DANKBAARHEID TE MIDDE VAN OMSTANDIGHEDE

DANKBAARHEID TE MIDDE VAN OMSTANDIGHEDE

Sakkie Parsons

Liewe vriend / vriendin,
Ek deel graag met jou hierdie antwoord aan iemand wat baie moeilike omstandighede beleef en aan my geskryf het. 

Ek lees jou brief en ek dink:

Sjoe!   Hier is iemand wat ook onder groot druk van satan gaan, net soos wat ek die afgelope 7 jaar gegaan het en soos so baie ander mense deur hom geteister word.

Gelukkig – en ek sê gelukkig want dit help ons; ek weet want dit is wat dit vir my gedoen het en nog steeds doen omdat ek dit weet –

Die eerste ding wat ek weet elke keer as dinge my wil vang is dit:
Die satan wil hê dit moet my vang, daarom teister hy my so.

Met daardie wete, sê ek vir myself:
“Wel ek gaan my nie laat vang nie.”

Dan hou ek my oë op Jesus en terwyl ek in die gees na Hom kyk sien ek al die groot wonders in my eie lewe.

Ek deel sommer met jou soos ek soms dinge dan in my eie lewe sien:

Ek dink aan Cornelia (my vrou wat nou by ons Here is) en dan kom daardie, so bekende, hartseer ruk in my ingewande oor wat met haar gebeur het en wat ek saam met haar hierdie afgelope 7 jaar deurgegaan het in my op – maar dan, as kind van God, onthou ek wat ons Here toe vir haar gedoen het en waar sy nou is en ‘n heerlike dankbare vrede vol blydskap kom sit in my hart.

Soms staan ek en iets doen, soos die skottelgoed was en dan kom my persoonlike omstandighede in my hart op maar dan onthou ek:

“Hier staan ek nou heerlik gesond en daar is mense wat in ‘n bed lê en hulleself nie eens van die een na die ander sy kan draai nie en dan dank ek maar net weer in dankbaarheid my God vir wat Hy vir my doen.”

Soms sit ek in die aand hier in my woonstel en wil ek so eensaam en alleen voel maar dan onthou ek, dat ek eerstens, nie alleen is nie.  Ons Here is hier by my en tweedens – ek het al hierdie wonderlike vriende soos byvoorbeeld jy met wie ek die voorreg het om te kommunikeer.

Jy sien my vriend / vriendin,
Satan wil hê dat presies met jou en my moet gebeur wat met Petrus gebeur het toe hy op die water geloop het (ek het al hieroor geskryf) maar vir nou, wat bedoel ek?

Jesus sê vir Petrus dat hy op die water na Jesus toe moes loop – en wraggies – daar doen hy dit!  Die enigste mens wat ooit so iets gedoen het.

Daar stap Petrus na Jesus toe en hy hou sy oë op Jesus maar soos satan nou maar is, wys hy vir Petrus daardie woeste golwe wat agter Jesus se rug na hulle aangerol kom en jy kan maar sê, Petrus skrik hom letterlik uit sy geloof uit en sink soos ‘n klip.

As satan my met daardie selfde slapriem wil vang, konsentreer ek net in die gees op Jesus in die besef van hoe wonderlik dit is om op water te loop.  Met ander woorde om mee te begin:

Net om die wonder te kon beleef om vanoggend weer uit ‘n bed kon opgestaan het en al die wonderlike dinge in my lewe – maar bo alles, dat ek kind van God is en soos my vrou en miljoene voor haar wat reeds daar is, ek ook op my pad hemel toe is.

Dan, omdat ek in die regte perspektief na die lewe en alles daarin en daarom kyk, ervaar ek die vrede waarvan Jesus ons vertel:

JOH 16:33 Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”

JHN 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

Daarom, en ek sê dit met ‘n hart vol meegevoel en liefde:

Kom ons hou ons oë net op Jesus en wat hierdie lewe met al sy dinge aanbetref;  kom ons loop op die water.

HEB 12:1-3

Met die oog vasgenael op Jesus sal ons nie uitsak nie
1  Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,
ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.

Groete,
Sakkie