DIE BYBEL IS GOD SE STEM OP PAPIER

DIE BYBEL IS GOD SE STEM OP PAPIER

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra in kort die volgende:

“Hoe is dit dat sommige mense God kan hoor en ander hoor Hom nie?”

Ek wil dan begin deur eers iets te sê oor God se hoorbare stem.

Ek het ongeveer 43 jaar gelede vir ons Here begin werk en ekself het nog nooit ons Here met ‘n hoorbare stem met my hoor praat nie.
Nou sê ek natuurlik nie dat dit nie gebeur nie, daarvoor het ek te veel getuienis uit die Woord dat dit wel gebeur maar ek persoonlik betwyfel dit, dat dit so baie gebeur soos wat sommige mense dit vandag wil voorgee.

Onthou, dat alhoewel ons baie in die Ou Testament lees dat ons Here met mense met ‘n hoorbare stem gepraat het, omdat die Bybel oor honderde jare geskryf is, dit nie so baie gebeur het soos wat dit dalk mag lyk nie.

Ek toets alles wat mense vir my sê, dat ons Here vir hulle met ‘n hoorbare stem gesê het, met dit wat ek in die Woord vind en die meeste van die kere wat ek ondervinding van het, kon ek dan duidelik sien dat hulle dalk ‘n stem mag gehoor het maar dat dit verseker nie ons Here se stem gewees het nie.
Ek noem ook net weer omdat dit belangrik is dat jy dit sal onthou, as dit by die hoorbare stem van ons Here kom:
Onthou dat wanneer jy in die Woord lees dat ons Here met mense in ‘n hoorbare stem gepraat het, al lyk dit vir jou soos dat dit baie gebeur het, moet jy net in gedagte hou, dat daardie gesprekke oor ‘n tydperk plaasgevind het wat oor baie honderde jare gestrek het en nou almal by mekaar vir ons in die Bybel saamgevoeg is.

Nou, wat is die wyses waarop ons Here die meeste met ons kommunikeer?

Wel, ek kan maar net met jou deel waarvan ek weet en dit so in my lewe ondervind en beleef het en as jy dit lees sal jy ook sommer sien waarom so min mense ons Here se stem hoor.

Eerstens, gebed, soos in tyd maak en met ons Here gesels.  So ek praat asseblief nie van ‘n kort gebedjie een of twee keer per dag nie.
Ek bedoel soos gereeld dwarsdeur die dag.
Deur met ons Here opreg en eerlik te gesels, gee jy Hom die geleentheid om in jou binneste met jou te kommunikeer deur Sy Heilige Gees.

Tweedens, deur Sy Woord te bestudeer en so te sorg dat jy ‘n goeie kennis daarvan het.
Al die antwoorde vir hoe Hy wil dat jy Hom in gees en waarheid op jou reis deur hierdie wêreld sal aanbid en so ‘n wonderlike verhouding  soos ‘n kind met haar/sy Vader het, sal jy daar vind.

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek.
2TIM 3:17  Dit is God se manier om sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.

Een van die redes onder andere so dink ek dat ons Here ook met die mense in die Ou Testament met ‘n hoorbare stem gepraat het, is omdat hulle nog nie Sy volle Woord, soos jy en ek  vir hulle reis deur hierdie lewe gehad het nie en dat hulle ook nie Sy Heilige Gees soos jy en ek, permanent inwonend in hulle gehad het nie.

Ek vind in die lewe hierdie onverstaanbare fenomeen –
Mense wil graag dat ons Here met hulle sal praat maar dan nader hulle Hom amper so min as moontlik in gebed en lees hulle omtrent nooit Sy Woord nie en Sy Woord is tog presies net dit –  Dit is ons Here se woorde wat tot ons kom as ons Sy Woord lees.  Jy kan maar sê, dat die Bybel is God se stem op papier.

Ek is van mening, dat as al die mense wat hulleself Christene noem, net byvoorbeeld die helfte van die tyd wat hulle op hulle selfone spandeer sou gebruik om die Woord te lees en te bestudeer, hierdie wêreld ‘n ander en baie beter plek sou wees.
Dan, sorg dat jou intieme vriendekring bestaan uit geesvervulde kinders van ons Here.
Dit het al byvoorbeeld met my gebeur, dat ek ‘n boodskap êrens moes bring en nog nie weet wat ons Here wil dat ek daar moes gaan bring nie en dan praat ek met een van my Christelike vriende of ek lees of luister na een van ons Here se ware kinders en dan kry ek te heerlik deur hulle van ons Here af wat ek moes gaan bring.
Laaste maar by verre nie die minste nie:
Werk daaraan dat jy die vrugte van die Gees dra.

Wat is hierdie vrugte, of dan, waaruit bestaan hierdie vrugte van die Gees?

GAL 5:22-23  Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie.

Dus –
As ons wonder waarom ons dalk nie ons Here se stem in ons lewe in ons harte hoor nie, moet ek dalk net so ‘n bietjie na my gebedslewe kyk, as ook hoe gereeld ek die Bybel lees en bestudeer.
As ook hoe lyk my vrug van die gees wat ek dra en hoe lyk my vriendekring.

As jy hierdie 4 afdelings in jou lewe, om dit so te stel, jou prioriteit maak om aan te werk, sal die ander krakies sommer soos mis voor die son verdwyn en jy sal ‘n wonderlike liefdesverhouding met jou Vader hê en Sy stem te heerlik in jou binniste hoor.
Dan sal wat Petrus skryf nie net vir jou sin maak nie maar jy sal dit as ‘n werklikheid te heerlik in jou lewe ervaar:

2PET 1:3-9:
3  Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang!
4 Deur hierdie selfde krag het Hy sy kosbaarste en allergrootste beloftes vir ons laat waar word. Die gevolg hiervan is dat julle deel gekry het aan sy Goddelike natuur. Só het julle vrygekom van die proses van agteruitgang wat, as gevolg van die neigings van ons menslike natuur, oral alles en almal laat sleg word.
5 Juis om hierdie rede moet julle alles in julle vermoë doen om te wys dat hierdie beloftes vir julle waar geword het.  Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is. ’n Goeie leefstyl bring weer mee dat jy God beter leer ken.
6 As ’n mens God ken, kan jy jouself dissiplineer. Selfdissipline bring weer mee dat ’n mens kan uithou en aanhou, en hierdie volharding loop uit op ’n lewe naby aan God.
7 ’n Lewe naby aan God skep liefde vir ander gelowiges, en uiteindelik is dit hierdie positiewe houding teenoor medegelowiges wat meebring dat jy almal liefhet.
8 Hoe meer julle op hierdie wyse groei, hoe meer sal die feit dat julle ons Here Jesus Christus ken, veroorsaak dat julle nie nutteloos en geestelik onproduktief is nie.
1PET 1:6-9
6 Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ’n rukkie laat swaarkry.
Beproewings wys die egtheid van ons geloof uit
7 Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word; en onthou: Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud wat vergaan. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word.
8 Hóm het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie. Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom; julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde bring nie.
9 Julle ervaar hierdie blydskap, want julle is reeds besig om julle finale verlossing, wat die doelwit van julle geloof is, te verkry.

Hoe hoor ons ons Here se stem?

Deur ons lewe aan Jesus Christus te gee en Hom aan te neem as ons Here en Redder en dan in ‘n intieme liefdesverhouding met Hom leef.  ‘n Kind ken sy Pa se stem:

JOH 10:27 My skape luister na my stem;  en Ek ken hulle en hulle volg My.
JOH 10:28 Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan.  Niemand sal hulle uit my hand steel nie.
JOH 15:9 Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief.  Julle moet aan My liefde verbonde bly.

Groete,
Sakkie