DAAR WAG ‘N HEERLIKE TOEKOMS

DAAR WAG ‘N HEERLIKE TOEKOMS!

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my ‘n pragtige blymoedige skrywe en ek weet terwyl sy aan my skrywe, dat dit nie menslik gesproke goed met hulle gaan nie en dat by dit alles word sy ook vir kanker behandel wat ook al ‘n end gevorder het.

Haar man se werkskontrak verstryk ook nou en hy is 65 jaar oud en hulle het vir hom gesê, dat hulle nie sy kontrak gaan hernu nie.

Soms kyk ek so in die gees na die berg wat ek voor my besig is om uit te klim en dan hoor ek van iemand anders wat ook besig is om ‘n berg uit te klim en ek dink so by myself:
“Klim Sakkie klim.  Vee die sweet van hierdie wêreld se sorge uit jou oë waarmee satan jou wil verblind en klim.  As ons Here gedink het jy sal nie hierdie berg kon oor nie, sou Hy nie dat jy langs hierdie pad gestap het nie.”

1KOR 10:13  Onthou, die versoekings (en of beproewings) wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking (en of beproewing) te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking (en of beproewing) sal Hy vir ’n uitweg sorg sodat julle kan volhou.

Uiteindelik is die berg wat jy klim en hierdie berg wat ek klim, in vergelyking met dít wat vir ons aan die einde van ons reis wag, toe maar net ‘n ligte verdrukking – in vergelyking met die heerlikheid van die ewige lewe wat vir ons voorlê:

2KOR 4:17  Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid (dit is die ewige lewe saam met Jesus Christus)  wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan.
2KOR 4:18  Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd.

ROM 8:18  Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie.

Ek hou my oë net op Jesus:

HEB 12:2  ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun.  Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur.  Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie.  En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
HEB 12:3 Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het.  Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie.

Want as ons volhard tot die einde, sal ons deel in sy heerlikheid:

ROM 8:16 Want die Gees self bevestig die getuienis van ons eie gees dat ons God se kinders is. 
ROM 8:17 En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename.  Saam met Christus deel ons in God se rykdom.  As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in sy heerlikheid.

Daarom bly ek so in die klim, na die beste van my vermoë Jesus Christus aan die mense wys.

MAT 5:14  Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!
MAT 5:15 ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.
MAT 5: 16  Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal.  Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

Sodat hulle ook die hoop en heerlike sekerheid kan hê, dat ons aan die einde van ons reis hier op aarde, vir ewig in die Hemel gaan lewe:

JHN 5:24  Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe.  Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.

By dit alles onthou ek, dat ten spyte wat sommige mense verkondig, gaan ons nie almal dieselfde beloning van ons Here ontvang nie:

1KOR 3:11-15 
11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat alreeds gelê is nie, – Jesus Christus.
12  As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik, of silwer, of edelstene of hout of hooi of stoppels.
13  Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak.  Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.
14  Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.
15  Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word.  Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ‘n brand gered word.

OPB 22:11  “Wie aanhou om kwaad te doen, moet nog meer kwaad doen en wie vuil is, moet vuil bly, maar wie reg optree, moet voortgaan om reg te doen, en wie aan God toegewy is, moet ook verder heilig bly.”
OPB 22:12  Jesus sê:  “Kyk,Ek kom gou!  My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het.

So my vriendin en vriend, kom ons klim die berg wat voor ons in ons pad die hoogtes in reis.  Daar is ‘n kruin en ons sal daaroor.
In die verlede, as ek soms so na my vrou gekyk het en aan ons omstandighede gedink het, het ek baie hartseer geword – so hartseer dat my keel toegetrek het sodat ek nie werklik die woorde kon sing nie maar dit slegs in my kop gesing het terwyl die trane loop – en in die Gees klim ek dan op die maat van die ritme van daardie koortjie en ek wonder of jy nog die koortjie kan onthou:

Ek is so bly ek behoort aan Jesus,
ek is so bly ek behoort aan Jesus,
ek is so bly ek behoort aan Jesus,
halleluja prys Sy naam.
Prys Sy Naam, Amen, amen!
Prys Sy Naam, Amen, amen!
Prys Sy Naam, Amen, amen!
Halleluja prys Sy Naam!

Ja, dan onthou ek by alles wat ek nou met jou oor ons God en Verlosser Jesus Christus gedeel het:

Wie is hierdie Jesus Christus oor wie ek so in ekstase kan raak ten spyte van satan se aanvalle op my?

‘n Lied oor die heerlikheid van die Seun

KOL 1:15-20 
15  Die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God.  Hy is die Eerste van die hele skepping,
16  omdat God alles deur Hom geskep het.  Ja, alles in die hemel en op die aarde – die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie, of dit nou hemelse of aardse regeerders is, hemelse of aardse magte – álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep.
17  Hý was daar vóór alles, en alles trek in Hom saam (In Hom bly alles in stand).
18  Hý is die hoof van die kerk, sy liggaam.  Die Seun is die begin.  Hy is die Eerste wat uit die dood opgestaan het sodat Hy inderdaad eerste in alle dinge is.
19  God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon,
20  en om deur die Seun sy goeie verhouding met alles in die hemel en op die aarde te herstel.  Hierdie vrede is bewerk deur die bloed wat aan die kruis gevloei het.

Groete,
Sakkie