BID SONDER OPHOU

BID SONDER OPHOU

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra:
“Hoekom God baie keer nie sy kinders antwoord nie, selfs as hulle Hom byvoorbeeld net vir ‘n kindjie vra?”

Ek antwoord hier oor die bid vir ‘n kindjie maar soos ek dit sien, gaan my antwoord vir enige iets anders wat Sy kinders Hom kan vra.

Ek moet begin deur dadelik te erken, dat ek soos jy nie weet waarom ons Here nog nie vir jou ‘n kindjie gegee het nie maar ek weet een ding verseker.  Dit is die heel beste ding wat tot nou toe met jou gebeur het en die rede waarom ek dit sonder om te skroom vir jou kan sê, is omdat ek dit so van ons Here in Sy Woord lees en dat Hy dit al oor en oor vir my in my eie lewe bevestig het.

Voor ek by my bewys uit my eie lewe kom, eers die volgende:

MAT 7:9  Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee;
MAT 7:10  en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee?
MAT 7:11  As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

Nou is dit so, dat ons nie altyd kry wat ons vra nie, ten spyte van wat jy nou net gelees het en daar is na my mening twee redes daarvoor.

My kinders het ook nie altyd gekry waarvoor hulle gevra het nie.  Soms omdat dit nie goed was vir hulle nie en dit het hulle nooit gekry nie.  Soms omdat dit nie op daardie oomblik vir hulle goed gewees het nie maar later het hulle dit dan gekry.  Nie een van die twee kere het hulle egter verstaan waarom ek dit hulle weier nie.

Paulus sê van ons Here se optrede soms teenoor ons die volgende:

1KOR 13:12 “Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in 'n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele,maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.”

Toe ek in 1997 kanker gekry het en die dokter vir my en my vrou sê, dat as hulle dit nie kan keer nie, het ek 3 tot 6 maande om te lewe, kon ek dit ook glad nie verstaan nie.
Ek het dan hierdie groot begeerte om vir ons Here te werk.  Ek probeer so hard om in Sy weë te wandel en nou laat Hy dit gebeur.
Vir meer as ‘n jaar was ek behandel en dit was nie ‘n lekker ondervinding nie maar die ergste vir my was die psigiese druk wat ek moes verwerk maar weet jy, vandag as ek bid, dank ek ons Here gereeld vir daardie wonderlike leerskool wat ek kon deurgaan.  Vandag kan ek verstaan waarom dit gebeur het.
Jy sien, ek het altyd vir ons Here gevra dat ek vir Hom wil werk en dat Hy my die insig moet gee, sodat ek my werk vir Hom goed sal kan doen.
Vandag weet ek hoekom ek daardie paadjie moes loop, want as ‘n man my raad vra en om saam met hom te bid, want hy of sy kind of sy vrou of ma of pa het kanker, kan ek dit met oorgawe doen en kan ek raad gee, want ek was daar.
Ek het nooit geweet hoekom ek blind moet wees nie maar nou as iemand met ‘n gebrek vir my sê dit is nie die moeite werd om verder te lewe nie, kan ek hom of haar wys dit is die moeite werd om te lewe en dat die lewe nog steeds ‘n fees kan wees, want ek is daar.

Ek dank ons Here elke dag vir my omstandighede.
Ek is byvoorbeeld blind maar ek kan nog heerlik vir ons Here werk.
Ek kon byvoorbeeld breinskade gehad het.

Daar is byvoorbeeld mense wat kla omdat hulle altyd so baie skottelgoed het om te was maar daar is mense wat nie vuil skottelgoed het nie, bloot omdat hulle nie kos het nie.

Daar was ‘n tyd dat ek nie verstaan het hoekom al ons kinders deur die welsyn van ons ouers weggeneem was nie.
Ek kon toe ook nie verstaan het waarom my een sussie en een boetie deur ons ouers vir aanneming uitgegee was nie maar vandag dank ek ons Here vir al my ondervinding en ek sê soos my groot held Paulus.

FIL 4:11  Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.
FIL 4:12  Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.
FIL 4:13  Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Vir al ons Here se kinders wat hierdie skrywe lees en met dieselfde probleem sit, kan ek ook sê, want ook daarvan het ek eerstehandse kennis in my eie lewe.
Hou aan om te glo.
Jy gaan ‘n antwoord kry.  Dit gaan dalk nie die antwoord wees wat jy wou hê nie maar dit gaan die beste antwoord vir jou wees en onthou.

1THS 5:16  Wees altyddeur bly.
1THS 5:17  Bid sonder ophou.

Terwyl ons weet hierdie lewe is net ‘n reis Hemel toe, wat deur satan so moeilik as moontlik gemaak word.  Laat ons volhard, sodat ons ook eendag soos my groot held Paulus kan sê.

2TIM 4:7  Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.

Om dan, hoe heerlik! van ons wonderlike Here te hoor!!!

MAT 25:21  En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in, in die vreugde van jou heer.

Groete,
Sakkie