DIE DOOP IS ‘N BAIE BELANGRIKE SAKRAMENT IN DIE EVANGELIE VAN JESUS CHRISTUS

DIE DOOP IS ‘N BAIE BELANGRIKE SAKRAMENT IN DIE EVANGELIE VAN JESUS CHRISTUS

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:
“Een vraag, asb?
Moet ons gedoop wees om gered te wees
Dankie”

Laat ek dan begin deur te sê:
Eerstens moet ons besef dat die doop nie die sleutel na die hemel is nie. Jy gaan ook nie hel toe omdat jy nie gedoop is, of omdat jy verkeerd gedoop is  nie.
Die bepalende faktor, om dit so te stel, oor wat jou eindbestemming gaan wees, is of jy werklik Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker. Met ander woorde, is Jesus wérklik Here in jou lewe. Ek gee een voorbeeld uit die Woord:

JHN 3:16  “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”

Dit gesê, wil ek dit duidelik stel, dat vir my is die doop een van die belangrikste dele van die evangelie van Jesus Christus maar ek kom netnou daar by.
Kom ek wys jou eers iets oor die wonderlike grootse groot liefdevolle genade van ons Here wat hierdie saak aanbetref.
Ons lees:

LUK 23:42 Hy het verder gesê: “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”
LUK 23:43 Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”

Hier is nou ‘n paar feite aangaande hierdie moordenaar aan die kruis langs Jesus wat ek net weer aan jou wil uitwys.
Eerstens, omdat hierdie skrywe oor die doop en of die doop ons red gaan.
Die man was nie gedoop nie.
Daar is egter nog ‘n op die oog af, of dan menslike gesproke nog ‘n baie belangrike aspek van die evangelie van Jesus wat by hom ontbreek het.
Hy het ook nie sy sonde bely nie.  Hy het nie eens net ekskuus of so iets gesê nie.  Nee, hy het net gesê:

… “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”

Tog is hy vandag in die Hemel, want Jesus het sy hart gesien en Jesus het geantwoord:
“Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”

Jy sien – Jesus het die opregte berou in die man se hart gesien en dan natuurlik ook die omstandighede waarin die man op daardie oomblik was en daarom hoor die man:
… “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”

Dink maar ook aan al die mense wat jy in die hemel gaan sien, wat op hulle sterfbed of op die slagveld, of in die dodesel tot bekering gekom het.
Ek deel met jou nog een geval waar ons duidelik uit die Woord sien, dat mense gered was sonder dat hulle gedoop was en jy kan self die hele geskiedenis gaan lees van hierdie geval en watter, om dit so te stel, moeite ons Here gedoen het, om die evangelie by hulle te kry daar vanaf  HAN 10:1  maar ek kwoteer net vir jou van af vers 44.
Ons Here het Petrus nou na die mense gestuur en hy het die evangelie aan hulle verkondig en dan lees ons:

HAN 10:44-48 
44 Terwyl Petrus nog hierdie dinge sê, het die Heilige Gees op almal gekom wat sy boodskap gehoor het.
45 Die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die Heilige Gees ook op nie-Jode as geskenk uitgestort is.
46 Hulle het geen twyfel daaroor gehad nie, want hulle het hulle ongewone tale hoor praat, en hoe hulle God se grootheid besing.
      Petrus het toe gesê:
47 “Wat kan verhinder dat hulle met water gedoop word noudat hulle net soos ons die Heilige Gees ontvang het?”
48 Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop word. Daarna het hulle hom gevra om ’n paar dae daar te bly.

Dus –
Nee, die doop red ons nie maar die doop is ‘n belangrike sakrament in die evangelie van Jesus Christus.  
Vir my is die doop ‘n mededeling/verklaring/stelling in die openbaar aan alle mense en geeste en magte:
“In hierdie voorstelling van die begrafnis van my ou mens en die opstanding van die nuwe mens, getuig ek:
“Ek glo, dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het.
Ek glo dat Hy begrawe is.
Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het.
Ek het hierdie Jesus, God wat mens geword het, aangeneem as my Verlosser en Saligmaker. 
Die ou Sakkie is nou dood. 
Ek is nou ‘n nuwe bloedgewaste kind van God, ‘n dissipel van Jesus.”

ROM 6:4-8 
4 Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood.  En nou kan ons, net soos Christus wat deur ‘n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ‘n totaal nuwe lewe leef.
5  Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons ook saam met Hom opgewek word tot ‘n nuwe lewe.
6  Ons weet dat, ons ou sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.
7  Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde.
8  Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan Sy lewe.

Kom ek wys jou gou hoe ‘n belangrike deel van Jesus se evangelie is my doop waaroor ek en net ek kan besluit of ek my wil laat doop of nie.
Jesus, God wat mens geword het, wat nooit iets sal sê net om iets te sê nie en wie, as Hy iets op ‘n sekere wyse en of volgorde sê, ons baie deeglik van dit wat Hy gesê het moet kennis neem.  Hy gee jou en my, ons wie kinders van God is, die volgende opdrag en dan is Hy baie spesifiek in watter volgorde ons die opdrag moet uitvoer:

MAT 28:19-20
19 Gaan dan, (en dan eerstens) maak al die nasies my dissipels,
      en (dan daarna, tweedens) doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
20  (dan derdens, maak hulle geestelik groot) Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het.
      En weet vir seker: (terwyl julle dit doen) Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Nou is daar mense wat Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker en hulle doen min of selfs niks wat die opdrag in MAT 28:19 aanbetref nie en nie om ‘n rede waar dit vir hulle moeilik gemaak word nie, sommer omdat dit nou maar wat hulle aanbetref, dit nou maar is soos wat dit is.
Ek wil net nog iets hier ten slotte baie duidelik stel.
Ten spyte van wat sommige mense verkondig, gaan ons – en nou praat ek net van ons Here se kinders – nie dieselfde, om dit so te stel, ontvangs in die hemel hê nie.  Gewoon omdat ons nie almal dieselfde op die enigste fondament waarop gebou kan word bou nie.

1KOR 3:11-15
11 Want niemand kan ’n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie –
      Jesus Christus.
12  As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels.
13  Daar kom egter ’n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.
14  Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.
15  Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ’n brand gered word.

Ek het Jesus Christus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker en ek gaan hemel toe maar ek bepaal deur my lewe hier op aarde, watter soort ontvangs en beloning ek daar gaan ontvang
So kind van God.  Kyk na jou wyse van lewe en dan met dit wat jy nou net gelees het onthou jy ook wat Jesus self in hierdie verband sê:

OPB 22:12  Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon    volgens wat hulle gedoen het.
OPB 22:13 Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.”

Wat ek nou tot hier geskryf het is natuurlik net op ons wie Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker van toepassing.
Vir die mense wie Jesus nié wou aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker nie, geld daar ‘n heel ander sekere wete.
MAT 3:12 Sy oesvurk is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak. Hy sal sy koring (dit is ons almal wat Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker) in sy skuur bymekaarmaak, maar die kaf (dit is hulle almal wat Jesus nie wou aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker nie) sal Hy in die vuur verbrand wat nooit geblus sal word nie.”

Ander vrae en antwoorde oor die doop wat ek met groot graagte op jou bestelling kan stuur is:
1. Is die doop deel van die Evangelie?
2. Ek is klein gedoop, moet ek weer gedoop word?
3. Moet ek my weer laat doop?
4. Oor die doop

Groete,
Sakkie