Die derde Hemel en ons loon

Skrywer: Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Ek het altyd geglo daar is een Hemel, maar nou hoor ek by al hoe meer mense dat daar meer as een Hemel is. Hulle praat van ‘n eerste Hemel, ‘n tweede en dan die laaste Hemel. Aangesien ek nog ‘n baba-Christen is, kan ek nie saam met hulle hieroor praat nie, want ek self het nie duidelikheid hieroor nie”

Ek gaan in my antwoord eers noem, wat na my mening die mees populêre siening is, naamlik die gedeelte wat uit die Woord gebruik word om te wys dat daar meer as een Hemel of dan tenminste meer as een vlak van Hemel is:

2KOR 12:2  “Ek ken ‘n man wat in ‘n hegte verhouding met Christus staan.  Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel.  Of dit in die liggaam was of buite die liggaam, weet ek nie, maar God weet.
2KOR 12:3  En ek weet ook dat hierdie man – of dit in die liggaam was of buite die liggaam, weet ek nie, God weet –
2KOR 12:4  weggeruk is na die Paradys toe, en dat hy daar dinge gehoor het wat so verhewe is dat dit vir ‘n mens onmoontlik is om dit in woorde uit te druk.”

Hierdie gedeelte word deur sommige mense as volg verklaar:

Destyds, het baie mense geglo dat daar drie Hemele bokant ons koppe is –

  • Die Hemel anderkant die wolke, êrens in die blou lug,
  • Die Hemel in die buitenste ruimte
  • en die geestelike Hemel.

Daar is selfs mense wat beweer dat daar meer as drie Hemele, of dan as jy wil, vlakke van Hemel is.

Jy het seker al gehoor dat iemand wat baie gelukkig is, byvoorbeeld uitroep: “O! Ek is in die sewende Hemel!”

Self wonder ek nie eintlik oor hierdie saak nie. Vir my is dit oorweldig wonderlik, net om te weet dat ek by ons HERE gaan wees en ek Hóm van aangesig tot aangesig gaan sien en ja, hoe wonderlik,  ék sal ook kan sien!

Iemand het my egter oor hierdie saak gevra en ek het daaroor gebid en ek deel met jou hoe ek dit verstaan met die lig tot my beskikking:

Volgens my groot held Paulus, weet hy van ‘n derde Hemel. Dit staan so in die Woord en as dit in die Woord geskryf staan, is dit goed genoeg vir my:

2KOR 12:2   “… is hy weggeruk tot in die derde hemel.”

Nou, as daar ‘n derde Hemel is, is dit net logies dat daar ten minste ‘n tweede en ‘n eerste Hemel moet wees.

Nou gaan daar seker ‘n paar mense wees wat op die minste, hulle wenkbroue gaan lig.
Ek glo nie ons gaan almal presies gelyk in die Hemel wees nie. Of om dit anders te stel, ek glo nie ons gaan almal dieselfde hê om die ewigheid mee deur te bring nie. Met ander woorde, as jy dit afsny tot op die been – Ons gaan nie almal op presies dieselfde manier die ewigheid in die Hemel deurbring nie.

Laat ek verduidelik.

Jesus sê:

OPB 22:11  “Wie aanhou om kwaad te doen, moet nog meer kwaad doen en wie vuil is, moet vuil bly, maar wie reg optree, moet voortgaan om reg te doen, en wie aan God toegewys is, moet ook verder heilig bly.
OPB 22:12  Jesus sê:  “Kyk Ek kom gou!  My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het.
OPB 22:13  Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.”

So, Jesus kom met Sy loon, om die mens, dié wat gered en dié wat nie gered is nie, te beloon.

Dan kom my groot held Paulus en verduidelik die loon van Jesus aan Sy kinders as volg, wanneer hy skryf:

1KOR 3:11  “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus.
1KOR 3:12  As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik, of silwer, of edelstene of hout of hooi of stoppels.
1KOR 3:13  Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak.  Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou. 
1KOR 3:14  Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word. 
1KOR 3:15  Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word.  Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ‘n brand gered word.” 

Sommige geredde mense se lewens sal, om dit so te stel, ons Here se noukeurige ondersoek wat soos ‘n verterende vuur sal wees, soos goud, silwer en kosbare stene deurstaan en daarvolgens sal ons loon ontvang en die ewige lewe in die Hemel deurbring.

Sommige geredde mense se lewens sal, om dit so te stel, ons Here se noukeurige ondersoek wat soos ‘n verterende vuur sal wees, soos hout, hooi en stoppels, nie deurstaan nie en daarvolgens sal ons die ewigheid in die hemel deurbring.

So, laat ons nie dit wat Jesus op Golgota vir ons gedoen het ligtelik opneem nie.

Ja, met dit wat jy tot hier toe gelees het, veral, 1KOR 3:11-15, laat ons onthou:

HEB 12:28  “Daarom moet ons – wat bevoorreg is om hierdie onwankelbare koninkryk te ontvang – dankbaar wees, en ons dankbaarheid daarin laat blyk dat ons God gelukkig maak deur Hom met eerbied en ontsag te dien.

HEB 12:29  Want daar staan ook:  “Ons God is ‘n verterende vuur.”

By geleentheid verduidelik Jesus deur ‘n gelykenis hoe die uitdeling van Sy loon aan Sy kinders en Sy straf aan Sy vyande by Sy koms gaan werk en na my mening sien ons hier ‘n voorbeeld van Jesus se regverdige optrede eendag teenoor Sy vyande, met ander woorde die ongeredde, asook ‘n voorbeeld van Jesus se regverdige optrede eendag teenoor Sy volgelinge.

Ek gaan my kommentaar in dit wat Jesus vertel uitlig in groen met “(  ).”

LUK 19:12  “Jesus het gesê:  “’n Sekere man van hoë afkoms het na ‘n afgeleë landgebied vertrek om ‘n koningskap te bekom en dan weer terug te kom.
LUK 19:13  Hy het sy tien slawe geroep (almal wat al ooit die Evangelie van Jesus gehoor het) en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Gaan doen besigheid daarmee totdat ek kom.’
LUK 19:14  Sy landgenote (die ongeredde mense) het hom egter gehaat en ‘n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ’Ons wil nie hierdie man as koning oor ons hê nie.’
LUK 19:15  By sy terugkoms, nadat hy die koningskap ontvang het, het hy hierdie slawe aan wie hy die geld gegee het, geroep met die doel om agter te kom watter wins hulle gemaak het.
LUK 19:16  Die eerste het aangetree (‘n geredde mens) en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het ‘n wins van tien muntstukke opgelewer.’
LUK 19:17  Sy reaksie was:  ‘Goed gedoen, goeie slaaf;  omdat jy in die geringste getrou was, kry jy nou beheer oor tien stede.’
LUK 19:18  Toe kom die tweede slaaf (‘n geredde mens) en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’
LUK 19:19  Aan hierdie slaaf sê hy toe: ‘Jy kry beheer oor vyf stede.’
LUK 19:20  Nog een het gekom (‘n geredde mens) en gesê: ‘Meneer kyk, hier is u muntstuk. Ek het dit in ‘n doek gaan wegsteek.
LUK 19:21  Ek was bang vir u omdat u ‘n hardvogtige besigheidsman is; U eis wat u nie belê het nie, en oes waar u nie gesaai het nie.’
LUK 19:22  Hy sê vir hom:  ‘Uit jou eie mond oordeel ek jou nou.  Jy is ‘n slegte slaaf! Jy was deeglik daarvan bewus dat ek ‘n hardvogtige man is wat opvra wat ek nie belê het nie, en oes waar ek nie gesaai het nie.
LUK 19:23  Waarom het jy nie dan maar my geld in ‘n bank belê nie? Dan sou ek dit met rente by my terugkeer kon getrek het.’
LUK 19:24  Hy het toe aan die omstanders die opdrag gegee:  ‘Vat die muntstuk van hom af weg, en gee dit aan die een wat die tien muntstukke het.’
LUK 19:25  Hulle antwoord hom:  ‘Meneer, hy het dan alreeds tien muntstukke.’
LUK 19:26  Ek sê vir julle:  ‘Aan elkeen wat het, sal gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook weggevat word wat hy besit. (die hout, hooi en stoppels).
LUK 19:27  En daardie mense wat teen my vyandig was, (die ongeredde mense wat nie iets met Jesus te doen wou gehad het nie) wat nie wou hê dat ek koning oor hulle moet wees nie, bring hulle hier en maak hulle hier voor my oë dood.”  (Laat hulle vir ewig in die hel ‘n verskriklike dood sterf).

Nou – om terug te kom na die verskillende Hemele, of dan as jy wil,  vlakke van Hemele.

Ek weet nie hoe dit werk nie en dink ook nie eintlik veel daaroor nie. Vir my is dit genoeg dat ek lees wat ons Here deur die man aan wie Hy die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het, laat skryf het:

2KOR 12:2  “Ek ken ‘n man wat in ‘n hegte verhouding met Christus staan.  Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel.  Of dit in die liggaam was of buite die liggaam, weet ek nie, maar God weet.
2KOR 12:3  En ek weet ook dat hierdie man – of dit in die liggaam was of buite die liggaam, weet ek nie, God weet –
2KOR 12:4  weggeruk is na die Paradys toe, en dat hy daar dinge gehoor het wat so verhewe is dat dit vir ‘n mens onmoontlik is om dit in woorde uit te druk.”

As daar ‘n derde Hemel is, dan moet daar ten minste ’n tweede en ‘n eerste Hemel wees.

Ek weet ook, soos ek die Woord verstaan, dat ek dalk nie dieselfde loon as jy gaan ontvang nie, maar wat ook al gebeur, jy en ek gaan by JESUS wees.

So my vriendin/vriend.

As dinge dalk nie altyd gaan soos dit met mense om jou gaan nie, of as jy vir die saak van ons Here ly – onthou dan:

MAT 5:11  “Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle My dissipels is.
MAT 5:12  Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon.  Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg”

Kom jy en ek lewe só dat ons voor ons uittrede uit hierdie lewe, sal kan sê:

2TIM 4:7  “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.
2TIM 4:8  En nou wat is die prys vir my:  die lourierkrans van geregtigheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van Sy wederkoms.  En dié prys is nie net vir my nie, maar vir almal wat gretig uitsien na Sy heerlike verskyning.”

Luister geredde kind van God –

Laat ons nie op ons louere rus en dalk voor Jesus verskyn met niks, of hout, hooi of stoppels, wat ook uiteindelik niks sal wees nie. Ek sluit af met hierdie woorde van Jesus aan jou en my:

OPB 3:11  “Ek kom gou;  hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie.”

Ander dagstukkies wat ek deur die genade van ons Here oor die Hemel geskryf het, waarin jy dalk sou belangstel en wat ek met die grootste liefde aan jou op aanvraag sal stuur is:

  • Die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.
  • Het diere siele en kan hulle Hemel toe gaan?
  • Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel.
  • Sal ons in die Hemel mekaar herken?
  • Want aan sulkes behoort die koninkryk van die Hemele.

                 
Groete,
Sakkie