IS DAAR REDDING NA DIE WEGRAPING?

IS DAAR REDDING NA DIE WEGRAPING?

Sakkie Parsons

Iemand stuur aan my iemand anders se redenasie, dat niemand na die wegraping gered sal word nie en vra my, my opinie oor of ek dink dat mense ná die wegraping ook gered kan word.

In baie kort net eers gou:

Daar gaan verseker wat ons die wegraping noem, plaasvind en dit gaan in ‘n oogwink gebeur. 
Dit is wanneer Jesus Christus met Sy eerste koms al Sy ware volgelinge, wat dan nog op die aarde is  kom haal.

1THS 4:13-16  
13 Broers en susters, ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie. (dit is almal wat reeds as Jesus se volgelinge gesterf het en nou by Hom is) Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ’n toekomsvooruitsig nie.
14  Want aangesien ons glo dat Jesus gesterf én opgestaan het, moet ons ook glo dat God die dooies wat in Jesus geglo het, saam met Jesus sal terugbring.
15  Wat ons nou vir julle gaan sê, is ’n uitspraak van die Here: Ons wat bly lewe tot wanneer die Here terugkeer, het glad nie ’n voorsprong bo dié wat dan al gesterf het nie. (want hulle is mos al klaar by Jesus)
16  Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan. (aste ware gereed maak om saam met Hom te kom)

Dit sal gebeur wanneer die hoofengel ’n bevel gee en God se trompet weerklink.

1THS 4:17  Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees.
1THS 4:18  Troos mekaar dan met hierdie woorde.

By ‘n ander geleentheid skryf Paulus as volg:

1KOR 15:51-55
51  Ek wil aan julle ’n diep waarheid vertel wat God aan ons bekendgemaak het. Dit is dat ons nie almal sal sterf nie, (jy en ek mag nog in hierdie lewe wees as Jesus kom) maar ons almal sal verander word.
52  Dit sal dadelik, ja, in ’n oogwink gebeur, wanneer die laaste trompet weerklink. Want as die trompet sy klank laat hoor, sal die dooies met onverganklike liggame opgewek word. En dan sal ons ook verander word.
53  Want ons verganklike aardse liggame moet in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie.
54  Wanneer dit gebeur – wanneer ons verganklike aardse liggame in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie – dan uiteindelik sal die Skrifwoord waar word: “Die dood is totaal uitgewis, want dit is heeltemal oorwin.”
55  “O dood, waar is jou oorwinning? Dood, wat het van jou angel geword?”

Terug by die vraag of mense na die wegraping nog gered kan word.
Verseker verstaan ek uit die Woord, dat mense nog tot op Jesus se tweede koms hulle nog tot ons Here sal kan bekeer.
Eerstens is daar byvoorbeeld ten minste 144,000 Jode wat ons reeds van weet, wat hulle na die wegraping tot Jesus gaan bekeer en jy kan dit self gaan lees van af OPB 7:4 en verder.
Dan is daar ook die getuienis uit die Woord van hulle wat gemartel sal word oor dit wat hulle glo en oor sal getuig:

OPB 6:9  Toe die Lam die vyfde seël oopbreek, het ek aan die voet van die altaar die siele gesien van hulle wat doodgemartel is oor die boodskap van God en die getuienis wat hulle gelewer het.

Duidelik word hier gepraat van mense wat gelowig was en toe dood gemartel is oor hulle geloof in en getuienis oor Jesus Christus en wie dan by Jesus in die Hemel is.

Ek deel met jou nog een voorbeeld wat ondersteun wat na my mening wys dat daar na die wegraping weer gelowiges gaan wees maar soos jy reeds gelees het en nou ook weer gaan lees, gaan dit ‘n baie, baie moeilike tyd vir mense wees wat dan eers tot die geloof in Jesus Christus kom:

OPB 20:4  Toe het ek trone gesien, en dié wat daarop sit, is die bevoegdheid gegee om te oordeel. Ek het ook die siele gesien van hulle wat onthoof is as gevolg van hulle getuienis aangaande Jesus en die boodskap van God. Dit is hulle wat nie voor die monster en sy standbeeld neergeval het in aanbidding nie, en nie die merkteken op hulle voorkop en op hulle hand ontvang het nie. Hulle het toe weer lewend geword en saam met Christus vir 1 000 jaar lank regeer.

As iemand egter met my begin gesels oor of ons onsself nog na die wegraping kan bekeer, is my reaksie gewoonlik:

My vriendin/vriend, jy en ek is nog aan hierdie kant van die wegraping en ook hierdie kant van die graf.
Kom jy en ek sorg maar net, dat ons, terwyl die wegraping nog nie plaasgevind het nie, en ons nog lewe, dat ons gereed is wanneer daardie wonderlike gebeurtenis wel plaasvind, as dit gaan plaasvind terwyl ons nog in hierdie lewe is en dat ons andersins gereed sal wees, as ons hierdie tydelike met die ewige verwissel.

Want een ding is seker soos wat alles wat oor Jesus voorspel was, wat tot nou toe in vervulling  moes gaan reeds in vervulling gegaan het;  kan ons ook verseker weet:

Daar gaan ‘n wegraping wees en net ons wie Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker en op daardie oomblik gereed is as Hy ons kom haal, sal saam met Hom gaan.

Net soos ook nét dié mense wie Jesus Christus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker en toe daarna hierdie tydelike met die ewige verwissel het, deel van daardie groot gebeurtenis naamlik die wegraping  sal wees.

Ons Here sê in Sy Woord vir almal wat Hom aangeneem het:

2KOR 6:1  As julle medewerkers smeek ons julle om toe te sien dat julle die genade van God (die redding van die hel) nie tevergeefs ontvang het nie.
2KOR 6:2  Want Hy sê: “Op die regte tyd (toe ek my bekeer het) het Ek jou verhoor, en op die dag van verlossing het Ek jou gehelp.” (ek het nou die kans om gereed te wees, ek moet dit nou gebruik.)

Inderdaad – dit is nóú die regte tyd; dit is nóú die dag van verlossing.

Nadat Jesus ons, wat Hom aangeneem het en gereed is wanneer Hy ons kom haal, saam met Hom weggeneem het, gaan die hel letterlik en figuurlik losbreek hier op hierdie ou aarde.

Jy en ek hoef wat onsself aanbetref nie te top oor lewe na die wegraping, of lewe na die dood nie.

Ek het Jesus Christus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker –
Nou probeer ek na die beste van my vermoë om só te lewe, dat ek gereed sal wees as Hy my kom haal.
Of dit met die wegraping gaan wees of wanneer ek uit hierdie lewe die ewigheid gaan intree dit weet ek nie.

Ek sluit dan hierdie gedagte uit die Woord aan jou af met LUK 21:34-36 en onthou as jy dit lees, dat die een wat dit vir jou en my sê, is die Alfa en die Omega, die een wat is, wat was en wat kom, want dít is wie Jesus Christus is:

OPB 1:7  Kyk, Hy kom met die wolke! Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; al die nasies op aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!
OPB 1:8  “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. (Jesus Christus)

Wel HY, die Here God die Almagtige, sê weer vandag vir jou en my en al Sy volgelinge maar ek dink weer spesiaal vir jou, daarom lees jy hierdie gedagte uit die Woord:

LUK 21:34-36 
34 “Spits julle daarop toe (nou terwyl jy dit nog kan doen) dat julle sinne nie afgestomp word van te veel eet en drink en deur die bekommernisse van die lewe nie, en dat daardie dag julle nie onverhoeds
35  soos ’n strik oorval nie. Want daardie dag sal oor al die aardbewoners kom.
36  Wees wakker en bid altyddeur vir krag om alles wat gaan gebeur, veilig te deurstaan sodat julle kan verskyn voor My, die Seun van die Mens.”

 

Groete,
Sakkie