BLY IN ALLE OMSTANDIGHEDE OP JULLE HOEDE – DEEL 2

BLY IN ALLE OMSTANDIGHEDE OP JULLE HOEDE – DEEL 2

Sakkie Parsons

Hierdie is nou die tweede skrywe in die kort reeks, na aanleiding van ‘n vraag wat iemand aan my gevra het naamlik:
“Is al wat jy moet doen om ‘n kind van God te word, om jou te bekeer en jou te laat doop en nou is jy gered?
Of is daar verpligtinge wat n kind van God moet na kom ook om in die Koninkryk in te gaan?”

Nou wil ek hierdie skrywe met ‘n vraag begin:

Hoe is dit moontlik, dat iemand kan sê dat hy/sy ‘n persoonlike liefdesverhouding met dié Jesus Christus (wat ek in my vorige skrywe aan jou voorgehou het) kan hê en willens en wetens te sondig en dit jou nie só sal pla, dat jy waar jy kan, dit wat jy verkeerd gedoen het sal regmaak nie?

En waar jy nie dit kan regmaak nie, dit so ‘n verskriklike ding in jou hart sal wees, dat jy hard daaraan sal werk om so ver dit jou aanbetref, jy nooit weer daardie sonde sal doen nie.

Onthou jy wat Jesus aan die owerspelige vrou gesê het?

JOH 8:10  Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê: “Vrou, waar is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?”
JOH 8:11  Sy het geantwoord: “Niemand nie, Meneer.” Jesus sê toe vir haar: “Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

 
Baie mense egter is vol godsdiens sonder ‘n liefdesverhouding met God.

Tog noem hulle hulleself Christene want, hulle is gedoop en het selfs in baie gevalle gekatkiseer en hulle is op hulle pad Hemel toe en hulle lewe net soos die ander mense om hulle en in sommige gevalle selfs meer verkeerd as die nie- Christene om hulle, want omdat hulle Christene is, sal alles op die ou einde mos reg uitwerk vir hulle – maar wat sê die Woord vir jou en my wat Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker?

Ons het ons bekeer.
Dit is ons het ons rug op die ou lewe gedraai.
Ons is wat daardie lewe aanbetref dood.

GAL 2:20 Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

ROM 6:4 Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ’n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ’n totaal nuwe lewe leef.

Nou is ek deur hierdie lewe op die nou pad op reis na die Hemel en daar is ‘n satan, die god van die bose, wat sy uiterste bes gaan probeer om my van die nou pad af te kry, op die breë pad hel toe.

MAT 7:13  “Gaan die koninkryk deur die nou poort binne. Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan.
MAT 7:14 Hoe nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie! Min is die mense wat dit kry!”

Nou is daar dinge wat ek moet doen, as ek nie die gevaar wil staan om ‘n prooi van satan te word nie.  Want hy wag net vir ‘n kans om my te verskeur:

1PET 5:8  Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.
1PET 5:9  Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding.

Daarom mag ek nooit van die veronderstelling uitgaan, dat ek my nou bekeer het en my selfs laat doop het en nou is ek op my pad Hemel toe nie.
Daar is al die tyd ‘n wesentlike gevaar, dat satan my kan verslind:

1PET 5:8  Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

Daar is ‘n baie groot wonderlike feit wat deur die Woord verkondig word en dit is:
Ons Here sal my nooit uit Sy hand laat ruk deur satan nie.
Hy het my egter  na Sy beeld geskape en deel van daardie beeld van ons Here na wie ek geskape is, is dat ek, soos Hy, ‘n wil van my eie het.
Hy wil my graag by Hom hê maar as ek my uit Sy arms los wil maak, gaan Hy probeer om my van sienswyse te laat verander maar Hy gaan my nie teen my wil by Hom hou nie.
Daarom is die Woord vol daarvan, dat ons herinner word, dat daar ‘n bose is teen wie ons moet waak.
Want as ek nie waak nie, soos ek reeds genoem het, is daar ‘n wesentlike gevaar, dat ek ten spyte van alles wat ek eens op ‘n tyd in my lewe gedoen het en hoe ek gelewe het, tog nie die Hemel sal ingaan nie.

Onthou jy die 5 dwase maagde:
Jy kan hulle verhaal gaan lees in MAT 25:1-12.
Ek kwoteer vir jou net twee gedeeltes uit daardie verhaal naamlik:

MAT 25:10  “Terwyl die onverstandiges weg was om olie te gaan koop, het die bruidegom opgedaag. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilofsfees en die deur van die feesvertrek is gesluit.

Sien jy wie is toe in na die bruilof toe?

MAT 25:10  … Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilofsfees en die deur van die feesvertrek is gesluit.

Dan volg hierdie tragedie aan die einde van hierdie verhaal en let op wat Jesus dan direk daarna aan Sy gehoor sê:

MAT 25:11-13 
11 Later kom die ander meisies toe ook en roep van buite af: ‘Meneer, Meneer, maak asseblief vir ons oop!’
12  Maar hy het teruggeroep: ‘Ek ken julle glad nie!’
13 “Wees dus altyd wakker en gereed, want julle ken nie die presiese datum of tyd van my koms nie.”

Soos ek altyd sê, sê ek nou maar weer.
As Jesus sê:

MAT 25:13 “Wees dus altyd wakker en gereed, want julle ken nie die presiese datum of tyd van my koms nie.”

Dan meen dit, dat ek ten spyte van my bekering, doop, en al die ander dinge, op ’n plek in my lewe kan kom, dat ek nie “wakker en gereed” is nie en sodoende in die hel, in plaas van die Hemel kan beland.

MAT 25:10  … Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilofsfees en die deur van die feesvertrek is gesluit.

Daarom moet ek en jy ál die tyd paraat wees en hoe doen ons dit?

Gelukkig en hiermee sluit ek af, gee ons Here in Sy Woord vir ons goeie raad in hierdie verband:

EFE 6:13  Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan. (nie deur satan verslind wees nie.)

As ons dit wat nou volg nie doen nie, is die kanse baie, baie goed, dat ons nie sal staande bly nie.

EFE 6:14-18
14 Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak (tot geregtigheid) as borsharnas aan.
15 Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete.
16 Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.
17 Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord.
18 Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

Ons beklee ons dus met Jesus Christus. Hy is ons vryspraak, geregtigheid, blye boodskap, geloof, verlossing en die lewende Woord:

ROM 13:14 .. Soos ‘n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus “aantrek”, en nie ‘n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie.

(Indien jy nog meer wil lees oor die wapenuitrusting sal ek dit met graagte aan jou stuur op bestelling of jy kan dit op die webtuiste onder die afdeling “epos bediening” lees.)

Groete
Sakkie