DIE CHRISTEN EN PAASFEES

DIE CHRISTEN EN PAASFEES

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:
“Ek wil graag Paasfees met die jeug behandel.
Ek het ‘n paar goed rondom Paasfees gekry soos dat dit nie in die Bybel voorkom nie, maar sal graag ook u oorsig hieroor wil hê…. as dit moontlik is asb.“

Eerstens is dit heeltemal reg, dat nêrens in die Woord word ons, dit is Christene aangesê, dat ons as Christene Paasfees moet vier of dan; die Pasga, soos die Jode moet hou of vier, of hoe jy dit ook al wil stel nie –
Maar dan nêrens in die Woord word ek aangesê om my verjaarsdag te vier uit dankbaarheid dat ons Here my nog ‘n jaar gegee het om Hom hier op aarde te verheerlik  nie, maar ek vier dit elke jaar te heerlik.

Ons as Christene vier elke jaar op ‘n tyd waaroor ons ooreengekom het wat baie mense Paasfees noem.
Ons vier en herdenk so die wonderlike werklikheid, dat ook ons Paaslam, naamlik; Jesus Christus, eenmaal vir ons geslag was.

1KOR 5:7-8
7  … Ook vir ons is daar immers ’n Paaslam geslag – Christus.
8  Kom ons vier dan fees, nie met die ou brood van sonde en onsedelikheid nie, maar met die nuwe brood van reinheid en waarheid.

Hoe doen ons dit in ons harte en saam met ons medegelowiges?

Wel, ons onthou en herdenk, dat Jesus Christus vir ons sonde en tot ons redding gekruisig is en so as ons Paaslam geslag is.

MAT 27:33-36
33  Hulle kom toe by die plek aan wat Golgota genoem word – dit beteken Kopbeenkoppie.
34  Hulle gee toe vir Hom ’n mengsel van wyn en bitter kruie om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.
35  Nadat hulle Jesus gekruisig het, het die soldate sy klere verdeel deur die gooi van dobbelsteentjies.
36  Hulle het daar rondgesit en Hom bewaak.

Ons onthou, dat Hy tot ons verlossing en ons redding aan die kruis gesterf en begrawe was:

JOH 19:30  Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!”
Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.

Ons onthou, dat Hy gekruisig was, dat Hy aan die kruis vir ons sonde gesterf het en dat Hy op die derde dag uit die dood opgestaan het en so die dood oorwin het en nie net die dood oorwin het nie, maar die dood ook doodgemaak het – sodat Hy ons, wie Hom aangeneem het as ons Verlosser, Saligmaker en Redder, van die ewige dood in die hel verlos het en ons nou vir ewig saam met Hom in die hemel kan lewe:

JOH 3:16-18 
16 “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17  God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.
18  “Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.

Voor ek afsluit en nog iets oor die vier van Paasfees sê, moet ek hier eers net op die volgende wys na aanleiding van wat jy nou net gelees het:

Daar is natuurlik derduisende mense wat dit wat Jesus gedoen het, heeltemal ignoreer en natuurlik is daar dan vir hulle verskriklike gevolge.

Onthou jy wat jy gelees het:

JOH 3:18  “Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, (of nie wil glo nie) is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.

Van die sulkes lees ons en ek kwoteer net een van die baie voorbeelde wat ek kon gebruik het:
Eerstens sê die Woord van mense in die kerk (Jesus se koninkryk) wat nie uitleef wat hulle verkondig nie – met ander woorde: “that talk the talk but do not walk the walk”:

MAT 13:41-43 
41 die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen,
42  en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
43  Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

Ook as ek iemand is wat die Evangelie hoor en my nié daaraan steur nie, moet ek ook onthou, dat Johannes 3:18 ook op my van toepassing is:

JOH 3:18  … is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.

Dan moet ek ook besef, dat die volgende uit die Woord op my van toepassing gaan wees, as ek op hierdie weg voortgaan:

OPG 20:15  En as dit geblyk het dat iemand se naam nie in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

Dan gaan ek vIr ewig, om dit so te stel,  die verskriklikste dood sterf maar tog nooit sterf nie!

Ten slotte net nog iets oor die Christen se vier van Paasfees:

Vir my is dit sommer heerlik om daardie wonderlike gebeurtenis wat ons vier “Paasfees” te noem, omdat soos ek gewys het, ook ons Paaslam vir ons geslag was – maar as mense ‘n beswaar het om dit “Paasfees” te noem, noem dit dan dit wat vir jou gemaklik is.  Dit gaan niks verander aan wat Jesus gedoen het nie, en nie jy of ek sal hel toe gaan oor die benaming wat ons in ons harte met liefde aan daardie groot gebeurtenis van net oor die 2,000 jaar gelede gee wat God gedoen het nie en as jy dit afsny tot op die been, om iemand anders se woorde te kwoteer en ek gebruik my eie woorde:
“’n Roos sal ‘n roos bly, maak nie saak wat jy ‘n roos noem nie.”

Groete,
Sakkie