BIND EN ONTBIND – DEEL 1

BIND EN ONTBIND – Deel 1

Die Sleutels van die Koninkryk

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Kan jy asb net verduidelik oor bind op aarde en losmaak in die hemel en anders om.“

Hier is dan hoe ek hierdie saak verstaan en na die beste van my vermoë in my lewe probeer uitlewe.
Lees net eers die volgende uit die Woord:

MAT 16:15-19 
15 Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?
16  En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.
17  Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.
18  En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
19  En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.

Sommige sogenaamde gelowe se siening van hierdie saak is so bizar, dat ‘n mens oor die belaglikheid daarvan werklik sou kon glimlag as jy nie geweet het oor hoe ‘n ernstige saak dit handel nie.
In sommige sogenaamde gelowe, ek sê sogenaamd, omdat ek nie dink dat hierdie denkrigtings naastenby amper Christelik is nie.
Daar is van hierdie sogenaamde gelowe waar die priester, oudste, of hoe hy ook al genoem wil word, nie net die Hemel vir iemand los en vas oop en toe kan sluit, soos die gril hom pak nie maar hy kan sommer ook die Heilige Gees uitdeel aan wie hy wil, so – en ek sê dit met die grootste respek, asof die Heilige Gees ‘n oorwerp/kommoditeit is en nie die Almagtige God van die heelal se Gees is wat self besluit in wie Hy wil wees nie.
Dit daar gelaat.

So sien ek en leef ek hierdie saak in my eie lewe uit:

Jesus praat met Petrus en indirek met Sy ander dissipels om Hom en deur Sy Woord met jou en my en elke ander dissipel /mens wat met opregtheid bely:

MAT 16:16  En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

Vir ons almal wat hierdie belydenis in volle opregtheid kan doen, sê Jesus:

MAT 16:19  En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.

Voordat ons egter by dít kom wat kan gebind of ontbind word moet ons eers kyk na die sleutels waarmee ontbind of gebind kan word:

Dit maak nou nie saak of jy die Hebreeuse, Griekse, Engelse, Fanagalo, Afrikaanse of watter weergawe van daardie sleutel jy gebruik nie – maar jy sal waaragtig met geen ander sleutel die Hemel of die ewige lewe saam met ons Here kan ingaan nie – en dit is die Naam; Jesus Christus.

HAN 4:12  En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.

Geen ander sleutel kan vir jou en my die deur na die Hemel, of dan die Ewige Lewe oopsluit nie.

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Jesus sê toe later vir Sy dissipels en aan jou en my wat dissipels van Hom is, om die Hemel se poort, om dit so te stel, ook vir die ander mense in die wêreld om ons oop te sluit en die Sleutel aan die mense in die wêreld te gaan uitdeel.

MAT 28:18  En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Kyk net hoe deel Petrus, as voorbeeld vir ons,  hierdie Sleutel wat vir hom gegee is
uit:

HAN 2:38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Almal wat Jesus werklik aangeneem het as Hulle Verlosser en Saligmaker, doen alles, veral waar dit by die Evangelie en alles rondom die Evangelie gaan, in die Naam van Jesus Christus.

KOL 3:17  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Daar is net geen ander sleutel tot ware lewe nie en ek praat van ware lewe hierdie kant en ander kant van die graf.
Van die Een wat ons hierdie sleutel gegee het, sê ons Here in Sy Woord:

FIL 2:9-11  Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,
10  sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
11  en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Verder op ‘n ander plek lees ek:

ROM 14:11  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.
ROM 14:12  So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.

Jesus self vertel van daardie dag waarop ons rekenskap sal gee, die volgende:

MAT 25:31-42 
31 En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit;
32  en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;
33  en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.
34  Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.
35  Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee;
36  Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.
37  Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?
38  En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?
39  En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?
40  En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.
41  Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.
42  Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie.  …

Nou moet ons nie vergeet nie, dat Jesus van hierdie sleutel ook gesê het:

MAT 16:19  En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, …

Oor die “sal in die hemel gebonde wees,“daaroor deel ek met jou soos ek dit verstaan
en uitlewe die volgende keer as ek aan jou pos stuur.

Vir nou sluit ek met die volgende:

Kom jy en ek gaan in die Naam van JesusMet ander woorde kom jy en ek gaan doen wat Jesus ons aangesê het om te doen.

Kom ons neem die Sleutel wat aan ons gegee is en sluit die Hemel vir ander mense oop en gee die sleutel wat Jesus aan ons gegee het ook aan hulle, sodat ook hulle toegang tot die Hemel en die ewige lewe kan hê en sodoende hulle weer op hulle beurt vir ander die Hemel kan oopsluit en nog meer mense toegang tot die Hemel en die ewige lewe kan hê.

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
MAT 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Ja, hoe heerlik om te onthou terwyl ons dit doen –

MAT 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Groete,
Sakkie