BEPLAN ALLES WAT WAAR, EERBAAR, SKOON, SUIWER, LIEFLIK EN LOFWAARDIG IS

BEPLAN ALLES WAT WAAR, EERBAAR, SKOON, SUIWER, LIEFLIK EN LOFWAARDIG IS

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:
“Ons wil asb weet hoe weet jy watter kerk is die regte kerk vir jou?“

Ek wil, voordat ek hierdie vraag aan my, probeer antwoord, net die volgende stelling maak soos ek dit in my hart sien.

Ek word van tyd tot tyd gevra hoekom daar so ‘n groot verskeidenheid Christen denominasies is. Persoonlik dink ek dit is omdat die mens, om dit so te stel, so geweldig divers geskape is.

Ongelukkig het die satan die mens se diversiteit natuurlik al lankal uitgebuit.

Daarom kry jy vandag dat die een denominasie hier iets uit die Woord haal: “omdat dit nie meer vandag op ons van toepassing is nie” en ‘n ander denominasie weer iets anders uit die Woord haal: “omdat dit nie meer vandag op ons van toepassing is nie.”

Dan is daar die denominasies wat weer iets in hulle verkondiging van die Evangelie sit wat jy nie in die Woord kry nie en so ook, ‘n evangelie maar nie díe Évangelie verkondig nie.

Dan is daar ook die, kom ons noem hulle maar vir die oomblik “soort van kerke” omdat hulle self graag as kerke bekend wil staan wat onder die naam van Christus, sommer na my mening, iets boos verkondig, wat verseker nie die Evangelie van Jesus Christus is nie.

As ek van “diversiteit” praat, bedoel ek verseker nie die soort diversiteit wat – en hoe hartseer is dit nie – wat satan in die Christendom laat insluip het nie.  Kom ek demonstreer wat ek bedoel met die volgende voorbeeld:

My vrou hou daarvan om te aanbid in ‘n gemeente waar, om dit so te stel, die dienste lekker lewendig is.

Ek weer, hou van ‘n diens waar, om dit so te stel,  dinge heerlik rustig gaan maar in albei gevalle, word die ware Evangelie van Jesus Christus verkondig.

Ons Here, so verstaan ek dit, deur die regte soort diversiteit, kan jy maar sê, het Hy vir al Sy kinders “ge-cater.”

Soos ek reeds genoem het is daar ook ‘n paar, wat ek maar “sogenaamde Christen gelowe” sal noem,wat ek persoonlik nie as deel van die Christen geloof sien nie.

So, waarna sou ek sê moet jy kyk as jy ‘n gemeente soek waar jy ons Here wil dien?

Heel eerste:

Is hierdie gemeente se belydenis dat jy slegs die ewige lewe kan beërwe as jy Jesus Christus aanneem as jou Verlosser en Saligmaker?

JOH 14:6 “Jesus sê vir hom: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

HAN 4:12 "Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie."

As daar enige iets anders verkondig word, wat in stryd hiermee is, moet jy dadelik met hierdie mense breek.

Dit is werklik lewensgevaarlik, ewige lewensgevaarlik, om verder met hulle soort evangelie iets te doen te hê:

GAL 1:6-9 
6 “Ek is verstom oor wat julle gedoen het. Hoe kon julle so gou julle rug op God draai? Op Hóm wat julle deur Christus se genade na Hom toe geroep het!
      Julle het julle ore uitgeleen vir 'n ander "Goeie Nuus".
7  Maar daar is geen ander Goeie Nuus nie! Al wat daar is, is 'n paar mense wat julle deurmekaarmaak, ja, wat die Goeie Nuus van Christus wil verdraai.
8  Vervloek is elkeen wat 'n ander boodskap verkondig as wat ons aan julle verkondig het, al sou dit ons self of 'n boodskapper uit die hemel wees.
9 Ek herhaal: Vervloek is elkeen wat 'n ander boodskap verkondig as dié een wat julle ontvang het!”

Dan moet die gemeente se getuienis ook insluit dat die Bybel in sy geheel, die onfeilbare Woord van God is:

2TIM 3:16  “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Hier is ook die een en ander waarna ek sou kyk om te sien of hulle die Evangelie van Jesus verkondig, en of hulle sommer net ‘n evangelie verkondig:

As die gemeente eksklusief net vir ‘n sekere kultuur of bevolkingsgroep toeganklik is, verkondig hulle nie die Evangelie van Jesus Christus nie – al noem hulle Sy Naam ook hoeveel keer in een van hulle dienste.
Hyself sê onder andere van mense wat Hom so wil dien:

MAT 7:21 “Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie.  Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.”

Daar is denominasies van wie ons Here sê:

MAT 7:22 Baie sal vir My op die oordeelsdag sê: ‘Here, Here, ons het dan in U Naam gepreek en in U Naam duiwels uitgedryf en in U Naam baie wonders verrig!’
MAT 7:23 Dan sal Ek hulle antwoord: ‘Julle was nog nooit werklik Mý mense nie.  Gaan weg van My af!  Julle het nie gedoen wat voor God reg is nie.’”

Die gemeente waar jy wil aanbid, moet onthou wat die bevel aan ons aangaande die verkondiging van die Evangelie is, en dit so verkondig en uitlewe:

MAT 28:19 “Gaan dan, maak al die nasies My dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”

As ek dan na my mede-broers en -susters, wat ek of iemand anders uit alle nasies na ons Here gelei het, kyk, moet ek met Christelike liefde, met hierdie heerlike wete na hulle kyk:

KOL 3:11 “In hierdie nuwe lewe is daar nie langer sprake van Griek of Jood, besny of onbesny, ongekultiveerd, barbaars, slaaf of vry man nie. Al wat saak maak, is Christus wat alles in elkeen is.”

Nog iets wat vir jou moet sê of die gemeente waar jy wil aanbid, ‘n evangelie maar nie díé Evangelie verkondig nie, is as hulle evangelie verkondig dat dit altyd met ‘n kind van ons Here moet goed gaan.

Die grootste sondebokke met hierdie soort evangelie is, soos ek dit sien, die “prosperity preachers.“  Luister wat sê Jesus:

JOH 16:33 “Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin."

Luister ook wat sê my groot held Paulus, die man aan wie ons Here die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het:

2KOR 4:6-9
6 “God het gesê: "Laat daar lig skyn uit die duisternis." So het Hy ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus
7 Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – ( ons verganklike liggame) die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie.
8 Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie;
9 ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie.”

Jy sien –

Ons het nie die soort tydelike geluk en vrede van hierdie wêreld nie. Dit wat ons het, kan geen geld of genot van hierdie wêreld ons gee nie.

Laat ek dit so stel en myself as voorbeeld gebruik, omdat dit ook die voorbeeld is wat ek die beste ken:

Ek het nie baie geld of baie besittings nie maar ek het geluk en vrede in my hart en in my lewe.

Van watter vrede en geluk praat ek?

JOH 14:26 “… en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in My Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner
      aan alles wat Ek vir julle gesê het.
JOH 14:27 "Ek laat vir julle vrede na; My vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.”

As ek hier al die soort evangelies wat verkondig word moes noem, waarvoor jy moet wegvlug, sal hierdie ‘n ellelange lys wees.

So, terwyl jy ‘n gemeente soek om by te aanbid, onthou om gedurigdeur vir die Heilige Gees se leiding te bid.

Dan, as jy op ‘n gemeente besluit het, voordat jy by daardie gemeente inskakel, vind so veel as moontlik uit omtrent hulle leerstellings, sodat jy kan sien of jy jouself met hulle kan of mag vereenselwig.

Gesels ook met iemand wat jy ken, wat die vrugte dra wat by die bekering pas.

Vir nou volstaan ek met nog net een voorbeeld van ‘n kerk waarmee jy na my mening niks, absoluut níks te doen moet hê nie:

As die kerk wat jy besoek enige iets in hulle soort prediking bevat wat mense in die hier-namaals betrek, vlug van hulle weg.

LEV 19:31  "Moenie op geeste en waarsêers vertrou nie, want hulle sal jou onrein maak.  Ek, die HERE, is julle God."

LEV 20:6  "As iemand onder die volk  ontrou is deur geeste of waarsêers te raadpleeg, sal Ek teen hulle optree en hulle afsny van die gemeenskap."
LEV 20:7  "Sonder julleself af om heilig te wees, want Ek, die HERE, is julle God."

Uiteindelik my vriendin en vriend.

Waar jy ookal gemaklik gaan wees om ons Here saam met ander gelowiges te aanbid, dien ons Here soos wat Hy wil dat ons Hom moet aanbid:

JOH 4:23 “Daar kom egter 'n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit 'n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid.”

As jy ons Here so wil aanbid, maar jyself is nie seker hoe om te begin nie, dink ek ‘n goeie kriteria om te volg is die volgende, en daarmee sluit ek dan hierdie skrywe af:

Lees die Woord baie.

Bid, met ander woorde gesels baie met ons Here.

Raak betrokke in die gemeente waar jy aanbid en laat die volgende in jou lewe ‘n werklikheid word en bly:

FIL 4:8 “Ten slotte, liewe broers en susters, beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.”

Groete,
Sakkie