BLY IN ALLE OMSTANDIGHEDE OP JULLE HOEDE – DEEL 1

BLY IN ALLE OMSTANDIGHEDE OP JULLE HOEDE – DEEL 1

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra die volgende:

“Is al wat jy moet doen om ‘n kind van God te word, om jou te bekeer en jou te laat doop en nou is jy gered?
Of is daar verpligtinge wat n kind van God moet na kom ook om in die Koninkryk in te gaan?”

Anders gestel, as ek die vraag nou reg verstaan:

“Is eenmaal gered altyd gered soos die populêre siening van Christen wees is?”

Laat ek dit dan dadelik hier duidelik stel voor ek enigsins verder gaan:
Volgens wat ek dit uit die Woord verstaan, is “eenmaal gered, altyd gered,” ‘n leuen soos so baie ander leuens wat onder leiding van satan die kerk ingebring is.
Lees tot die einde en dan besluit jy self biddend of ek ‘n leuen of die waarheid verkondig.
Omdat mense hierdie verkeerde siening van Christen wees het, spog 80% van Suid-Afrika se mense:
“Ons is Christene” en tog is ons een van die lande met die hoogste misdaadsyfer per 100,000 mense in die wêreld.

Ek wil dan begin deur in hierdie eerste van twee gedagtes uit die Woord, eers met jou te deel, oor wie hierdie Jesus is vir wie ek as my persoonlike Verlosser en Saligmaker  aangeneem het en nou die sekere wete het, dat as ek my oog al die tyd op Hom hou, ek op my pad Hemel toe is en dat ek die ewigheid saam met Jesus gaan deurbring.

Na die sondeval in die paradys Eden, was alle mense verdoem tot ‘n ewige verskriklike doodgaan in die hel, om egter nooit dood te gaan nie. 

ROM 5:12  Toe Adam gesondig het, het sonde in die wêreld ingekom en deur Adam se sonde ook die dood. En so het die dood tot alle mense deurgedring, want almal het gesondig.

Ons Here wou toe weer Sy liefdesverhouding met die mens herstel maar omdat ons Here volmaak is, was daar geen volmaakte offer wat weer volmaak die liefdesverhouding tussen ons Here en die mens kon herstel nie – maar ons Here wou dit weer moontlik maak vir die mens wat wou, om ‘n ware liefdesverhouding met God Almagtig te hê en die enigste volmaakte offer wat ons Here in die hele heelal kon vind, was Sy enigste Seun Jesus Christus:

JOH 3:16  “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JOH 3:17  God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.

Wie is hierdie enigste Seun van God wat gekom het om die volmaakte offer vir jou en my te wees?
Daar is gelowe en mense wat nie Christelik is nie, wat van Hom praat as ‘n goeie man, of as ‘n goeie leraar en daar is mense van ander gelowe wat selfs so ver sal gaan om Hom ‘n profeet te noem maar wat sê die Woord, my hoogste gesag wat ek fisies met jou kan deel?
Eers lees ek:

JOH 1:1-5 
1 Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.
Die Woord was by God, en die Woord was self God.
2  Hy was reeds in die begin by God.
3  Alles het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.
4  In Hom was daar lewe,
en dié lewe het gedien as die lig vir die mense.
5  Die lig skyn in die duisternis,
ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie!

So, van wie praat die Woord in dit wat jy nou net gelees het?
Wel, die Woord gee self vir ons die antwoord, as ons net ‘n bietjie verder in dieselfde hoofstuk lees:

JOH 1:14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

So, wie is hierdie Jesus Christus, “die Woord wat mens geword het?”
Wel, volgens die Woord is dit ons soewereine alomteenwoordige God Almagtig.
van wie die Woord, by alles wat jy nou gelees het ook sê:

FIL 2:6-9 
6 Alhoewel Hy self God was,
het Hy nie vasgeklou aan die Goddelikheid wat Hom toekom nie,
7  maar Hy het dit prysgegee:
Hy het ’n slaaf geword
en aan mense gelyk geword.
En toe Hy as mens geleef het,
8  het Hy Homself
nog verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te wees,
ja, tot die kruisdood toe!
9 Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog
en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam.

In hierdie eerste skrywe het ek nou gewys wie hierdie Jesus Christus is  tot wie die mens haar/hom moet bekeer en aanneem as Verlosser en Saligmaker.

In my volgende skrywe aan jou in hierdie reeks sal ek wys, hoe ek uit die Woord sien, hoe ons ná ons bekering ons lewe moet sien en met die oog op die hiernamaals moet uitleef.

Groete
Sakkie