BIND EN ONTBIND – DEEL 2

BIND EN ONTBIND – Deel 2

Maak jou hart vir Jesus oop en moenie die oorsaak wees dat die deur toe bly na die ewige lewe nie.

Sakkie Parsons

In my vorige skrywe oor hierdie saak het ek as volg begin:
Iemand skryf aan my as volg:
“Kan jy asb net verduidelik oor bind op aarde en losmaak in die hemel en anders om.“

Hier is dan hoe ek hierdie saak verstaan en na die beste van my vermoë in my lewe probeer uitlewe.
Lees net eers die volgende uit die Woord:

MAT 16:15-19 
15 Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?
16  En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.
17  Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.
18  En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
19  En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.

Ek het toe afgesluit deur onder andere die volgende te skryf –

Nou moet ons nie vergeet nie, dat Jesus van hierdie sleutel ook gesê het:

MAT 16:19  En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, …

Ek het in my vorige skrywe gewys hoe ek verstaan dat ek kan en dit ook moet doen, naamlik die hemel, om dit so te stel, se poort na die ewige lewe vir die mense in die wêreld om my oop te sluit, sodat hulle ook soos ek ons Here ongebind van hierdie wêreld die Hemel in kan volg.
Want onthou dat jy en ek wat reeds hierdie wonderlike ontbinding (vrymaking) deelagtig geword het nie meer van hierdie wêreld is nie.

JHN 15:18  As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.
JHN 15:19  As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.

By geleentheid bid Jesus vir Sy dissipels as volg.

JHN 17:14  Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.
JHN 17:15  Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.

Nou wat dan van…

MAT 16:19  En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, …

Wel een ding is seker, dit is nie soos sommige los en vas doen deur oop en toe te sluit soos die en amper skryf ek, die bose gier hulle pak nie.

Dit is iets wat die kind, enige wáre kind van ons Here onder groot dwang doen.
Met ander woorde ek word forseer om dit teen my wil te doen.
Hoe werk dit?
Anders gestel:
Hoe word ek gedwing om dit te doen?
Ek deel met jou ‘n paar voorbeelde uit die Woord:

MAT 10:14  En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af.
MAT 10:15  Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad (mens).

MRK 6:11  En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot ‘n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom of Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad (mens).

LUK 10:10-12 
10 Maar in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul nie ontvang nie, (nie na julle prediking wil luister nie),  gaan uit op sy strate en sê:
11  Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het.
12  En Ek sê vir julle: Vir Sodom sal dit verdraagliker wees in dié dag as vir daardie stad (mens).

As ek die Evangelie met iemand deel en die persoon wil nie na my luister of gehoor gee aan dít wat ek met hom/haar deel nie en ek probeer en probeer en probeer maar alles tevergeefs, sê ons Here, kom daar ‘n tyd wat ek moet aangaan (aanbeweeg).

Want jy sien –
Ek is ‘n mens wat net soveel tyd het om die Evangelie te verkondig en daar is ‘n groot oes en die arbeiders is reeds baie min.

MAT 9:37  Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min.

Iemand vra dalk –
Verstaan jy dit reg?
Kom daar werklik ‘n tyd, dat ek moet ophou om die Evangelie te verkondig aan iemand wat hardnekkig dit wat ek verkondig nie wil aanvaar nie?

Wel, kom ons kyk hoe het Jesus se apostels vir jou en my die voorbeeld gestel:

HAN 13:50  Maar die Jode het die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits en teen Paulus en Bárnabas ‘n vervolging in die lewe geroep en hulle buite hul gebied verdryf.
HAN 13:51  Toe het hulle die stof van hul voete teen hulle afgeskud en na Ikónium gegaan.

HAN 13:46  Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene.
HAN 13:47  Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.

Is die Hemel met ander woorde die ewige lewe dan werklik buite bereik vir mense wat so balhorig gewees het en nie na jou en my wou luister nie?

Lees die volgende uit die Woord en ek herinner jou net weer aan drie gedeeltes wat jy reeds gelees het en dan oordeel jy maar self wat die Woord sê en of ek die Woord wat hierdie saak aanbetref reg verstaan:

MAT 10:15  Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad (mens).

HAN 13:46   … Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene.

LUK 10:11  Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het.

As iemand nie wil aanvaar wat ek met hulle deel nie en die Heilige Gees in my hart
vir my sê dat ek nou genoeg van my beperkte tyd aan die persoon afgestaan het en
nou maar moet verder gaan, is die deur vir daardie persoon na die Hemel en daarom
ook na die ewige lewe deur my gedwonge optrede toegelaat, met ander woorde
toegesluit.

Miskien sal ons Here ná my iemand anders stuur om weer te probeer om die deur na
die Hemel en die ewige lewe vir die persoon oop te sluit maar ten minste tot daardie
tyd, dit wil sê as daar weer ‘n tyd gaan wees, is die deur na die Hemel en die ewige
lewe deur my vir daardie persoon toe en gesluit gelaat.

Nou wil ek jou vra:
Het iemand al met jou die Evangelie van Christus gedeel en het jy hom/haar gedwing om, om te draai en weg te stap en die deur na die Hemel en die ewige lewe noodgedwonge vir jou gesluit te laat?

Wel ons Here het dit so bestem dat jy vandag hierdie skrywe lees en ons Here sê weer vandag vir jou:

HEB 4:6  Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie,
HEB 4:7  bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.

Jy hoor weer vandag deur hierdie skrywe Sy stem.

Maak jou hart vandag vir Jesus oop, sodat die Hemel vir jou ook kan oopgaan en jy die ewige lewe deelagtig kan word
Jesus sê weer vandag vir jou:

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

As jy dit nou wil doen, wel sê dit dan nou daar waar jy is vir Jesus deur die volgende
te bid:
“Here, ek ervaar weer vandag, dat U my uitgekies het om deel van U koninkryk te
wees en ek maak my hart oop.  Ek neem U aan as my Verlosser en Saligmaker.
In Jesus Naam.
Amen.”

Nou soek jy ‘n Christelike gemeente wat die hele Bybel as die onfeilbare Woord van God aanvaar.
Maak na die eerste diens wat jy bywoon ‘n afspraak met die herder van daardie gemeente vir verdere leiding.
Dit sal natuurlik baie makliker vir jou wees as jy saam met iemand wat jy ken wat reeds by so ‘n gemeente betrokke is, kan gaan en indien moontlik as jy kan, soek so iemand onder jou vriende.

Groete,
Sakkie