IS DAAR IETS SOOS BUITERUIMTELIKE WESENS?

IS DAAR IETS SOOS BUITERUIMTELIKE WESENS?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

Ek wil net iets vra en hoop dat jy my kan reghelp.

Is daar iets soos buiteruimte wesens? 

Sover ek oor hierdie sake redeneer, volgens dit wat ek in die Woord vind, hoef ek nie oor hierdie saak te wonder nie.  Want ons Here sê niks in Sy Woord vir my oor sulke wesens nie en daarom bemoei ek my ook nie met daardie soort redenasies of teorieë nie.

So hier is hoe ek na hierdie saak kyk:
Volgens die Woord soos ek die Woord verstaan, sien ek nêrens, dat ons Here ons vertel van ander intelligente wesens wat Hy volgens Sy beeld geskape het naas die mens nie.  So ek gaan my ook nie bemoei met of hulle bestaan of nie.
Dit, is volgens my verstaan van die Woord die kort eenvoudige antwoord.

Ek is op hierdie aarde in hierdie skepping deur ons Here geskep eerstens om Hom te verheerlik en tweedens om dissipels vir Hom te werf en so Sy koninkryk hier op aarde uit te brei.
Dit wat my geloof en die evangelie van Christus aanbetref is waarmee ek my bemoei en dan derdens, natuurlik die daaglikse en tydelike, wat my menswees in hierdie lewe aanbetref.

Sosiale netwerke, of dan sommige sosiale netwerke dra ook by om mense in buiteruimtelike wesens te laat glo.
Voeg daarby dat mense soms iets sien waarvoor hulleself persoonlik nie ‘n verklaring het nie en dan sommer gryp na buiteruimtelike wesens en ‘n mens kan soms verstaan hoe veral goedgelowige mense verlei kan word om in wesens te glo wat nie bestaan nie.

Vir alles wat ek nie weet nie en of nie verstaan nie, geld die volgende in my lewe soos ek dit verstaan en probeer uitlewe:

Ek sal weet wát ek moet weet, wánneer ek dit moet weet, ás ek dit moet weet.
In die tussentyd, gebruik ek alles wat ek wel weet en probeer daarmee my roeping hier op aarde uit te leef en probeer so ver ek kan om ander te help om ook so hulle hoofroeping hier op aarde uit te leef.

Vir die dinge wat ek nie weet of verstaan, of nie heeltemal weet of heeltemal verstaan nie, sê ek soos my groot held Paulus:

1KOR 13:12-13 
12 Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ’n dowwe spieël,
maar eendag sal alles vir ons glashelder wees.
Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan,
net soos God my nou ten volle verstaan.
13 Al wat altyd sal bly, is geloof, hoop en liefde – hierdie drie.
Maar die grootste hiervan bly steeds die liefde!

Ek wil jou net iets geweldig groots in 1KOR 13:13 wys, wat baie mense nie sien nie en baie van die wie dit wel sien, wil dit liewer nie so sien nie, want dan raak Christen-wees vir hulle net te moeilik en vir sommige eintlik heeltemal onaanvaarbaar.

13 Al wat altyd sal bly, is geloof, hoop en liefde – hierdie drie.
Maar die grootste hiervan (vir ons Here – Ja, selfs groter as geloof in Hom), is die liefde (vir Hom en vir my naaste.)

13 Al wat altyd sal bly, is geloof, hoop en liefde – hierdie drie.
Maar die grootste hiervan (vir ons Here – Ja, selfs groter as hoop op Hom), is die liefde (vir Hom en vir my naaste.)

Daarom dan ook dat Sy liefdeswet vir ons Sy volgelinge deur Homself as volg opgesom word:

MAT 22:36-40 

’n Deskundige op die wet, het Hom toe met die volgende vraag probeer vastrek:
36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”
37  Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38  Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39  Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
40  Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”

 

Groete,
Sakkie