IS DIE DOOP DEEL VAN DIE EVANGELIE

IS DIE DOOP DEEL VAN DIE EVANGELIE?

Sakkie Parsons

Iemand het vir my ‘n e-pos gestuur, waaruit ek verstaan het, dat daar mense is wat redeneer dat die doop nie eintlik so belangrik is nie en selfs nie as deel van die evangelie kan beskou word nie.

Ek deel hier met jou hoe ek dit verstaan en uitlewe.

Vir my is die doop ‘n baie belangrike deel van die evangelie en ek wil net graag vir jou verduidelik hoe ek dit sien.

Jesus sê:

MAT 28:19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
MAT 28:20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Ek is een van die mense wat die Woord aanvaar soos wat ek dit lees.  Ek sê altyd vir die mense, dat dit miskien is omdat ek nie slim genoeg is om soos so baie mense dinge tussen die lyne te lees nie.

So, om weer terug te kom na die gedeelte wat ek vir jou kwoteer het.
Ek sê ook altyd vir die mense, dat wanneer jy lees wat in die Bybel staan en veral wat Jesus gesê het moet jy met volle aandag lees want dit is God se Woord.

Jy het dan met God persoonlik te doen.

JHN 1:1  Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.  Die Woord was by God,, en die Woord was self God.

As Jesus iets in ‘n sekere volgorde sê, dan is dit vir my presies die volgorde wat Hy wil hê dat ek daarna moet kyk.  Anders gestel dit is dan vir my die volgorde van belangrikheid dat Hy wil hê dat ek daarna moet kyk.

Lees nou weer die gedeelte:

MAT 28:19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. 20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Kyk nou hoe het die dissipels wat meer as drie jaar deur Jesus opgelei was hierdie instruksie geïnterpreteer.

HAN 2:37  Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?”
HAN 2:38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

Die mense het vir Petrus en die ander dissipels gevra wat hulle moet doen en toe Petrus hulle antwoord, soos wat hy geantwoord het, het nie een van die ander dissipels hom weerspreek nie.

‘n Ander interessante ding wat vir my by die doop aansluit, is tensy ek êrens ‘n geval miskyk, het elke persoon wat Jesus ooit na Hom geroep het, dit in die openbaar gedoen. 

Daarom is dit vir my deel van die korrekte manier van die doop, dat ek in die openbaar op Jesus se roepstem reageer wanneer ek my laat doop.
Nou sê ek natuurlik nie dat mense wat dit anders doen in die hel gaan beland nie.  Natuurlik nie, daarvoor dien ek ‘n te liefdevolle God maar die beste manier hoe ek kan verduidelik hoe ek God se optrede sien wat hierdie en ander geloofsake aanbetref, is om maar soos so baie in die verlede, my groot held Paulus te kwoteer.

1KOR 3:11-15
11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat alreeds gelê is nie, – Jesus Christus.
12  As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik, of silwer, of edelstene of hout of hooi of stoppels.
13  Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak.  Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.
14  Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.
15  Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word.  Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ‘n brand gered word.

Hoe nader ek volgens die Woord leef, hoe groter my beloning – want hoe meer eer ek my God.

Die doop, so lyk dit vir my is só ‘n kardinale deel van die evangelie, dat jy selfs na jou bekering op ‘n verkeerde manier gedoop kan word, wat dan reg gestel moet word.

HAN 19:3-5
3 “Met watter doop is julle dan gedoop?”  het hy gevra.  Hulle het geantwoord:  “Met die doop van Johannes.” 
4 Paulus sê toe:  “Johannes se doop was ’n bevestiging dat ‘n mens jou van jou sonde  bekeer het tot God.  Johannes het self vir die volk gesê hulle moet in Jesus glo, dié Een wat hy gesê het ná hom kom.”
5 Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop.

Onthou nou, dat Paulus hulle nie gedoop het omdat hy hulle tot bekering gelei het nie.  Hulle het reeds tot bekering gekom voordat Paulus hulle ontmoet het:

HAND 19:4  Paulus sê toe:  “Johannes se doop was ’n bevestiging dat ‘n mens jou van jou sonde bekeer het tot God.  Johannes het self vir die volk gesê hulle moet in Jesus glo, dié Een wat hy gesê het ná hom kom.” (Johannes het die doop van bekering gedoop.)

Die doop was vir Paulus volgens die leiding wat hy gehad het, só belangrik dat hy hulle oor-gedoop het en nou soos ek dit sien, kom ons Here en verseël dit wat Paulus gedoen het.

HAN 19:5-6
5 Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop.
6 Toe Paulus sy hande op hulle sit, het die Heilige Gees op hulle gekom en hulle het in ander tale gepraat en geprofeteer. (Of hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het die woord van God verkondig)

Om dan nou net weer op te som hoe ek dit sien:

Niemand wie Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker sal hel toe gaan bloot omdat hy/sy nie gedoop is nie.

Tog:

Ek dink dat die doop ’n baie, baie belangrike deel van die Evangelie is.

Vir my is die doop ‘n mededeling/verklaring/stelling in die openbaar aan alle mense en geeste en magte:

“In hierdie voorstelling van die begrafnis van my ou mens en die opstanding van die nuwe mens, getuig ek:

“Ek glo, dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het.

Ek glo dat Hy begrawe is.

Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het.

Ek het hierdie Jesus, God wat mens geword het, aangeneem as my Verlosser en Saligmaker.

Die ou Sakkie is nou dood.

Ek is nou ‘n nuwe bloedgewaste kind van God, ‘n dissipel van Jesus.”

ROM 6:4-8 
4 Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood.  En nou kan ons, net soos Christus wat deur ‘n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ‘n totaal nuwe lewe leef.
5  Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons ook saam met Hom opgewek word tot ‘n nuwe lewe.
6  Ons weet dat, ons ou sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.
7  Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde.
8  Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan Sy lewe.

 

Groete,
Sakkie