BLYDSKAP EN VREDE IN ONS GELOOF

BLYDSKAP EN VREDE IN ONS GELOOF.

Skrywer:  Sakkie Parsons

Omdat ons hierdie soort geloof het, het ons vrede:

HEB 11:1  Wat beteken dit om op God te vertrou? Dit beteken om seker te wees dat die dinge waarna ons uitsien, wel sal gebeur. Dit beteken ook om oortuig te wees dat die dinge wat ons nie kan sien nie, wel daar is.

Die 1953 vertaling stel dit so.

HEB 11:1  Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys
van die dinge wat ons nie sien nie.

Hiérdie soort geloof in ons, werk ook andersom en as dit nié so in my lewe werk nie,
moet ek daaraan werk, dat dit so sal begin werk:
Ek het vrede, omdat ek hierdie geloof het.

Eers as ek só in God glo en so op Hom vertrou, dat ek vrede in my hart het, wat ook al
gebeur, eers dan het my geloof volwassenheid bereik.

Dan eers maak daardie twee verse in God se woord waarvoor ek so lief is regtig sin.

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

FIL 4:4  Wees altyd bly omdat julle Christene is.  Ek sê dit weer:  “Wees bly!”

In die 1953 Vertaling lees Fil 4 vers 4 so:

FIL 4:4  Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!

Ek moet myself ook gereeld daaraan herinner, dat God my nie ‘n probleem vrye reis belowe het nie maar wel ‘n wonderlik tuiskoms, wat vir ewig gaan voortduur.
Jesus sê van ons reis na ons ewige tuiste die volgende:

JHN 16:33 “Ek het hierdie dinge vir julle vertel sodat julle vrede kan hê omdat julle aan My verbind is. In die ongelowige wêreld sal julle swaarkry, maar moenie bang wees nie, want Ek het die wêreld oorwin.”

Sien jy wat sê Jesus?  Hy sê dat Sy volgelinge vrede sal hê.

JHN 16:33  “Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind.  In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed:  Ek het die wêreld oorwin.”

Waar het ons hierdie vrede?
Waar is ons met hierdie vrede?

Ons is met hierdie vrede, deur ons geloof in Hom:

JHN16 33…In die ongelowige wêreld sal julle swaarkry, maar moenie bang wees nie, want Ek het die wêreld oorwin.”

Die twee hoofpilare waarop ons geloof gebou is, is eerstens, die kruis op Golgota.

JHN 3:14-18
14 “Net soos Moses destyds die koperslang in die woestyn op ’n paal gehang het, so sal Ek, die Redder, ook op ’n paal gelig word
15 sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê.
16  God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.
18 Die persoon wat aanhou om in Hom te glo, word nie veroordeel nie.  Die een wat egter nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.”

Die tweede hoofpilaar waarop ons geloof gebou is, is die leë graf.

LUK 24:1-9
1 Douvoordag op die Sondagoggend het die vroue na die graf toe gegaan met die aromatiese olie wat hulle voorberei het.
2 Daar aangekom, kry hulle die steen weggerol van die ingang van die grotgraf af.
3 Hulle het ingegaan, maar nie die liggaam van die Here Jesus daar gekry nie.
4 Hulle was heeltemal uit die veld geslaan daaroor.  Skielik staan daar tussen hulle twee mans met helder blink klere aan.  
5 Die vroue was verskrik en het hulle gesigte afgebuig grond toe.  Die mans sê vir hulle:  “Waarom soek julle die lewende tussen die lyke? 
6 Hy is nie meer hier nie, maar is opgewek.  Onthou julle hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het:  
7 “Die Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word en op die derde dag weer opstaan?”
8 Hulle het toe sy woorde onthou, 
9 en teruggedraai van die graf af en al hierdie dinge aan die elf en al die ander vertel.

Ons geloof is in ‘n vaste vertroue in Jesus Christus.
 
JHN 3:36  “Wie glo in die Seun, besit nou reeds die ewige lewe, wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom.

JHN 5:24 “Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe.  Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.”

Sien jy kind van God –

Ons wat in Jesus Christus glo en Hom aanneem as ons Redder en Verlosser kan nooit meer doodgaan nie en daar wag ook nie vir ons ‘n veroordeling nie en daarom het ons vrede, want ons weet, ons leef vir ewig en daar wag geen straf vir ons nie.

‘n Ander Vertaling stel dit so:

JHN 5:24 “Hoor nou wat Ek vir julle sê: ’n mens wat na My luister en glo in God wat My gestuur het, het die ewige lewe en hy sal nie in die oordeel skuldig bevind word nie. So iemand het reeds uit die dood uitgegaan en in die lewe ingegaan.

ROM 8:1 Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem.

ROM 8:2 Die lewendegewende Gees is so magtig dat Hy jou bevry het van die greep van die sonde wat uitloop op die dood.

Daarom kan ons ook saam met my Groot held Paulus dit uit juig:

2KOR 4:6-10 

6 God het gesê:  “Laat daar lig skyn uit die duisternis.”  So het Hy ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal.

7  Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – (ons stoflike brose liggame) die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie.

8  Op elke manier word ons
onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie;
ons is verward, maar nie wanhopig nie;
9  ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; 
platgeslaan, maar nie vernietig nie.

10  Ons dra altyd die sterwe van Jesus in ons liggaam saam sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.

FIL4:19 Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het.

FIL 4:20 Aan dié God, wat ook ons Vader is, behoort die heerikheid tot in alle ewigheid.  Amen.

So kind van God – dit werk ook anders om –

Omdat ek in Jesus glo, het ek vrede en ek het vrede omdat ek in Jesus glo.

ROM 15:13 Ek bid dat dié God wat aan ons ‘n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul.  Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees.

Groete,

Sakkie