DIE DIABOLIESE BEWYS VAN DIE BESTAAN VAN GOD

DIE DIABOLIESE BEWYS VAN DIE BESTAAN VAN GOD

Sakkie Parsons

Ek het gister iets gelees, wat my gedagtes terug geneem het,na iets wat ek op ’n Bybel kursus geleer het.
Ek het al baie verskillende verduidelikings gehoor wanneer iemand die bestaan van God wil verduidelik en deur die jare het baie van die verduidelikings weer en weer hul verskyning gemaak. 

Dié een egter het ek net een keer in my lewe teëgekom en dit het ‘n groot indruk op my gemaak  en ek wil dit nou met jou deel
Dit word die diaboliese bewys van die bestaan van God genoem en dit gaan so:

Veronderstel ek sou met iemand praat wat nie in die bestaan van God glo nie, dan sal ek die bestaan van God as volg vir hom kan bewys:
Die hele skepping, of as jy dan wil , die hele heelal, bestaan uit teenoorgesteldes.  Ek gee graag ‘n paar voorbeelde:
Jy kry, lig en donker.
Jy kry, op en af.
Jy kry, soet en bitter.
Jy kry, warm en koud.
Jy kry, hard en sag.
Jy kry, liefde en haat.
Jy kry, hartseer en vrolik.
Jy kry, mooi en lelik.
Jy kry, somer en winter.
‘n Mens kan tot vervelens so aangaan.

Nou wil ek ‘n vraag vra:
Wat gebeur met ‘n man, wat net so normaal soos enige ander man, byvoorbeeld ek is?  Wat ‘n 6 maande oue baba verkrag.  ‘n Normale man soos byvoorbeeld ek, kan nie om my lewe te red dink dat ‘n mens seksuele bevrediging daaruit kan kry nie. Tog is daar mans wat so iets sal doen.
Wat laat ‘n vrou haar pap baba lewendig in ‘n put toilet gooi?

Ek het hier net twee van die menigte afgryslike dade genoem wat ons in die afgelope tyd van gehoor het.

As jy gaan sit en met die mense gesels, lyk hulle normaal, soos ek en jy.  Op die oog af sal baie van die mense, so sê hulle vir my, selfs lyk of hul ‘n beter tipe is as ek en jy.  Tog bewys hul dade dat iets boos van hulle besit geneem het, of as jy dit dan anders wil stel, dat daar iets baie verkeerd in hul denke gestalte gekry het.
Noem dit net wat jy wil, om ‘n ou cliché  te gebruik, ons is mos ‘n demokrasie.
Ek noem dit die werke van satan.  Met ander woorde ek sê, dat satan van so iemand se denke besit geneem het en hom of haar dan dryf om te doen wat hulle doen.

Vir alles is daar mos ‘n teenoorgestelde.

Ons hoor van mense wat hul lewens waag om ander mense se lewens te red.
Ons hoor van mense wat hul self tekort doen om ander te help.
Laat maar net jou gedagtes gaan en jy sal baie gou aan iemand dink wat iets moois, of goeds gedoen het.  Dalk was die laaste persoon wat jy van weet wat iets goed vir iemand anders gedoen het nog jyself.

Dit is die teenoorgestelde van die bose wat jou en my en ander mense dryf om goed te doen partykeer selfs ten koste van ons self.
Ek weet daar is mense wat allerhande name vir daardie dryfkrag in jou en my gee.
Ek weet egter verseker dat dit die Heilige Gees van God is.

As mense glo dat boosheid van ‘n mens kan besit neem, moet hulle ook glo dat dit wat ‘n mens die teenoorgestelde laat doen, iets goeds moet wees.
Ek noem daardie teenoorgestelde van daardie bose, want die hele skepping of dan heelal het ‘n teenoorgestelde, en vir my is die teenoorgestelde van die bose; God.

Ek het nou vir jou vertel na die beste van my vermoë soos ek dit wat ek omtrent 47 jaar gelede gehoor het.  Ek wil nou afsluit met iets wat by my op gekom het terwyl ek hier sit en skryf:

Die een kom in die tuin na die mens en lieg vir hom en die mens luister na hom en al die sonde soos ek en jy dit nou ken kom die wêreld in en die man en sy vrou het gesterf.
 
GENESIS 3
Die slang was listiger as al die diere wat die HERE God gemaak het.  “Is dit regtig so? “ vra hy vir die vrou.  “Het God regtig gesê julle mag niks van die vrugte in die tuin eet nie?” 2”Natuurlik mag ons van die vrugte eet,” sê die vrou.  3”Dis net die vrugte van die boom in die middel van die tuin wat ons nie mag eet nie.  God het gesê ons mag dit nie eet of selfs daaraan raak nie anders sal ons sterf.”  4”Julle sal nie sterf nie!” sis die slang.  5”God weet dat julle sekere dinge te wete sal kom wanneer julle daarvan eet.  Julle sal dan net soos God alle kennis hê.”  6Dit het die vrou oortuig.  Wanneer sy na die boom kyk, lyk die vrugte mooi en aanloklik, geskik om ‘n mens verstandig en slim te maak.  Sy pluk ‘n vrug, neem ‘n hap, en gee vir haar man by haar;  en hy het ook geëet.

Ek noem daardie leuenaar en bedrieër:  satan.

Die ander Een kom na die aarde en kom hang aan ‘n kruis en sê:

JOHANNES 19 :28
28   Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê:  “Ek is dors.” 29 ‘n Kruik vol suur wyn het daar gestaan.  Die soldate het toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou. 30   Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê:”Dit is nou afgehandel.”  Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.

Ek noem Hom :
My God en Verlosser.
Hy het my en jou so volmaak verlos, dink net daaraan, ons kan nooit weer doodgaan nie.  Dit is onmoontlik.  Soos ek al so baie vir so baie mense gesê het.  Ons gaan een of ander tyd uit hierdie aardse lewe uittree, net om in ‘n baie beter lewe in te tree.

JOHANNES 3 vanaf vers 16:
16“God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.
18 Die persoon wat aan hou om in Hom te glo, word nie veroordeel nie.  Die een wat egter nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.
19Dit is die beslissende vonnis:  die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was boos.
20  Elkeen wat doen wat sleg is, haat die lig en kom nie na die lig toe nie sodat sy dade nie bekend word nie.  21  Wie egter die waarheid beoefen, kom na die lig toe sodat dit sigbaar word dat sy dade in ‘n noue verhouding met God gedoen is.” 

Let op, weer die teenoorgesteldes:
Lig en donker.

Ek weet ‘n mens kan nie met iemand wat nie in God glo nie die Bybel aanhaal nie.  Ek het die Bybel gebruik omdat ek met jou praat. 
Vir iemand wat nie in God glo, met ander woorde ook nie in die Bybel nie, sê ek net:

Jy moet erken ‘n mens doen nie van nature die verskriklike dinge wat mense partykeer aan mekaar doen nie, Dit is iets boos wat van so mens besit neem.  Ek het ‘n naam vir daardie iets boos, ek noem hom satan.

Alles het ‘n teenoorgestelde, ook die bose.  Ek ken die teenoorgestelde van die bose en as jy my kans gee sal ek jou ook voorstel aan die teenoorgestelde van die bose, naamlik God.

Geniet hierdie heerlike dag wat ons Here ons gegee het en soos daardie baie ou koortjie sê:
Wandel in die lig, die Heerlike lig van God.
Jesus is die Lig, die heerlike Lig van God.     

Groete
Sakkie