg, toe my vrou nog bestuur het, dat ek  spesifiek vir daardie doel, altyd kontant in ons motor het, om ‘n aalmoes gereed te hê.
Nou gaan ek egter iets sê wat baie mense seker gaan skok.
Ek gee verseker nie vir almal wat vir my om ‘n aalmoes vra, ‘n aalmoes nie.
Ek gee verseker nie vir iemand wat na drank ruik of wat rook iets nie.
As jy drank kon koop, het jy geld vir kos gehad.
As jy rook, het jy geld vir kos gehad.
Ek weet in baie gevalle is die grysgebied van; vir wié moet ek gee en vir wie nié, baie groot – maar ek glo as ek naby ons Here lewe, hoor ek Sy stem duidelik genoeg om nie uitgebuit te word nie.

Ek deel met jou ‘n voorbeeld uit my lewe:
By geleentheid naby waar ons gewoon het was daar ‘n parkeerarea waar ‘n middeljarige dame elke dag in of die bloedige son, stortreën, of bloedige koue mense se motors opgepas het vir ‘n aalmoes.
Eendag ry ek en my vrou en ‘n fris en gesonde man kom by ‘n verkeerslig na ons om ‘n aalmoes te vra. Terwyl hy aankom, omdat ek dit al met my vrou so bespreek het, vertel sy vir my hoe sy hom sien en nog voordat hy by die motor is, herinner ons Here my ook aan die ou dame in die parkeerarea en ek het natuurlik niks aan die fris jong man gegee nie.  Want, daar staan ook geskryf:

2 THS 3:10-12 
10 Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.
11  Want ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is.
12  Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet.

Dus my vriend/vriendin, laat ons naby ons Here lewe, sodat ons ook Sy stem duidelik
kan hoor;  wanneer ons ‘n aalmoes moet uitdeel en wanneer ons nie ‘n mens in haar of
sy kwaad moet sterk nie.
Terwyl ons terselfdertyd wat onsself aanbetref onthou:

THS 3:13 … moet nie in goeddoen verflou nie.

Groete,
Sakkie