DIE BRUILOFSKLEED – JESUS CHRISTUS

DIE BRUILOFSKLEED – JESUS CHRISTUS

Sakkie Parsons

Iemand stuur aan my die volgende vraag:
 

“Is daar ‘n verskil tussen "bruid" en "bruilofsgaste?"  Verduidelik vir my deur middel van God se Woord, die verskil tussen “bruid” en “bruilofsgaste.”  Kwoteer ook asb vir my die nodige tekste vir eie verwysing en naslaan indien moontlik.”

Ek deel nou met jou hoe ek die bruilofsmaal en die bruilofsgaste en die gebeure daar rondom verstaan, maar eers net gou die volgende:

Die Woord is vol daarvan waar daar van Jesus gepraat word as die Bruidegom.

So – wie die Bruidegom is – is baie duidelik.

Oor die bruid kwoteer ek net die volgende en wil ek net noem dat, volgens wat ek die Woord verstaan, is almal wat Jesus Christus waarlik aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker, gesamentlik deel van Sy bruid.

Ons is, soos die Woord dit stel, almal lede van dieselfde liggaam en soos ‘n bruid en haar bruidegom een word, so is ook Christus en Sy bruid een en ek gee een voorbeeld:

ROM 12:5 “Net so is dit ook met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam omdat ons aan Christus verbind is, en as ledemate van hierdie één liggaam hoort ons saam en het ons mekaar nodig.”

Johannes sê van Jesus:

JOH 3:29 “Dit is die bruidegom aan wie die bruid behoort; die vriend van die bruidegom gaan staan en luister of hy kom, en hy is sommer baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom loop ek nou oor van blydskap.”

Kom ons lees net gou die gedeelte waaroor die persoon my vra:

MAT 22:1-14
1 “Jesus het vir hulle ook nog ander voorbeelde vertel om God se koningsheerskappy uit te beeld.  So het Hy byvoorbeeld gesê:
2 God se koningsheerskappy is soos ‘n koning wat ‘n groot bruilofsfees vir sy seun voorberei het.
3 Toe die fees gereed was, het hy sy slawe uitgestuur om die gaste te laat weet dat dit tyd was om te kom, maar hulle wou nie kom nie.
4  Daarop het hy weer ander slawe gestuur met die opdrag:  ‘Sê vir die gaste:  My feesmaal staan gereed.  My beeste en vetmaakvee is klaar geslag.
  Alles is reg om te begin.  Kom na die bruilof!’
5  Die genooides het egter net hulle skouers opgetrek en elders heen gegaan, die een na sy boerdery en die ander een na sy besigheid.
6  Die res het die slawe gegryp en mishandel en selfs doodgemaak.
7  Daarop het die koning woedend geword.  Hy het sy weermag gestuur en daardie moordenaars doodgemaak en hulle stad afgebrand.
8  Hy sê toe vir sy slawe:  ‘Die bruilof is gereed, maar die gaste wat ek genooi het, is hierdie eer onwaardig.
9  Gaan staan nou op die straathoeke en nooi almal wat julle raakloop om die bruilof by te woon.’
10  Toe het daardie slawe op die strate uitgegaan en elkeen saamgebring wat hulle kon kry, slegtes sowel as goeies.  So het die bruilofsaal vol gaste geword.
11  Toe die koning egter die saal binnekom om die gaste te ontmoet, merk hy iemand op wat sonder bruilofsklere opgedaag het.
12  Daarop sê hy vir die persoon:  ‘My vriend, hoe het jy dan sonder die regte klere hier ingekom?’  Maar hy kon geen verskoning aanbied nie.
13  Toe sê die koning vir sy slawe:  ‘Bind hierdie vent stewig vas en smyt hom uit in die donker daar buite waar daar bitterlik gehuil en van selfverwyt op die tande gekners sal word.’
14  Daar is inderdaad baie meer genooides as uitverkorenes.”

Vanaf MAT 22:1 tot MAT 22:8 deel Jesus, soos ek dit sien, met die Jode wat net nooit ons Here voluit wou dien soos wat Hy wou dat hulle Hom moes dien nie. Hulle wou, die kere wat hulle Hom wel gedien het, die meeste van die tyd ook nie Sy heerskappy oor hulle aanvaar soos wat Hy wou dat hulle dit moes doen nie en hulle manier van Hom dien het net vir ons Here later by wyse van spreuke, soos vir die koning in die gelykenis, net te veel geword. Toe hulle selfs nie hulle Messias wat voor hulle gestaan het, ten spyte van al die profesië, wou aanvaar nie:

JHN 1:11  “Hy het na Sy eiendom gekom, en Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.”

Die volgende uit die Woord kan ook op die Jode van toepassing gemaak word:

JOH 3:19 “Dít is die beslissende vonnis: die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was boos.”

Toe, in die jaar 70 na Christus, het die Romeine vir eens en vIr altyd genoeg gehad van hierdie balhorige Joodse volk wat kort-kort in opstand kom en is Jerusalem vernietig.
Van die geskiedskrywers van daardie tyd vertel ons dat die menseslagting onder die Jode iets verskrikliks was.

Jesus self het by meer as een geleentheid oor hierdie gebeurtenis gepraat en ek deel met jou die volgende:

In hierdie volgende gedeelte kom Jesus van Betánië se kant af om die Olyfberg en soos Hy om die berg kom, net voor Hy die afdraande na die stad neem, lê Jerusalem voor Hom uitgestrek en dan lees ons:

LUK 19:41-44 
41 “En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween
42  en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.
43 Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit.
44  En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie”

In hierdie volgende gedeelte is Jesus op pad na Golgota om gekruisig te word en Hy is so swak dat iemand anders Sy kruis vir Hom dra, maar in Sy geweldige swak toestand draai Hy nog om na die mense wat oor Hom ween, en sê aan hulle:

LUK 23:28-30
28 “Maar Jesus het Hom omgedraai en vir hulle gesê: Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders;
29  want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie.
30  Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons!”

Terug by die gelykenis. Vanaf MAT 22:8-10 deel Jesus met Sy Evangelie aan die heidene, mense soos vir jou en my, met ander woorde, almal wat die Evangelie hoor en Hom werklik aanneem, maar ook dié wat onder die naam van Christen gaan, maar nie werklik Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie.

Nou moet ons eers hier iets raaksien. Die mense wat ingebring was na die bruilofsmaal, was uit elke vlak van die samelewing. Daar was byvoorbeeld die rykes met hulle klere en dan was daar natuurlik die armes met hulle klere aan en ook die bedelaars op die hoeke van die strate met hulle verslete en vuil klere aan.

Maar toe hulle in die bruilofsaal sit, het almal dieselfde bruilofskleed aan, want dit het die Koning, soos ek dit verstaan, self verskaf.

Nou goed.

Toe kom die Koning in die bruilofsaal in en sien dat een persoon nie ‘n bruilofskleed aan het nie.

Hoekom kon die koning die persoon sommer so dadelik uitken onder al die ander menigte gaste? Want jy sien, die Koning het die kleed so baie, baie goed geken.
Want die kleed wat almal moet aanhê om die Hemelse bruilofsaal in te kom, is Jesus Christus.

GAL 3:27  “want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.”

Ek moet tog nie vir een oomblik dink ek gaan die bruilofsaal binnegaan en daarmee wegkom, net omdat ek Sondag vir Sondag in die kerk sit en dieselfde soort dinge sê en doen, as hulle wat Jesus werklik aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie.

Geen godsdiens of godsdienstigheid alleen gaan vir my die Hemel se poorte oopmaak nie.

Met ander woorde, ek sal die Hemel net ingaan indien ek werklik vir Jesus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker.

JOH 14:6  “Jesus sê vir hom: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

Lees net gou weer die volgende, terwyl jy in jou hart deeglike selfondersoek instel:

MAT 22:11-13 
11 “Toe die koning egter die saal binnekom om die gaste te ontmoet, merk hy iemand op wat sonder bruilofsklere opgedaag het.
12   Daarop sê hy vir die persoon:  ‘My vriend, hoe het jy dan sonder die regte klere hier ingekom?’  Maar hy kon geen verskoning aanbied nie.
13   Toe sê die koning vir sy slawe:  ‘Bind hierdie vent stewig vas en smyt hom uit in die donker daar buite waar daar bitterlik gehuil en van selfverwyt op die tande gekners sal word.”

So – Wat is die antwoord vir die mens wat die Hemel se bruilofsaal wil ingaan en altyd by die Koning wil wees?

ROM 13:14 “…, soos 'n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus "aantrek", en nie 'n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie.”

As ek dit werklik kan sê, is ek op my pad na die Hemelse bruilofsaal.

Nou moet ek daaraan werk dat die mense om my, my bruilofskleed kan sien en dat hulle ook sal begeer om hierdie kleed aan te hê.

Hoe doen ek dit?

Jesus stel dit so:

MAT 7:16 “Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ‘n mens ‘n boom aan sy vrugte kan uitken.  ‘n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse af, of vye van dissels nie.”
MAT 7:17 ‘n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ‘n siek boom slegte vrugte.”

So, hoe moet hierdie optrede, of dan vrugte, lyk waaraan die mense my gaan uitken as ‘n Christen/dissipel van Jesus?

GAL 5:22  “Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,
GAL 5:23 sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie 'n wet nie.”

Terwyl ek met MAT 22:11-14 in gedagte moet onthou:

MAT 7:19  “Elke  boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
MAT 7:20 So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.”

Vroom praatjies tel nie in God se koninkryk nie

MAT 7:21 “Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie.  Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.”

Groete,
Sakkie