CHRISTUS IS ALLES EN IN ALMAL WAT HOM AANGENEEM HET

CHRISTUS IS ALLES EN IN ALMAL WAT HOM AANGENEEM HET

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my oor vriende wat sy het wat verkondig, dat net die ras waartoe hulle behoort hemel toe gaan en alle ander volke gedoem is.

Sy stuur toe ook aan my ‘n skrywe wat hierdie vriende van haar aan haar gestuur het, wat hulle soort evangelie uiteen sit.  ‘n Evangelie vol van haat en veragting en vra my, my opinie.

Sy deel al baie lank met hierdie vriende van haar die Evangelie van Liefde van Jesus maar maak geen vordering nie.

Ek deel met jou my skrywe aan haar omdat ek myself min dinge kan indink wat meer hartseer is as wanneer mense Jesus se Evangelie van liefde misbruik om hulle eie ideologieë, wat soms soos in hierdie geval gewoon net boos is, te verdedig.

Want, soos jy in my skrywe aan hierdie persoon sal sien, God het Sy seun Jesus aan die kruis geoffer vir een ras, die menseras.

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, (Al die mense in die hele wêreld) dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, (Elke mens, Wat Jesus aanneem as Verlosser en Saligmaker) nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld (al die mense in die wêreld) te veroordeel nie, maar dat die wêreld (al die mense in die wêreld) deur Hom gered kan word.

Hier dan is my skrywe aan een van my mense.

Ek wou eers skryf:

“Wat ‘n belaglike klomp valshede wat die mense verkondig wat jy aan my gestuur het .”

Die woord “belaglike” het toe nie vir my heeltemal reg gevoel nie en toe ek so daaroor dink het die beskrywing, “venynig siek” vir my die skrywe soos ‘n handskoen gepas.

Ek hoop tog werklik jy gaan my raad volg.

Daar is mense, soos Jesus die sulkes beskrywe en na my mening het jy hier met sulke mense te doen:

Mat 13:14  En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

Mat 13:15  Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Omdat ons Here nie wil dat jy en ek ons kosbare tyd moet mors wat ons het om Sy opdrag aan ons uit te voer nie, kom daar ‘n tyd dat ons moet besef en aan onsself sê dat genoeg nou genoeg is.

Watter opdrag?

Mat 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Mat 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Het jy gesien hoe begin jou en my opdrag deur Jesus?

Mat 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, …

Nie net dit wat hulle, na my mening, valslik natuurlik hulle nasie in die enkelvoud noem, wie dan glo die enigste nasie is wat Hemel toe gaan nie .  Ja, selfs nie net sommige nasies, wat dan tot ‘n sekere ras behoort nie maar “ van al die nasies.”

As ons dissipels van alle nasies moet gaan maak, bly daar mos geen nasie in watter ras ook al oor wat uitgesluit moet word nie, dit maak nie saak wat die kleur of taal of wat ook al van daardie nasie is nie.  Die bevel is:

“aan al die nasies.”

Jy sê dat jy al baie, baie lank met hierdie vriende van jou oor die Evangelie redeneer maar al wat altyd gebeur is slegte gevoelens en jy wat ontsteld word.

As ons met mense die ‘Evangelie van liefde vir alle mense uit elke stam en taal en volk en nasie’ gedeel het en hulle bly dit aste ware in ons gesig teruggooi, kom daar ‘n tyd wat Jesus sê, dat ons moet besef dat ons genoeg tyd by hulle spandeer het en dat ons moet aanbeweeg, omdat ek as mens maar net soveel tyd het om by te dra dat die geweldige groot oes ingebring kan word.

Mat 9:37  Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min.

Daarom kom daar ‘n tyd, dat as mense met wie ek hierdie Evangelie van liefde wat

vir alle mense bedoel is deel en hulle dit bly verwerp, dat ek moet sê, dat genoeg nou

genoeg is.

Mat 10:14  En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af.

Mat 10:15  Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.

Kom ek en jy spandeer ons tyd om die Evangelie van liefde van Jesus aan soveel mense as moontlik te verkondig en dra so by tot die getal van daardie grootse skare, waarvan die Woord vertel wat eendag daardie Hemelse nuwe lied gaan sing:

OPG 5:9  Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,

OPG 5:10  en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

Het jy gesien wat jy nou gelees het?

OPG 5:9  … U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,

Jesus is vir álmal in die hele wêreld wat Hom wil aanneem as Verlosser en Saligmaker geslag.  Nie net vir een spesifieke ras, volk of kleur nie maar soos die Woord sê, vir élke mens uit élke stam en taal en volk en nasie op hierdie aarde – wat Hom aanneem as Hulle Verlosser en Saligmaker.

Hoekom moet ons in gehoorsaamheid as hierdie mense wat so ‘n verdraaide evangelie verkondig en nie na ons wil luister nie, die stof van hulle en hulle omgewing van ons afskud?

Gewoon omdat jy jou kosbare tyd mors want soos jy uit die Woord gesien het, is daar  mense wat so deur hulle ideologie van vooroordeel, wat hoofsaaklik uit haat en veragting bestaan, verblind word dat die Woord met reg van hulle getuig:

Mat 13:14  En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

Laat jy en ek, wat na ons bekering nuwe mense geword het, die Liefdesevangelie van Jesus Christus verkondig soos Sy Woord wil dat ons dit moet verkondig.  Wat na alles wat ek jou nou gewys het ook insluit –  eintlik wil ek sê:  Wat na alles wat ek jou nou gewys het, dit onderstreep wat ek jou nou gewys het.

KOL 3:9-11

9  Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het

10  en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,

11  waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.

Sommer vir die interessantheid daarvan en ter wille van diegene wat so maklik hulleself van ander distansieer omdat hulle hulleself as ‘n hoër skepping as sommige ander mense om hulle beskou:

Die HAT (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) verklaar die woord

“barbaar” onder andere so:

Lid van ‘n onbeskaafde stam, volk.

Die Woord sê, dat as so iemand wat jy as ‘n barbaar beskou, hom/haar bekeer en Jesus Christus aanneem as Verlosser en Saligmaker, is hy/sy jou en my broer/suster.

‘n Skith was in Paulus se tyd die laagste trap van menswees. Dit is dan ook waar ons woord ‘skiewie’ vandaan kom.

Die HAT (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) sê in die verband die volgende:

“Skiewie, iemand wat baie laag op die sosiale leer is of baie nederige werk moet

doen.

Die Skithe was in Paulus se tyd die absolute laagste vorm van beskaafdheid wat daar

was.

As iemand dalk dink ek oordryf om ‘n punt te bewys –

In een van my bronne wat ek van tyd tot tyd gebruik naamlik: ‘Die Bybel se ensiklopedie vir die Jeug’, lees ek die volgende oor die Skithe.

Skith:

“Die Skithe was oorspronklik afkomstig uit die Kaukasus (Rusland) en was

toonbeelde van algehele ongeletterdheid en die laagste trap van beskaafdheid.”

Die Woord sê dat as so iemand, ‘n Skith/skiewie, hom/haar bekeer en Jesus aanneem as Verlosser en Saligmaker, is hy/sy jou en my broer/suster.

KOL 3:10  en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,

KOL 3:11  waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.

2KOR 5:17-19 

17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

18  En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het,

19  naamlik dat God in Christus die wêreld (al die mense in die wêreld) met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons (jou en my) toe te vertrou.

Groete,

Sakkie