BEKERING, WATERDOOP EN WEDERGEBOORTE

BEKERING, WATERDOOP EN WEDERGEBOORTE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:
“Ek het die volgende vraag – wat is die verskil tussen bekering, waterdoop en wedergeboorte?”

Ek wil dan so begin en dit is jammer dat ek so moet begin maar dit is die realiteit.
Die meeste mense wat hulleself Christene noem sal vir jou sê hulle het hulleself bekeer en is gedoop en baie van hulle sal ook vir jou byvoeg, dat hulle wedergebore is en tog kan jy maar net na die Christenwêreld kyk om te besef, dat die meeste mense wat hulleself Christene noem, nog oppad hel toe is en dit is so baie herders se skuld.  Omdat hulle terwille van getalle en ander saamlopende redes mense doop, is die enigste werklike verskil van die meeste mense voor hulle doop en na hulle doop, dat hulle nadat hulle gedoop is vir ‘n kort tydjie nat is.

Ek wil dan om dit eenvoudig en in een skrywe te hou, hoofsaaklik fokus op een gedeelte uit die Woord naamlik:

HAN 2:38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

Ons begin dan met:

HAN 2:38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God.

Die woordeboek noem as ‘n sinoniem van “bekeer” “inkeer” en dit is ook hoe die vertaling wat ek gebruik die word gebruik en ook hoe ek die Woord verstaan.
Geen mens kan tot inkeer kom en met God regmaak, as hy/sy nie sy/haar hart oopgemaak het en Jesus Christus ingenooi en aangeneem het as sy/haar Verlosser en saligmaker nie:

OPB 3:20-22 
20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die fees-ete saam geniet.
21  Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
22  Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

So wat beteken:

HAN 2:38  Petrus antwoord hulle: Kom tot inkeer en maak reg met God. …

Of soos die Ou Vertaling dit stel:

HAN 2:38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, …

Kyk net hoe absoluut pragtig sit my groot held Paulus in Handelinge 26:20 uiteen wat “bekering/inkeer” behels:

HAN 26:20  Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die nie-Joodse nasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en na God toe moet omdraai, terwyl hulle met hulle doen en late bewys dat hulle tot inkeer gekom het.

Sien jy wat behels bekering/inkeer?
Ek moet tot inkeer kom, dit is besef, dat Jesus Christus die begin en einde van my geloof is.  Daarmee saam moet ek my rug draai op my sondige lewe wat ek gelewe het na God toe en dan moet my lewe dit deur woord en daad vir die hele wêreld wys en die eerste daad van my inkeer/bekering en omdraai na God toe is my gehoorsaamheid, deur my te laat doop, waar die ou ek dood is en begrawe word.

Nou dan oor die waterdoop:

HAN 2:38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, …

Hier laat ek dit aan my groot held Paulus oor om die doop en waarom die doop gaan aan jou te verduidelik soos wat hy dit deur die Heilige Gees ontvang het om aan ons oor te dra:

ROM 6:1-13
1 Beteken dit nou dat ons in die sonde moet voortlewe sodat die genade steeds oorvloediger kan word?
2  Hoegenaamd nie! Ons is immers dood vir die sonde. Dis tog onmoontlik dat ons nog langer daarin kan voortlewe!
3  Of het julle vergeet dat ons met ons doop een geword het met Christus Jesus en so saam met Hom gesterf het?
4  Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ’n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ’n totaal nuwe lewe leef.
5  Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons ook saam met Hom opgewek word tot ’n nuwe lewe.
6  Ons weet dat ons ou, sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.
7  Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde.
8  Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan sy lewe.
9  Ons weet dit omdat Christus uit die dood opgewek is en nooit weer sal sterf nie. Die dood het geen mag meer oor Hom nie.
10 Hy het eens en vir altyd vir die sonde gesterf en nou leef Hy vir God.
11 Julle moet dus ook vir seker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle met Christus Jesus één is.
12 Julle moet dus nie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie.
13 Julle is betrokke in ’n geestelike oorlog. Moenie langer julle liggaamlike vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir die sonde beskikbaar stel nie, maar stel julleself voortdurend vir God beskikbaar omdat julle uit die dood weer lewendig geword het. Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking.

Dan.
Wat is wedergeboorte?

Wedergeboorte is om as ‘n ander mens uit die doopbad te klim en nou die Heilige Gees inwonend in my te hê.
Na wie ek nou altyd luister, om my te help terwyl ek in gehoorsaamheid van daardie oomblik af my lewe begin verander.

HAN 2:38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

Hier om dan wáre wedergeboorte te verduidelik, herhaal ek net die laaste gedeelte van wat jy nou oor die doop gelees het:

ROM 6:11-13
11 Julle moet dus ook vir seker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle met Christus Jesus één is.
12 Julle moet dus nie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie.
13 Julle is betrokke in ’n geestelike oorlog. Moenie langer julle liggaamlike vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir die sonde beskikbaar stel nie, maar stel julleself voortdurend vir God beskikbaar omdat julle uit die dood weer lewendig geword het. Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking.

Ek sluit af met die volgende, omdat die waterdoop wat in die vraag geopper is so ‘n heilige sakrament is.

Wat dan nou as ek verkeerd gedoop is, of gedoop was toe ek nog, weens een of meer van verskeie redes nog nie gereed was om gedoop te word nie?

In so ‘n geval is ek dan nog nie regtig gedoop nie en behoort ek my te laat doop.
Let op ek sê nie, dat ek “weer” gedoop moet word nie, omdat ek gewoon verkeerde doop of vals doop nie in die ware sin doop soos ek dit uit die Woord verstaan kan noem nie.
As ek sou twyfel oor my doop, sou ek myself laat oordoop het.  Want my twyfel is die bewys dat ek vir welke rede ook al in my hart nie regtig volgens die Woord gedoop is nie.
Die volgende uit die Woord is na my mening op alle afdelings van die Christen se christelike beginsels en leefwyse van toepassing, ook op my doop:

ROM 14:23  Maar as jy twyfel en tog eet, staan jy veroordeel omdat jy nie volgens jou geloofsoortuiging handel nie. Alles wat jy nie uit volle geloofsoortuiging doen nie, is sonde.