BLUS DIE BRANDPYL

BLUS DIE BRANDPYL

Sakkie Parsons

Die meeste mense wat ek ken, om die waarheid te sê, ál die mense wat ek ken en verseker myself ingesluit, het een of meer swakhede in ons lewe.  Hetsy of dit ‘n fisiese, of psigiese, of albei, of meer is en jy kan my woord daarvoor neem, soos ek sal verduidelik, die satan ken elkeen van jou en my swakhede en hy gaan elke moontlike kans wat hy kan kry gebruik om daardie swakheid uit te buit.

Gelukkig en hoe wonderlik is dit nie, ons Here ken ook ons swakhede en anders as satan, wil Hy ons help om daardie swakhede te oorwin.

Hy het selfs aan die kruis gaan hang, sodat dit vir ons moontlik is om ook, wat ons swakhede aanbetref, oorwinning te kan verkry.

Daarom lees ons dan ook:

HEB 4:14-16
14 Ons het dan nou 'n groot Hoofpriester wat deur die hemele beweeg het, Jesus die Seun van God. Laat ons voortdurend aan ons geloofsbelydenis aangaande hierdie Jesus vashou.
15 Hierdie Hoofpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy is in elke opsig op dieselfde manier as ons versoek, maar Hy het nie voor die sonde geswig nie.
16 Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy ontferming en genade bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word.

So, daar is verseker ‘n oplossing vir jou en my swakhede, naamlik Jesus Christus en daarom kan ook die volgende uit die Woord deur ons ter heerlike stigting gebruik word, wanneer satan sy bose vurige pyle op ons afskiet:

ROM 8:25-27
25 Maar as jy dit nog nie het nie, sien jy gretig en volhardend daarna uit.
26 Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie.
27 Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree.

Nie net weet ons verseker, dat daar ‘n oplossing vir ons swakhede is nie, maar ons weet ook die pad wat ons moet loop om uiteindelik bo uit te kom, die heel beste pad is om te loop:

ROM 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Met ander woorde, al lyk dit of ek niks vorder in my oorwinning van hierdie swakhede en of probleme nie, moet ek net nooit ophou veg daarteen nie.Want jy sien:

EFE 6:12 Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose hemelse regeerders en maghebbers, teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.

Dan gaan my groot held Paulus voort en vertel ons wat ons moet doen om nie ‘n slagoffer van hierdie bose mag te wees nie:

EFE 6:13 Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek.  Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan.

Dan gaan hy verder en beskryf aan ons hoe die toerusting  wat met sukses teen satan gebruik kan word moet lyk en wat ons vir onsself moet aanskaf.

EFE 6:14-18
14 Staan dus vas deur waarheid as ‘n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan.
15 Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete.
16 Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof.  Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.
17 Gebruik God se verlossing as ‘n helm om julle koppe te beskerm, en, as swaard, die Gees, dit is God se woord.
18 Doen alles deur gebed en smeking.  Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei.  Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

As ek byvoorbeeld ‘n humeurige mens is, gaan satan dit probeer uitbuit.

Die vyand, soos wat ek al by geleentheid in ‘n ander gedagte uit die Woord geskryf het, kan nie ons gedagtes lees nie maar met duisende jare se bestudering van die mens agter die rug, het hy baie goeie kennis van die mens en tel hy baie gou op waar jou en my swakhede sit en skiet hy aanhoudend sy vurige prandpyle op on swak plekke af en weet hy natuurlik dadelik presies deur ons optrede en liggaamstaal of, en wanneer hy ons waar getref het.

So as hy nou ‘n vurige pyl op my afskiet om my humeur te laat ontvlam en ek laat toe dat my humeur die oorhand oor my kry, skreeu hy, so glo ek, iets soos: “Pot shot!”

Onthou jy wat die Woord sê, wat ons moet doen sodat hy nie iets soos “Pot shot” kan skreeu nie?

EFE 6:13 Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek.  Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan

EFE 6:16 Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof.  Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet. 

So onthou vandag en altyd in jou lewe om so te probeer leef dat ons Here nie hoef te hoor hoe juig satan “Pot shot!” nie.

Groete,
Sakkie