DAAR IS GAWES WAT NUTTIGER IS AS OM IN TALE TE PRAAT

DAAR IS GAWES WAT NUTTIGER IS AS OM IN TALE TE PRAAT

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en uit die persoon se skrywe aan my, het ek so tussen die lyne agtergekom, dat die persoon so half en half onder druk geplaas was om in tale te praat, nadat die persoon groot gedoop is.

Ek gee die persoon ‘n fiktiewe naam.
Ek deel graag met jou my antwoord aan Piet.
Piet skryf, dat hy hom laat groot doop het, wat na my mening reg is en dan skryf hy:
  “Daarna het die pastoor se vrou vir my gevra of ek van enige gewaarwording bewus geword het – vreemde woorde wat wil vorm aanneem ens. Omdat ek uit die susterkerke kom waar spreek van tale eintlik 'n taboe onderwerp is, was ek nie eintlik op hoogte van dié dinge nie. Die vrou het toe 'n gebed gedoen waarin sy gevra het dat ek geseën sal word met 'n taal sodat my gees versterk sal word daardeur.”

Dit is natuurlik na my mening baie verkeerd om mense onder ‘n indruk te bring, dat die uiterlike teken, dat jy die Heilige Gees ontvang het, die spreek in tale is.
Piet, dink nou net as die dame liewer vir jou gebid het vir die gawe van profesie of van gesondmaking, hoe dit jouself en die mense om jou, sommer vir die dame ook sou gestig het, as jou profesieë uitgekom het, of die mense om jou as gevolg van jou optrede almal gesond geword het.

Voordat ek verder vir jou iets oor hierdie saak skryf, net die volgende:
 Ekself het die gawe van spreek in tale ontvang maar ek ken baie Christene, wat na my mening by verre groter en mooier gelowiges is as ek wat nie in tale praat nie.
     
Dit is so jammer dat satan dit reg kry om mense te laat dink, dat as jy die Heilige Gees inwonend in jou het, tale beslis, om dit so te stel, deel van jou mondering moet wees, terwyl Paulus iets heel anders verkondig.
Hy skryf:

1KOR 12:27  Julle is Christus se liggaam en elkeen van julle is ‘n noodsaaklike liggaamsdeel.
1KOR 12:28  Hier volg nou ‘n lys van sommige van die ‘liggaamsdele’ wat God aan sy gemeente gegee het:  (Almal wat Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker en nou Sy dissipels is) eerstens die apostels, tweedens die profete, derdens dié wat onderrig gee, dan dié wat wonders doen, dié met gawes van genesing, dié wat ander ondersteun, dié wat leiding gee, dié wat in tale praat.
1KOR 12:29  Ons is mos nie almal apostels nie.  Ons is nie almal profete nie.  Ons het nie almal die gawe om onderrig te gee nie.  Ons het nie almal die vermoë om wonders te verrig nie.
1KOR 12:30  Ons het nie almal gawes van genesing nie.  Ons kan nie almal in tale praat nie.  Ons kan nie almal tale uitlê nie.

My begeerte al spreek ekself in tale, was nog altyd en as ek so verwaand mag wees, wil ek voorstel dat jy ook liewer so na hierdie saak moet kyk.
Loof ons Here as jy in ‘n taal praat maar redeneer liewer soos Paulus in 1KOR 14:19.
 
1KOR 14:18  Ek dank God dat ek meer in tale praat as julle almal.
1KOR 14:19  Maar in ‘n byeenkoms van die gemeente sal ek liewer vyf verstaanbare woorde praat waaruit ander iets kan leer as tienduisend in ‘n onbekende taal.

Moet nie toelaat dat mense jou aste ware forseer, soos ek al gehoor het om in ‘n taal te praat, wat dan nie eg is nie en daarom dan ook sonde is.

Jy sê jy het jou bekeer en Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker –

Ek wil jou dan aanmoedig om bó alles daaraan te werk om die vrugte van die Gees te dra.  Dit is tog wat ons baie duidelik in die Woord aangesê word om te doen.

MAT 3:8 Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het.

LUK 6:44-46 
44 ‘n Boom word geken aan die soort vrugte wat hy dra.  Vye groei tog nie aan doringbosse, of druiwe aan braambosse nie.
45  ‘n Goeie mens bring goeie dade voort uit ‘n goeie hart, en ‘n slegte mens bring slegte dade voort uit ‘n bose hart.  Wat ook al in jou hart leef, bepaal wat jy sê.
46  Waarom noem julle My dan ‘Here’ as julle My nie gehoorsaam nie?

Hoe lyk die vrugte van die Gees wat ons Here van praat?

GAL 5:22 Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg:  liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23sagmoedigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge is daar nie ‘n wet nie.

In ‘n ouer vertaling, lees Galasiërs 5:22 as volg:

GAL 5:22  Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Dus, strewe liewer na hierdie dinge, terwyl jy al die tyd met heerlike vrede in jou hart onthou:

1KOR 12:11  Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind.
                 

Ek wil so ver gaan en vir jou sê, want dit is wat ek beslis sou gedoen het as die denominasie waar ek aanbid, volhard deur die valsheid te verkondig dat, ‘eers as ek in ‘n taal praat, het ek die Heilige Gees ontvang’ –
Soek ‘n gemeente wat die héle Woord as die Woord van God aanvaar en daardie Woord sonder hierdie valshede verkondig en aanbid en dien ons
Ek let ook op, dat wanneer Paulus ons van die verskillende liggaamsdele van die gemeente inlig,, om in ‘n taal te praat heel onder van sy prioriteitslys van liggaamsdele van die kerk van Christus is.
As jy Jesus werklik aangeneem het as jou verlosser en Saligmaker, het jy jou hart vir Hom oopgemaak en woon sy Heiliege Gees Prys die Naam van ons Here nou in jou.

Groete,
Sakkie