BESNYDENIS, BABADOOP EN DIE NUWE VERBOND

BESNYDENIS, BABADOOP EN DIE NUWE VERBOND.

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my, wat min of meer so gaan:

“Hoe werk die besnydenis van babas in die Ou Testament op babas van die Nuwe Testament?
Is dit waar, dat die baba doop in die plek van die besnydenis gekom het?”

Voor ek hierdie twee in een vraag antwoord, kom ek deel eers met jou ‘n bietjie oor die ontstaan van die besnydenis, soos ons dit in die Woord vind.
Die besnydenis het ontstaan met ‘n verbond tussen Abraham en ons Here:

GEN 17:9-14
9 “Jou deel van die ooreenkoms,” sê God vir Abraham, “is om die voorwaardes van die verbond na te kom. Dit geld vir jou en al die geslagte ná jou.”
10 Dít is my verbond wat jy en jou nageslag (die Hebreërs, of dan Jode)moet onderhou: Elke manlike persoon onder julle moet besny word.
11 Julle moet aan die voorhuid besny word. Dit is die teken van die verbond tussen My en julle.
12 Elke seun moet op die agtste dag na geboorte besny word. Dit geld nie net jou familie nie, maar ook alle slawe wat in jou huishouding gebore word en dié wat as slawe gekoop word.
13 Almal moet besny word. So sal julle aan julle liggame die teken dra van my ewigdurende verbond.
14 Elkeen wat nie besny is nie, sal afgesny word van God se belofte omdat hy die verbond verbreek het.”

Het jy gesien?
Net Mans is besny.  Geen besnydenis van watter aard ook al was op vroue van toepassing nie.

GEN 17:10 Dít is my verbond wat jy en jou nageslag moet onderhou: Elke manlike persoon onder julle moet besny word.

Die besnydenis het gegeld vir elke manlike Hebreër wat gebore was en vir elke ander manlike persoon uit ‘n ander nasie wat op die een of ander wyse deel van ‘n Hebreër gesin geword het.

GEN 17:12 Elke seun moet op die agtste dag na geboorte besny word. Dit geld nie net jou familie nie, maar ook alle slawe wat in jou huishouding gebore word en dié wat as slawe gekoop word.

Hier is dit na my mening verder ook baie belangrik om kennis te neem, as jy ‘n parallel tussen die besnydenis en die doop van die Nuwe Testament wil trek, dat nie net is alleenlik manlike babas en soms ook volwasse mans besny nie – maar en dit is baie, baie belangrik om te onthou:  Jy is besny ongeag of jy ons Here wou dien, of hoegenaamd iets met ons Here te doen wou hê.
Jy is besny gewoon omdat jy die een of ander verbintenis met  ‘n Jood/Hebreër gehad het.

GEN 17:12 Elke seun moet op die agtste dag na geboorte besny word. Dit geld nie net jou familie nie, maar ook alle slawe wat in jou huishouding gebore word en dié wat as slawe gekoop word.

Waarvolgens die Nuwe verbond in die Nuwe Testament moet jy glo en gered wees voordat jy op ‘n Christelike wyse gedoop mag word.

HAN 2:38 Petrus antwoord hulle: "Kom tot inkeer en maak reg met God. (Dan en dan alleen) Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

In ‘n ouer Vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

HAN 2:38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, (dan daarna) en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Verder lees ons:

HAN 2:41 Dié wat Petrus se boodskap aanvaar het, (wat babas en klein kindertjies nie kon of kan  doen nie) is gedoop en hulle het lede van die kerk geword. Hulle was so 3000.

Nog verder lees ons:

HAN 8:12 Nou het die mense egter Filippus se Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God en die Naam van Jesus Christus in die geloof aanvaar. Gevolglik is baie mans en vroue (maar nie een baba of kindjie nie) gedoop.

Ons lees van Filippus en die ontmande Etiopiër die volgende en hiermee volstaan ek wat hierdie aspek van die saak aanbetref:

HAN 8:35-38
35 Filippus het toe by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom vertel.
36 Op pad kom hulle by water aan, en die ontmande sê: "Kyk, daar is water! Waarom kan ek nie gedoop word nie?"
38 Hy het toe die wa laat stilhou, en hulle twee het in die water gegaan, en Filippus het hom gedoop.

In ‘n ouer Vertaling lees hierdie gedeelte as volg.

HAN 8:35-38 
35 En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig.
36  En terwyl hulle voort reis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?
37  Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.
38  En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het al twee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.

Dan ook moet diegene wat so los en vas verkondig dat die doop, of dan baba besprinkeling in die plek van die besnydenis gekom het ook maar weer gaan kyk na die volgende wat my groot held Paulus oor die besnydenis skryf naamlik:

GAL 5:2-6
2 Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle, julle laat besny, sal Christus niks vir julle beteken nie.
3 Ek sê dit weer: Elkeen wat besny word, is verplig om die hele wet na te kom.
4 Julle wat deur God vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, het julle van Christus losgemaak. Julle het God se genade verbeur.
5 Wat ons betref, die Gees laat ons uitsien na dit waarop ons hoop: vryspraak deurdat ons glo.
6 Vir mense wat met Christus verenig is, is dit nie belangrik of jy besny is of nie besny is nie. Wat egter wel belangrik is, is geloof wat deur liefde dade word.

Verder:

GAL 6:14 Maar ek – ek wil my op niks anders beroem as die kruis van ons Here Jesus Christus nie. Want daardeur is die wêreld vir my gekruisig, en ek vir die wêreld.
GAL 6:15 Dis nie belangrik of iemand besny of nie besny is nie, maar dis belangrik of iemand 'n nuwe mens is.

Met ander woorde jy kan GAL 6:15 ook as volg lees:

GAL 6:15 Dis nie belangrik of iemand besny (besprinkel) of nie besny (nie besprinkel) is nie, maar dis belangrik of iemand (haar/hom tot Jesus bekeer het) 'n nuwe mens is.

So my vriend / vriendin –
Geen doop van watter aard ook al het hoegenaamd enige betekenis, as jy nie eers Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie.  Àlles, om dit so te stel, begin daar:

JOH 1:12 Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

JOH 3:16 "God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Ten slotte moet ek ook net die volgende baie duidelik stel vir diegene wie se kindjie nie as baba gedoop / besprinkel is nie:

Verseker het jou kindjie niks verloor omdat sy/hy nie besprinkel is nie.
Vir my is dit baie duidelik uit die Woord, dat alle kindertjies, selfs as hulle ouers nie gelowig is nie –
Ja, dat alle kindertjies wat nog nie die ouderdom van toerekenbaarheid bereik het nie, om dit so te stel, verseker van hulle plekke in die Hemel is.
Of dit ‘n miskraam babatjie, geaborteerde babatjie, stil gebore babatjie, of kindjie is wat nog nie wat  hierdie lewe aanbetref, toerekenbaarheid ouderdom kon of gaan bereik nie.  Hulle is, tot op toerekenbaarheids-ouderdom, verseker van hulle plek in die Hemel.

Daarna, gebruik ek my eie wil, wat ek het, omdat ek na die beeld van God geskape is en net soos Hy my eie wil het.  Dan gebruik ek daardie wil, om ons Here Jesus aan te neem as my Verlosser en Saligmaker of om Hom nié aan te neem as my Verlosser en Saligmaker nie.

MRK 10:13 Ouers het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak en seën, maar sy dissipels het hulle daaroor aangespreek.

MRK 10:14 Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê: "Laat die kindertjies toe om na My toe te kom. Moenie hulle keer nie. Want God
se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.

So, op die vraag aan my:
“Hoe werk die besnydenis van babas in die Ou Testament op babas van die Nuwe Testament?”
Besnydenis en of besprinkeling het vir ‘n baba in die Nuwe Verbond, wat die redding van haar/sy siel aanbetref, geen betekenis hoegenaamd nie.

Op die vraag:
“Is dit waar, dat die baba doop in die plek van die besnydenis gekom het?”
Daar is geen gedeelte in die Woord wat jy na my mening eens amper eerlik kan gebruik om daardie stelling te staaf nie.

Met ander woorde, dit is ‘n menslike uitgedinkte instelling, wat ‘n mens onder ‘n valse indruk kan bring, dat jy gered is.

Ek weet.
Ek was daar.
Ek was ook as baba gedoop.
Het gekatkiseer.
Is aangeneem en voorgestel en so het ek gedink, is op my pad Hemel toe.
Ek het selfs daarna op my sogenaamde pad Hemel toe by geleentheid in die kerk gekom, toe ek getroud is.
Ek was, om dit so te stel, salig in my valse saligheid, op pad hel toe.

Hoe wonderlik om vandag hierdie heerlik sekere wete te hê:

JOH 14:6 Jesus sê vir hom: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

Groete,
Sakkie