BEGIN BY DIE BEGIN

BEGIN BY DIE BEGIN

Skrywer:  Sakkie Parsons

So ‘n ruk gelede stuur iemand vir my die volgende wysheid:

"Do not spoil what you have by desiring what you do not have. Rather remember what you have now was once among the things you only hoped for."

Hierdie wysheid sit my gedagtes toe aan die gang en ek deel nou graag met jou wat ons Here vir my gegee het:

GAL 5:16  Ek sê:  “Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word.  Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie.

Iemand sê dalk: “Dit is alles goed en wel maar hoe kry ek dit reg om in die Gees te wandel?  Waar en hoe begin ek?”

Begin by die begin –

HAN 2:37 Petrus se woorde het hulle diep geraak.  Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra:  “Broers, wat moet ons doen?”
HAN 2:38  Petrus antwoord hulle:  “Kom tot inkeer en maak reg met God.  Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang.
HAN 2:39  Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.”

Omdat ek nie in toeval glo nie, is vir my die bewys dat ons Here jou na Hom geroep het, die blote feit dat jy hierdie e-pos oopgemaak en reeds tot hier gelees het. Net Hy en jy weet of jy al geantwoord het op Sy roep en of Hy nou weer by jou pleit.

Want jy sien, daar staan dit:

HAN 2:39  Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.”

As jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, luister jy net baie mooi na Sy Gees se Stem wat deurlopend in jou binneste praat en jou leiding gee en jy sal in die weë van ons Here bly wandel. 

JHN 14:26  “en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”
JHN 14:27  “Ek laat vir julle vrede na;  my vrede deel Ek met julle.  Ek gee nie soos die wêreld gee nie.  Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie.”

As jy doen wat ek jou nou gewys het, kom jy werklik op daardie heerlike punt in jou lewe en wat hierdie saak aanbetref kan ek met vrymoedigheid Job se woorde op my van toepassing maak:

JOB 42:5  “Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien.”

Soos ek gesê het – as jy doen wat ek jou nou uit die Woord gewys het, kom jy heerlik op daardie punt in jou lewe waar die lewe ‘n fees is omdat jy verseker weet:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Jy moet egter, en ek kan dit nie genoeg benadruk nie,  jy moet na Sy Gees se stem luister wat gedurig in jou binneste vir jou lei en waarsku en jy moet gehoorsaam aan daardie stem wees. Want onthou:

EFE 2:10  “want ons is God se handewerk.  Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.”

Wat die begeertes van hierdie wêreld aanbetref, kan ek maar net die Woord kwoteer:

1PET 2:11  Geliefdes, omdat julle uitlanders en bywonders is, waarsku ek julle om nie aan julle natuurlike geneigdheid toe te gee nie.  Dit verwoes net ‘n mens se lewe.
1PET 2:12  Handhaaf ‘n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag.  Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra.

Dan moet ons ook onthou:

1JHN 2:17  Dié wêreld én sy begeertes is aan die verbygaan.  Wie die wil van God uitvoer, leef egter vir altyd.

Ten slotte: Wat die rykdom en “rat race” van hierdie wêreld aanbetref nog net dit:

HEB 13:5  Hou julle lewe vry van die honger na geld.  Laat wat julle het, vir julle genoeg wees.  Onthou dat God die versekering gegee het: 
“Ek sal jou nie los nie.  Ek sal jou nie in die steek laat nie.”

HEB 13:6 Daarom kan ons moed skep en antwoord: 
“Die Here is my hulp,
Daarom sal ek nie bang wees nie. 
Wat kan nietige mensies my aandoen?”

                 

Groete,
Sakkie