DIE BOSE GEESTE SOEK ‘N WONING

DIE BOSE GEESTE SOEK ‘N WONING

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende wat ek met jou deel:

Ek lees vanoggend Mattheus 8:28 tot 34 waar die demone of duiwels vir Jesus smeek om hulle in die varke te laat ingaan. My vraag is nou: hoekom wil hulle in die varke ingaan en hoekom het hulle in die see ingestorm en al die varke het verdrink?  Al die varke is nou dood maar waar is al die demone wat in die varke was?

Voor ek met jou deel wat ek die persoon geantwoord het, net die volgende interessantheid:
Hier is ‘n baie groot waarheid in hierdie gedeelte wat baie mense mis kyk as hulle die gedeelte lees en ek wil dit reg hier aan die begin net vir jou wys om ook oor te dink.
Dit is tog hartseer, dat daar vandag baie volgelinge van Jesus is wat minder geloof in Jesus het as byvoorbeeld satan se engele.
Kom ek wys jou wat ek bedoel:

MAT 8:31  En die duiwels het Hom gesmeek en gesê: As U ons uitdryf, laat ons toe om in die trop varke te vaar.
MAT 8:32  En Hy sê vir hulle: Gaan! Toe gaan hulle uit en vaar in die trop varke in; en daar storm die hele trop varke van die krans af die see in en kom in die water om.

Sien jy dit?
Hulle, die bose geeste, het geglo, dat wat hulle Jesus vra, Hy by magte is om vir hulle te doen en toe Jesus vir hulle sê gaan, het hulle dit sonder om te twyfel gedoen.
Hoeveel van ons glo altyd wat ons vir Jesus vra, sonder om daarna tog te twyfel en selfs soms nie eens werklik te glo dat Hy vir ons Sal doen volgens Sy wil nie.

‘n Ander belangrike punt is die feit dat JESUS volle beheer en mag en gesag oor die demone het.

Terug by die vraag aan my en ons begin met:

“Hoekom wil hulle in die varke ingaan?”
Soos ek die Woord verstaan, kan satan se engele of dan bose geeste nie funksioneer, of dan behoorlik funksioneer as hulle nie in ‘liggaam  van ‘n mens’ of dan as dit nie anders kan nie, soos in die geval ‘n ‘liggaam van ‘n dier’ is nie.
Daarom is ons stryd ook uiteindelik nie teen mense nie maar teen satan se bose geeste / engele in die lug, wat die geleentheid gekry het om in ‘n mens rusplek te kry:

EFE 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

As hulle nie in verkieslik ‘n mens hulleself tuisgemaak het nie, ervaar hulle, hulle omgewing in die geesteswêreld as baie onaangenaam:

MAT 12:43-45 
43 En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. (‘n wyse om hulle onaangename omgewing in die geesteswêreld te beskryf.)
44  Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.
45  Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, (wat ook in vir hulle onaangename omstandighede soek vir ‘n mens in wie hulle rus kan vind en vind dit nie) en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag. (daarom raak die wêreld ook net meer en meer boos)

So, hoekom wou hulle  in die varke in gegaan het?
My antwoord soos ek dit sien, is omdat hulle geen ander opsie gehad het nie.
Hulle was baie en daar was nie soveel mense in hulle onmiddellike omgewing nie en die wat daar was, was nie vir hulle toeganklik nie en hulle wou hulleself net nie weer in die ou onaangename omgewing in die geesteswêreld bevind waar hulle weer vir rusplek moes soek nie.

Nou hoekom het die varke die see in gestorm?
Wel, my persoonlike gedagte is dat diere se brein net nie regtig in staat is om daardie soort, kom ons noem dit maar vir my verduideliking se onthalwe, krag te hanteer nie.
Want onthou ook dat satan en sy engele was eens op ‘n tyd inwoners van die hemel en hulle is dus, om dit so te stel, hemelse wesens.
Varke, anders as mense kan dus nie werklik bosegeeste behoorlik akkommodeer nie.
Ons egter wie in ons liggame is, is ook, om dit so te stel, hemelse wesens:

GEN 2:7  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. (uit God, uit die hemel) So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Daarom het jy en ek, die mens in ons liggaam, om dit so te stel, ‘n goddelike voorkoms.

GEN 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; (‘n goddelike voorkoms) na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. (na Sy goddelike beeld)

So, al die varke, omdat hulle eintlik anders as die mens, redelose diere is, het die see in gestorm en verdrink.  Hulle het almal gevrek.

So, waar is al daardie geeste toe heen toe al daardie varke verdrink het?
Wel, dit is eenvoudig:
Hulle is nie dood nie, gewoon omdat hulle nie kan verdrink nie.
Hulle is weer terug in daardie baie onaangename geesteswêreld / omgewing, waar hulle juis nie wou wees nie en soek hulle naarstigtelik na ‘n mens wat hulle hul rusplek kan maak.

MAT 12:43-45 
43 En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie.
44  Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.
45  Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, (wat ook in vir hulle onaangename omstandighede soek vir ‘n mens in wie hulle rus kan vind en vind dit nie). en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag. (daarom raak die wêreld ook net meer en meer boos)

Sommer vir die interessantheid daarvan:
Vir my persoonlik is dit wat hier gebeur het ook ‘n bewys dat satan en sy engele nie soos ons Here ook in die toekoms kan sien nie, anders sou hulle die fataliteit van wat hulle gevra het begryp het.

Nou praat ek met almal wat hier lees , wat nog nie vir Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie en ook met almal wat nie seker is of hulle Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie. 
 

Want as jy nie seker is of jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie, dan het jy nog nie regtig vir Jesus as jou God en Verlosser aangeneem nie.

Na my mening is een van die gevaarlikste omstandighede om vandag in te wees die volgende:

Om vol godsdiens te wees – maar geheel en al sonder God.
Om Jesus in jou kop te hê – maar nie in jou hart nie.
Om vol christelike vertoon te wees – maar nie Christus se Heilige Gees inwonend in jou te hê nie.

As jy tot hier gelees het en jy wonder of jy nie dalk in een van bogenoemde kategorieë val nie en jy het nog nooit in opregtheid vir Jesus gevra om deel van jou lewe te wees nie – met ander woorde jy weet jy het Hom nog nooit regtig in jou lewe in genooi nie en jy voel dat jy dit nou moet doen – dan is dit omdat jy Sy Heilige Gees in jou binneste met jou hoor praat.

Dan is die volgende vandag wat in jou lewe gebeur:
Jy hoor Jesus se stem in jou binneste wat sê:

OPB 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
OPB 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

Wil jy nie van hierdie geleentheid gebruik maak, as jy dit nog nooit gedoen het nie en net met volle opregtheid vir Jesus antwoord met hierdie kort gebed nie?

“Here, ek hoor U stem in my binneste en ek Neem U vandag aan as my Verlosser en Saligmaker.”

Nou soek jy ‘n gemeente wat die hele Bybel as die ware Woord van God aanvaar en jy maak ‘n afspraak met die herder van daardie gemeente om jou verder te lei in hoe om jou liefdesverhouding met Jesus te laat groei en hegter te maak en jy begin deur betrokke by die gemeente en hulle werksaamhede te raak.

As jy reeds aan ‘n gemeente behoort maar nou eers ‘n volle oorgawe aan Jesus gemaak het, maak jy ‘n afspraak met die herder van daardie gemeente om jou verder te lei in hoe om jou liefdesverhouding met Jesus te laat groei en hegter te maak en jy begin deur betrokke by die gemeente en hulle werksaamhede te raak.

Groete,
Sakkie