BELY SOVER DIT IN DIE LIEFDE IS

BELY SOVER DIT IN DIE LIEFDE IS

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en gevra wat onder andere hierop neergekom het:  Of ons altyd alles wat ons teen iemand gesondig het aan hulle moet bely?

Hier is hoe ek hierdie saak uit die Woord verstaan en probeer uitlewe:
Onthou ook, dat ek hier eers praat van Christene teenoor Christene

Die een gedeelte wat soms wat ek die Woord verstaan ‘n bietjie verkeerd gebruik word om aan te toon dat ons ons sonde teenoor mekaar moet bely, kry ons in JAK 5:16 maar ek begin kwoteer vanaf vers 14:

JAK 5:14-16 
14  Is daar van julle wat siek is?  Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom.  Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid.
15  En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word;  die Here sal hom laat opstaan.  En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word.
16  Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word.  Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige werking.

Hierdie gedeelte is op ‘n gelowige wat hom/haar in ‘n baie spesifieke situasie bevind.  Hy/sy is siek en dit is vir my persoonlik baie duidelik dat dit hier net om ‘n siek persoon en sy of haar situasie gaan.
Daar is ook ander gedeeltes wat mense soms saam met JAK 5:16 gebruik om te bewys dat ‘n mens jou sonde teenoor ander mense moet en ek stres moet bely en ook daar word die gedeelte uit die Woord na my mening uit verband gebruik en ek noem net twee gedeeltes:

EFE 4:32  Wees eerder vriendelik met mekaar.  Gee vir mekaar om.  Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.

Hier is dit duidelik dat ons ander mense moet vergewe wat iets verkeerd teenoor ons gedoen het en daardie persoon word nie verplig om eers hulle verkeerd teenoor my te bely nie. 
Net soos wat ek nie verplig word om teenoor hulle eers te bely nie. 
Ek moet hulle net vergewe, soos Christus my vergewe het en andersom.
Ons lees ook:

KOL 3:13  Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar.  Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het.

Ek moet my medemens vergewe.  Soos Christus my vergewe het.  Dit is so eenvoudig soos dit is.

Onthou jy hoe het Jesus ons onder andere geleer om te bid, wat hierdie saak aanbetref?

MAT 6:12  “En vergeef ons, ons sondeskuld soos ons ook ons skuldenaars vergewe het.”

Want jy sien:

MAT 6:14  “As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.
MAT 6:15  Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Weer sê ek:
Dit is so eenvoudig soos dit.
Uiteindelik werk dit soos ek hierdie aangeleentheid verstaan, as volg:

Ek moet daaraan werk dat daar geen gevoel van onvergewingsgesindheid in my hart is nie en omdat ons met mense te doen het, moet ek bid en mooi, baie mooi luister na die stem van die Heilige Gees in my hart, vóórdat ek dit wat ek verkeerd aan iemand gedoen het, sommer goedsmoeds  aan die persoon ook bely, as daardie persoon nie van my sonde weet nie – en wat die persoon self aanbetref – nie benadeel is nie maar en ek weet ek sê dit baie, ek moet verseker in volle opregte berou dit altyd aan ons Here bely en ons Here se vergifnis vra.

Ek byvoorbeeld sou nie eens nou wil hoor as my vrou êrens in die verre verlede in ‘n oomblik van swakheid ontrou aan my gewees het nie en soos wat ek my vrou ken, sal ek ook nie haar verhouding met my eens effe wil vertroebel deur teenoor haar bely dat ek byvoorbeeld êrens in die verlede aan haar ontrou gewees het nie.
Dit gaan die wonderlike verhouding wat daar nou tussen ons is net in gedrang bring en dalk onherroeplik vertroebel.

Nog ‘n voorbeeld om te wys hoe onwys dit sal wees om sommer sonder gebed en sonder om mooi na die Heilige Gees se stem te luister, iemand trompop te loop en jou sonde teenoor daardie persoon te bely is die volgende:
Ek loop in ‘n winkel en sien ‘n mede-Christendame en kry, kom ons noem dit, verkeerde gedagtes oor haar.
Ek kan mos nou nie na haar loop en sê:
“Verskoon my suster, maar ek wil net bely toe ek jou sien het ek verkeerde dinge aangaande jou gedink, vergewe my asseblief.”

Natuurlik moet ek dadelik satan bestraf en vir ons Here vergifnis vra.

Sê nou egter, dat ek êrens in die verlede van haar, kom ons sê, ‘n R1,000 gesteel het, dit het bepaalde gevolge vir haar gehad.  Dan behoort ek na haar te gaan en dit te bely en ook regmaak wat reggemaak behoort te word.
So, ek sê verseker nie dat ons nooit ons verkeerd, of dan sonde teenoor iemand behoort te bely nie – maar ek sê, dat nadat ek dit met opregte berou aan ons Here bely het en in opregtheid oor my belydenis aan die persoon gebid het, ek dan mooi, baie mooi,  na die Heilige Gees moet luister en steeds biddend die hele situasie in oënskou moet neem en dan myself die vraag vra:
Wat sou Jesus nou gedoen het? As ons werklik eerlik en opreg, soos ek genoem het, eers vir ons Here se vergifnis gevra het en dan biddend alles oorweeg het, sal ons weet wat ons moet doen.

Om dan op te som:
Ek moet verseker altyd in eerlike opregtheid al my sondes teenoor ons Here bely en Sy vergifnis vra
Dan behoort ek ook altyd na die beste van my vermoë te probeer om gevoelens tussen iemand anders en myself uit die weg te ruim.  Of ek nou teen die persoon gesondig het of nie:

MAT 5:23 “ As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ‘n grief teen jou koester,  (of jy onthou, dat jy iets teen hom het)
MAT 5:24  los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede (of versoen jou) met daardie persoon.  Kom dan terug en bring jou offer.” (dan sal jou gawe aanneemlik vir ons Here wees en sal jou verhouding met jou Vader ook wees wat dit behoort te wees).

Met ander woorde:  Jou godsdiens (jou gawe na die altaar bring) skop, om dit so te stel, eers behoorlik in, as jy weet dat ‘n mede-Christen het slegte gevoelens teen jou en jy maak eers met die persoon reg so ver dit vir jou moontlik is.
Onthou nou.  Dit is ‘n persoon wat iets teen jou hou.

So, dit beteken verseker nie dat jy sommer elke persoon teen wie jy iets verkeerd gedoen het, jy sommer die persoon elke keer trompop moet storm en om dit so te stel, te verswelg met al jou belydenisse nie.
As dit iets is wat jy gedoen het waarvan die persoon weet, moet jy natuurlik dit teenoor hom/haar bely en vergifnis vra.

Bid altyd en luister mooi, baie mooi na die Heilige Gees  oor of jy ‘n spesifieke sonde, waarvan net jy en ons Here weet,  teenoor daardie persoon moet bely maar nie net of jy dit moet bely nie maar as jy dit moet bely, ook hóé jy dit moet bely.  Want jy gaan dit teenoor ‘n feilbare mens bely.

Uiteindelik, gaan jou belydenis teenoor die persoon teen wie jy gesondig het, as jy dit teenoor hom/haar bely, die volgende gevolge moet hê, of dan aan die volgende kriteria moet voldoen, anders gaan jy net dalk een verkeerd in ‘n net groter tragedie verander:

ROM 12:17  Moenie vir enigiemand kwaad met kwaad terugbetaal nie; wees positief teenoor alle mense.
ROM 12:18  Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.
ROM 13:10 Die liefde doen niemand kwaad aan nie.  Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.
(die vervulling van die wet)

Wat mense in die wêreld aanbetref, is dit vanweë die beheer wat satan in hulle lewens het net nie moontlik om met hulle selfs net oor vergifnis te praat nie.

Daarom, bely en vra ons Here altyd in opregtheid vergifnis en leef dan so ver jy kan, wat jouself aanbetref, in vrede met almal:

ROM 12:18 …as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. (OV)

MAT 5:9  “Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir hulle sê:  ‘Julle is Mý kinders’”

Iemand stuur vir my die volgende wyse woorde van wyle Ena Murray en ek deel dit graag met jou:
 
“Bieg is ‘n goeie ding, maar dis net toelaatbaar as jy nie ander onskuldige mense daardeur seermaak nie.  As dit ander gaan kwets, ander se sielevrede benadeel, moet dit bly.”

Rakende hierdie onderwerp is daar nog ‘n Gedagte uit die Woord geskryf naamlik:  “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word” wat ek op aanvraag met graagte aan jou stuur.

Groete,
Sakkie