BEGEEF JULLE NIE TOT DIE GEESTE VAN AFGESTORWENES EN DIE GEESTE WAT WAARSÊ NIE

BEGEEF JULLE NIE TOT DIE GEESTE VAN AFGESTORWENES EN DIE GEESTE WAT WAARSÊ NIE

Sakkie Parsons

Iemand wat na ‘n waarsêer gegaan het, het aan my geskryf en my ‘n paar vrae in die verband gevra.

Hier is hoe ek die persoon geantwoord het – Dit is hoe ek met die Woord as my hoogste gesag hierdie dinge verstaan en in my eie lewe uitlewe.

Ek het ‘n paar veranderings gemaak, waar ek die persoon kwoteer, omdat ek mense se privaatheid respekteer.
Hier is dan hoe ek hierdie saak sien:

Om oor hierdie saak – of dit van ons Here is om met die dooies te kommunikeer/gesels, of nie  – is dit die beste om by die begin te begin en die begin, is die Woord van ons Here.
So voordat ek van my kant af verder uitbrei oor hierdie saak, kom ons kyk wat sê die Woord:

LEV 19:31  “Moenie op geeste en waarsêers vertrou nie, want hulle sal jou onrein maak.  Ek, die HERE, is julle God.

DEU 18:10-12 …”Moenie betrokke raak by waarsêery of goëlery of by die interpretasie van voortekens of towery, 11of beswerings of iemand wat geeste oproep of iemand wat dooies raadpleeg nie.  12Enigiemand wat sulke dinge doen, is ‘n gruwel vir die HERE…”

LEV 20:27  Mans en vroue onder julle wat hulle besig hou met geeste of beswerings moet gestenig word.  Hulle is skuldig aan ‘n baie ernstige oortreding.”

1KRO 10:13 Saul is dood omdat hy ontrou aan die HERE was.  Hy het nie die HERE se opdrag gehoorsaam nie, en het selfs leiding by iemand gaan soek wat geeste oproep.

Met dít wat jy nou gelees het in my gedagte, lees ek en ek haal jou in my eie woorde aan:

“Op sy webtuiste sê hy dan ook dat hy 'n Christen is en sy gawe kom van die Here af – en voor en na elke sessie doen hy 'n gebed aan die Here en vra Hom Sy leiding.”

Ons Here sê, dat jy niks met sulke mense te doen mag hê nie.  Hy sê dit is vir Hom ‘n gruwel.  Hy sê, dat voordat die nuwe Testament, wat na Jesus se dood opgetrek is,  bestaan het, het Hy beveel dat mense wat so ‘n afskuwelike ding doen, doodgemaak moes word.
Dit is hoe afskuwelik hierdie, wat Hyself ‘n gruwel noem, vir Hom is.
Die persoon wat sogenaamd met dooies kan kommunikeer sê volgens jou skrywe aan my, dat ons Here hom die gawe gegee het.

Ons Here ken my hart, dat dit wat ek nou gaan sê, ek met die grootste  respek teenoor ons Here sê maar ek moet dit so sterk stel, sodat jy hierdie persoon se stelling kan sien met die Woord as riglyn.

Hoe jy ook al daarna kyk, die “bottom line” is dit:
Iemand lieg hier.
Óf ons Here lieg en dit is nie werklik vir Hom ‘n gruwel nie.
Óf hierdie persoon wat sogenaamd dooies oproep, lieg en hy kry sy – wat hy ‘n gawe noem  – nie van ons Here af nie.
Jy moet nou maar vir jouself besluit, wié lieg – ons Here in Sy Woord, of die persoon op sy webtuiste, of waar wié ookal so ‘n stelling maak.

Jy skryf ook, dat hierdie man sê, dat hy ‘n Christen is.
Ek wil nou net ‘n paar dinge uit die Woord in hierdie verband met jou deel.
JESUS sê:

MAT 7:21  “Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie.  Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.”

Met dít wat jy in die Woord lees, dink jy hy doen die wil van ons Here?
Nog iets –
Onthou jy, elke keer wat satan Jesus versoek het, het satan ons Here se Woord kwoteer.  Ek dink naas ons Here is daar niemand wat die Woord ken soos satan nie.
Geen wonder dan ook dat die Woord van hom en sy trawante sê:

2KOR 11:14  Geen wonder nie!  Die satan self gee immers voor dat hy ‘n engel van die lig is.
2KOR 11:15  Daarom is dit ook niks besonders dat sy diensknegte hulleself voordoen as dienaars van geregtigheid nie.  Hulle uiteinde sal wees wat hulle volgens hulle dade verdien.

Ons het ‘n gesegde:
“Hy loop met die Bybel onder die arm.”
Die satan sal, as dit hom pas, iemand na jou stuur met ‘n Bybel onder elke arm en albei hande vol traktaatjies.

Volgens wat ek in ons Here se heilige Woord lees, is een van die volgende twee ‘n absolute werklikheid as iemand vir jou sê, dat hulle met dooies kommunikeer:
Of hulle lieg vir jou en is dit net ‘n slenter om geld of aandag ens te kry.  Of dit is iemand wat deur demone, met demoniese booshede omgaan.

Iemand vra:
As dit dan nie hierdie of daardie is wie ek van anderkant die graf gesien het nie, wie was dit dan?

As satan na my kan kom, soos ‘n engel van die lig, watter menslike vermomming sal vir hom te moeilik wees?
Ons moet nooit vergeet, dat satan ‘n god is:

2KOR 4:3  As ons Goeie Nuus nog versluier is, is dit net bedek vir dié wat verlore gaan.
2KOR 4:4  Dit is die god van hierdie bedeling wat die gedagtes van die ongelowiges verblind sodat hulle die lig van die Goeie Nuus nie kan sien nie.  Dit is die Goeie Nuus van die heerlikheid van Christus, Hy wat die ewebeeld van God is.

Jy skryf, dat hy dinge aan jou kon vertel, wat net julle gesin van geweet het.

Dit is natuurlik nie werklik net julle wat daarvan geweet het nie.  Die bose god van hierdie wêreld, weet van die meeste van ons intiemste geheime en buiten dat hy net waar hy kan, mense sal probeer misbruik om die inligting wat hy het teen ons te gebruik, probeer hy nog daagliks om ons in ‘n slegte lig by ons Here ook te stel maar gelukkig sal dit alles ook tot ‘n einde kom.

OPG 12:10  Toe het ek ‘n kragtige stem in die hemel hoor sê:
“Nou het die verlossing en die krag en die koninklike heerskappy van ons God aangebreek, asook die mag van sy Christus.  Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.

Almal sê altyd:
“Jy sal nie glo hoe akkuraat hierdie mense is nie.”

Ek glo dit.  Natuurlik glo ek dit.  Want satan, die bose god van hierdie wêreld, moet met foefies en allerlei “tricks,” met die bietjie tyd tot sy beskikking, soveel mense as moontlik saam met hom hel toe sleep.

Ons moet ons ook nie deur sy godsdienstige “trick” om die bos laat lei nie.  Soos ek reeds gesê het, hy ken die Woord net so goed soos baie van ons en beter as die meeste van ons.
Hy sal selfs deur godsdiens probeer om sy “image” te bevorder maar soos altyd, as hy teen ‘n Geesvervulde te staan kom, val hy uit die bus uit.
Lees byvoorbeeld hier:

HAN 16:16  Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ‘n slavin met ‘n waarsêersgees ons raakgeloop.  Deur haar waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld ingebring.

Kyk nou hoe misbruik satan godsdiens, om sy waarsê beeld (“image”) te bevorder.

HAN 16:17  Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu:  “Hierdie mense is diensknegte van God die Allerhoogste!  Hulle verkondig aan julle die pad na verlossing.”

Toe val satan maar weer uit die bus uit.  Want in plaas van dat sy “image”
bevorder word, word ‘n mens bevry:

HAN 16:18  Sy het dit vir baie dae gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie.  Hy het omgedraai en vir die gees gesê:  “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus:  Gaan uit haar uit!”  Die gees het oombliklik uit haar gegaan.

Jy vra of dit  werklik so verkeerd gewees het om na die persoon te gaan.
Dit is nie net lewensgevaarlik nie, want op die ou end word jou lewe verwoes.
Dit is verseker ewige lewensgevaarlik.

JESUS sê:

MAT 6:24  “Niemand kan tegelyk twee base dien nie.  Hy sal óf ‘n renons in die een hê en van die ander een hou;  óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een geringskat…”

Daarom sê ons Here dan ook dat ons van die dinge moet weg bly, want Hý is ons Here na wie ons moet gaan.

Die Ou Vertaling stel dit so:

LEV 19:31  Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die HERE julle God.

Nou is die vraag:
As ek uit onkunde na ‘n waarsêer gegaan het, sal ons Here my vergewe, as ek werklik berou het?

Daar is nie sonde waaroor jy en ek wérklik berou het, wat nie deur die bloed van Jesus skoon gewas kan word nie.

1JHN 1:9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

1JHN 1:7  As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar, en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde.
                 

(Ek het ook 'n skrywe "Is dit verkeerd om met dooies te probeer kommunikeer?" geantwoord wat ook op die Webtuiste beskikbaar is of ek kan dit op aanvraag met graagte aanstuur.)

Groete,
Sakkie