DAAROM BID EN BEUR EK IN GEHOORSAAMHEID VOORT

DAAROM BID EN BEUR EK IN GEHOORSAAMHEID VOORT

Sakkie Parsons

Ek was in gesprek met iemand en die persoon het gevra dat ek hierdie antwoord met al my mense sal deel.  Dit het gehandel oor moeilike omstandighede in hulle lewe wat na ses jaar nog nie verander het nie.  My antwoord aan haar was die volgende:

Ek verstaan die meeste van die tyd nie hoekom sekere dinge in ons lewe gebeur soos wat dit gebeur nie maar ek verstaan verseker wat dit beteken om gehoorsaam te wees en ons Here het in Sy Woord vir ons laat skryf:

LUK 18:1  En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,
LUK 18:2  en gesê: Daar was ‘n regter in ‘n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie.

Jy kan self die res gaan lees.

Dan met dit in gedagte lees ek ook:
 

1JOH 5:14  En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.

Wanneer ek dink dat dit soms vir my moeilik is om terwyl dinge met en om my gebeur, hierdie twee gedeeltes presies in harmonie met mekaar te bring, kom daar hierdie groot vrede oor my as ek onthou, dat HY wat die hele heelal en ook vir my geskep het, ook ten volle in beheer van hierdie ingewikkeldheid is en dan is dit vir my persoonlik altans, maklik om my behoeftes na Hom te neem en maar net gehoorsame in opregtheid en soos wat HY ons geleer het, te bid

MAT 6:9-10  Bid dan soos volg:
Ons Vader in die hemel,
laat u Naam geheilig word.
10Laat u koninkryk kom.
Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel.

Ek deel gou met jou die volgende uit die Woord:

Die meeste van Paulus se volgelinge was baie, baie lief vir hom.  Soveel so, dat Paulus aan wie ons Here die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het en wie so vol van die Heilige Gees gewees het, dat mense gesond geword het en selfs van duiwelbesetenheid genees was, as hulle net kledingstukke wat hy gedra het  op die siekes en duiwelbesetenes gelê het en tog skryf hyself by geleentheid:
 

GAL 4:13  maar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het;
GAL 4:14  en julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie, maar julle het my ontvang as ‘n engel van God, ja, as Christus Jesus.
GAL 4:15  Wat was dan julle saligprysing? Want ek getuig van julle dat julle, as dit moontlik was, jul oë uitgegrawe en vir my sou gegee het.

 

So, ek glo, dat toe Paulus, nogal as gevolg van mense wat deur satan aangespoor was in Rome in die tronk sit en wag, dat sy kop afgekap gaan word, dat baie opregte mense in groot erns vir hom gebid het, as ook hyself natuurlik en tog het die mense wat hom dood wou hê, hulle sin gekry en is hy doodgemaak.

Daarom bid en beur ek in gehoorsaamheid voort, teen die aanslae van satan:
 

HEB 12:1  Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
HEB 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
HEB 12:3  Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.

 

Want, ek is deeglik bewus, dat wat hierdie opset van Sy kinders se lewe aanbetref, Hy van ons verwag, om in Hom te glo en Hom ten volle te vertrou, dat alles uiteindelik ten goede vir ons sal saam werk, ja, al is daardie uiteindelik dalk eers in die hiernamaals.

 

ROM 8:28  En ons weet dat God  (uiteindelik, maak nie saak hoe lank dit vir my mag voel nie) alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Want sien –
Uiteindelik:
 

2KOR 4:17  Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, (as jy dit vergelyk met die ewige lewe wat vir ons voorlê) bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid;

2KOR 4:18  omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.
 

Vir nou kyk ek so na die dinge wat ons Here vir my dadelik en soms met tyd antwoord, saam met dit wat Hy volgens wat ek in my mensheid kan sien, hy nie antwoord nie ten minste nog nie tot nou toe nie en ek hou in gehoorsaamheid aan met bid omdat ek weet:
 

1SAM 15:22  Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.
1SAM 15:23  Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. …

Daarom liewe vriend/vriendin, kom ons bid en beur in gehoorsaamheid voort in ons wedloop wat tot alle heerlikheid lei, met ons gedagtes gerig op JESUS en wat HY ter wille van ons verdra het, sodat ons nie moedeloos raak en verslap nie.

Groete,
Sakkie