DIE 144 000 VERSEËLDES IN OPENBARING

DIE 144 000 VERSEËLDES IN OPENBARING

Sakkie Parsons

Iemand het vir my ‘n e-mail gestuur en my, my opinie gevra oor die honderd vier en veertig duisend verseëldes in Openbaring 7:4.

Ek is nie ‘n groot Teoloog nie, maar ek stuur ook vir jou my antwoord wat ek aan die persoon gestuur het. Miskien het jy ook hieroor gedink, of miskien weet jy van iemand wat ook hieroor wonder.

Ek wil begin deur te sê, na my beskeie mening het die honderd vier en veertig duisend niks met my en jou te doen nie. Lees net gou weer die gedeelte – u sal merk dat die NLV vir ons die betekenis van ‘verseëlde’ mooi omskryf:

OPG 7:4  Ek het toe gehoor wat die getal is van dié wat met ‘n seël op hulle voorkoppe gemerk is:  daar was 144 000 gemerktes, afkomstig uit al die stamme van die kinders van Israel.

Die honderd vier en veertig duisend is uit die kinders van Israel. As iemand dalk dan nog twyfel verklaar verse 5 tot 8 dit nog verder:

OPG 7: 5-8  Uit die stam van Juda was daar 12 000 wat met die seël op hulle voorkoppe gemerk is;  uit die stam Ruben 12 000, uit die stam Gad 12 000;
uit die stam Aser 12 000, uit die stam Naftali 12 000;  uit die stam Manasse 12 000;  uit die stam Simeon 12 000;  uit die stam Levi 12 000;  uit die stam Issaskar 12 000; uit die stam Sebulon 12 000;  uit die stam Josef 12 000 en uit die stam Benjamin was daar 12 000 wat met ‘n seël gemerk is.

Die duiwel wat die Bybel ook baie goed ken, laat mense baie keer teen die honderd vier en veertig duisend vaskyk wat nie eintlik iets met hulle te doen het nie, en dit wat meer op hulle van toepassing is, heeltemal miskyk:

Kyk ‘n bietjie na vers 9:

OPG 7:9  Hierna het ek gekyk, en werklikwaar – daar was ‘n reuse skare mense wat niemand eers kon tel nie.  Hulle het gekom uit elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam stelling ingeneem.  Hulle het wit klere aangehad, met palmtakke in hulle hande.
OPG 7:10  Met ‘n kragtige stem het hulle uitgeroep:  “Ons verlossing is te danke aan God wat op die troon sit en aan die Lam!”

Ek moet maar net aan Jesus vashou en ek sal my plek voor die troon kry.

Ek vind dat mense baie keer energie en tyd spandeer aan dinge wat God op die regte tyd aan ons, Sy kinders, verseker sal openbaar.

Laat ek dit verduidelik met die denkbeeldige voorbeeld wat ek maar altyd met hierdie soort probleem gebruik:

Ek en my seun loop in die veld. Hy het nog nooit ‘n leeu gesien nie. Ek vertel hom nou dat dit veilig in die veld is, behalwe as ons nou op ‘n leeu afkom.
Nou kom ons om ‘n bos geloop en daar staan ‘n springbok.   Verskrik vra my seun my of dit ‘n leeu is en of ons moet hardloop. Ek sê vir hom dat hy nie hoef bang te wees nie.  Dat dit maar net ‘n bok is en dat ek hom sal sê as ons ‘n leeu sien. 
By ‘n volgende geleentheid kom ons af op ‘n volstruis en weer wil hy weet of dit dan nie ‘n leeu is nie en weer sê ek vir hom dat hy nie bekommerd hoef te wees nie.
By ‘n derde geleentheid kom ons om ‘n bos en daar – so 60 meter van ons af – lê daar ‘n leeu. Nou sê ek vir my seun, dat hy gou in die naaste boom moet klim want dit is ‘n leeu.

Jy sien, ons moet Jesus – en Hom as gekruisigde – aan die mense verkondig:

1KOR 2:1  Liewe broers en susters, toe ek destyds vir die eerste keer na julle toe gekom het, het ek nie ‘n stortvloed woorde of indrukwekkende wysheid gebruik om aan julle God se groot geheim, naamlik die Goeie Nuus, te verkondig nie.
1KOR 2:2  Want ek het besluit om as ek by julle is, net op Jesus Christus te konsentreer en veral op Sy kruisdood.

Jy sien, ek bekommer my nie oor die tekens en dinge wat ek nie verstaan nie, wanneer ek moet weet wat ek moet weet, sal my liefdevolle Vader seker maak dat ek weet, wat ek moet weet, wanneer ek dit moet weet.

Vir die huidige spandeer ek my energie en tyd op die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus.

Onthou nou, ek sê nie dat dit verkeerd is om oor die dinge te redeneer nie maar ek moet myself die vraag vra: “Wat kan ek daarmee bereik?”

Persoonlik het ek nie die tyd om oor dinge te redeneer wat nie op hierdie laat stadium in die mens se geskiedenis volgens my mening kan help om ‘n siel na Jesus te lei nie.

Ek gee nie om, om na die beste van my vermoë, iemand se vrae te beantwoord nie, maar self bekommer ek my nie oor die dinge wat ek nie verstaan nie, want ek weet, wanneer ek moet weet, sal ek weet.

Net gou weer oor jou vraag.
Volgens my beskeie mening het die honderd vier en veertig duisend niks met jou of my te doen nie en soos jy in vers 9 sien gaan daar baie wees en daar is ook plek vir jou en my:

JHN 14:1-3 
1 “Moenie ontsteld wees nie.  Hou net aan om op God te vertrou en vertrou ook ten volle op My.
2  In die huis van my Vader is daar sommer baie kamers.  As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het.  Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak.
3  En as Ek gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Ek wil jou iets wys uit die gedeelte uit die Bybel wat ek nou net gekwoteer het. Die Bybel sê dat God die hele skepping in ses dae geskep het:

EXO 20:11  Die HERE het in ses dae die hemel, die aarde, die see en alles wat daarin is, gemaak. …
God het die aarde en die onmeetlike heelal met sy miljarde sterre in ses dae gemaak.
Jesus het ongeveer 2,000 jaar gelede opgevaar na die Hemel om vir ons plek te gaan voorberei en Hy het gesê en ek herhaal dit in die 1953 Vertaling:

JHN 14:3  “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Natuurlik kan ‘n mens jou nie indink in daardie voorbereiding nie en ek spandeer gewoonlik nie tyd of energie om oor dié tipe onderwerpe te praat nie, want al wat ek kan sê as ek aan dié tipe dinge dink is: “ It boggles my mind.”  Byvoorbeeld hier is iets om aan te dink. Net ‘n gedagte:
Ons Here het die onmeetlike heelal en alles wat daarin is in 6 dae geskep. Jesus is nou al meer as 2 000 jaar besig om vir ons plek te berei.  Dit is iets wat ‘n mens nogal laat dink.
Ek weet nie hoe dit gaan lyk as ek daar kom nie maar kan jy sien waarom ek sê:
“ It boggles my mind.”

ROM 8:18 Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie.

1KOR 2:9  Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde:
“Wat geen oog gesien het;
wat geen oor gehoor het;
wat in niemand se hart
opgekom het nie –
dit het God voorberei
vir hulle wat Hom liefhet.”

Wat ek wel verseker vir enige iemand kan sê wat dalk hieroor wonder, daar is plek vir elke een wat Jesus Christus aanneem as Verlosser en Saligmaker.

JHN 3:16  God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Groete,
Sakkie