DAAR IS ‘N WEG WAT REG LYK

DAAR IS ‘N WEG WAT REG LYK

Sakkie Parsons

Ek sit nou een aand weer en dink aan iets wat ‘n man eendag vir my gesê het.

Hy het naamlik gesê, dat dit nie saak maak wat hy doen nie, sy paadjie op aarde is tog klaar vir hom uitgewerk.

Ek dink natuurlik dat dit nie heeltemal reg is nie.
Dit is wel waar dat ons Here vir ons ‘n wonderlike meesterplan opgestel het.

PSM 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
PSM 139:17  Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!

Jy sien, ek verstaan dit so:

Ons is na God se beeld geskape en een van God se eienskappe is, God het ‘n wil van Sy eie.
Die mens het ook daardie eienskap en alhoewel God vir my ‘n wonderlike meesterplan opgestel het, respekteer God my wil en sê Hy vir my, dat ek my wil kan uitoefen.

DEU 30:19  Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag,…

Jesus stel dit by geleentheid so.

MAT 7:13  Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
MAT 7:14  Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

Ek weet ek gaan nou weer ‘n ander rigting inslaan maar ek doen dit omdat dit werklik die verskil tussen lewe en dood kan beteken.

Ek moet ook verseker weet, dat enige besluit wat ek neem, wat nie as beginpunt het, dat ek my bekeer en Jesus Christus aanneem as My Verlosser en Saligmaker nie, se uiteinde die hel is, want daar is net een pad Hemel toe. Ons sal baie goed doen, as ons in hierdie tyd van kompromieë en verlaging van standaarde om ander mense se sienswyses te akkommodeer onthou.

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Vir enige persoon wat wil sê, dat ons mos maar almal dieselfde God dien, wil ek net sê, dat dit nou wel baie mooi, ja, selfs vroom klink maar eintlik is dit ‘n misleidende, eintlik ‘n valse  stelling, want jy sien:

JHN 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

As Jesus sê dat net Hy die ware weg na die lewe is, dan moet jy weet, elke ander pad eindig uiteindelik in die hel.

JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

SPR 14:12  Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.
 

Groete,
Sakkie